By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Wie is Dawie Roodt?

Dawie Roodt het byna geen bekendstelling nodig nie of ten minste nie in die finansiële wêreld nie. Hy is direkteur en hoof-ekonoom van die Efficient Group, anker-aanbieder van Ontbytsake sedert die begin van die program hier op kykNET en ‘n welbekende kenner op die gebied van regerings-finansies en monetêre beleidsake.

Hy was voorheen ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwebank, ‘n posisie wat hy vir nege jaar beklee het. Dawie het verder bekendheid verwerf as Ekonomiese Redakteur van Finance Week en Finweek – twee gewilde finansiële tydskrifte in Suid-Afrika.

Agtergrond en Loopbaan

Sy wortels is diep in die Laeveld begrawe. Alhoewel sy lewe in Warmbad begin het, was die meerderheid van sy jongmens-lewe in Tzaneen gegrond. Hy het sy BCom en BCom Honneurs grade deur Unisa tydens sy diensplig voltooi. Hy het verder in Ekonomie gestudeer en sy Meestersgraad met lof aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou University of Johannesburg), verwerf.

Dawie het sy loopbaan as rekenmeester by AVBOB begin en het daarna as interne ouditeur by Trustbank gewerk. Vandaar is hy na die Reserwebank waar hy die posisie van ekonoom beklee het en dan was hy ook, soos voorheen genoem, ekonomiese redakteur.

Tans is hy beide hoof-ekonoom by die aandeel-genoteerde maatskappy, Efficient Group, waarvan hy ook ‘n stigterslid is en die bekende gesig hier op Ontbytsake waar hy sy kennis oor ekonomiese sake van die dag deel, onderhoude met bekendes voer en moeilike ekonomiese begrippe meer verstaanbaar maak.

Hy is nie ‘n man wat vir uitdagings terugstaan nie en het al met verskeie geleenthede selfs die hoogste gesag aangevat oor beleide wat die land negatief raak.

Avontuur-liefhebber

Dawie is ‘n man wat die lewe voluit geniet met ‘n avontuurlustige streep. Hy is ‘n ervare paromotorvlieënier en was deel van die Suid-Afrikaanse kampioenspan wat Suid-Afrika in die paramotor Wêreldkampioenskap in 2007 in Sjina verteenwoordig het.

Man agter die skerms

Dawie is met Marina, ‘n pragtige veearts uit die verre Rusland, getroud en het onlangs pa van tweeling dogtertjies met die name van Daria en Yulia geword. Hy het ook ‘n seun, Kristoff en dogter, Danielle vanuit sy vorige huwelik. Hulle ‘n hegte gesin wat daarvan hou om goed saam te doen.

Grapkas en Kenner by Ontbytsake

As jy sou dink dat mens moet ernstig wees wanneer jy oor ekonomiese sake praat, het jy seker nog nie vir Dawie op Ontbytsake gesien nie. Hy is die aanbieder wat so elke nou en dan humor inbring. Juis omdat die man nie so erg op sy beeld gerig is nie en glad nie bang is om die fokuspunt van die grap te wees nie, laat hy gaste sommer dadelik tuis voel.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site