By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Die Persoon Agter Ontbytsake se Sportnuus

Jan Harm se sportnuus is iets wat jy nie wil misloop as jy ‘n getroue rugbyondersteuner is nie. Dit geld ook vir ander sportsoorte en Jan weet hoe om insae aangaande die sportgebeure op ‘n wyse aan te bied met sy uiters skerp sin vir humor wat selfs die leek sal geniet.

Voor ons ‘n bietjie na die sportnuus kyk is dit dalk ‘n goeie idee om meer van Jan te wete te kom. Hy is in Randburg in Johannesburg gebore en dit is waar hy dan ook steeds bly. Hy het aan RAU studeer in die B.Sc-rigting waarna hy by die Suid-Afrikaanse Brouerye as handelsmerkbemarker werksaam was. As jy hom daaroor sou uitvra, sou hy skertsend daarna verwys as die tydperk toe hy betaal was om bier te drink.

Van bier na televisie: dit het gebeur omdat Jan op ‘n dag by M-Net se kantoor ingestap en daar om ‘n pos aansoek gedoen het. Dit was nie lank nie of hy was ‘n vryskutredigeerder by SuperSport en jy sal hom vandag nog daar aantref.

Hy is ‘n veelsydige mens. Jan het in ‘n stadium vir ‘n oudisie by Ontbytsake ingeloer vir die rol van die weeraanbieder. Sy oorspronklikheid met die oudisie het hom ‘n plek op die span besorg en vandag is hy ook aanbieder van die landbou- en sportnuus. Tussen Jan en Dawie kan jy altyd ‘n tikkie humor verwag, so daar is nie ‘n enkele vervelige oomblik op stel nie.

Natuurlik is dit nie alles net sportnuus vir die Harm-gesin nie. Jan hou van kuier om die vuur, lees, tuinwerk, gholf en bosveldnaweke of wegbreek na die Drakensberge. Hy en Kim het in 2009 die huweliksklokkies laat lui en intussen hulle gesin vergroot met twee pragtige dogtertjies. Sy volle naam is Jan Harm-Schutte maar ons verwys gewoonlik na hom as Jan Harm.

Asof hy nie reeds genoeg talente het nie, kan die man ook nog sing. Met ‘n diep basstem sal hy enigiemand kan betower.

Watter Soort Sportgebeure Dek Hy?

Met sy veelsydige persoonlikheid kan jy verwag dat hy vanaf rugby tot krieket, fietsry en nog meer ewe kundig kan bespreek. As ons aan plaaslike rugby dink, kom die onlangse verwikkelinge van Rynhardt Elstadt wat sy 50ste Stormers-wedstryd gespeel het na vore. Met ‘n Stormer-geskiedenis wat in 2011 begin het is die flank iemand om op die sportveld mee rekening te hou.

Daar is ook die hartseer nuus van die Craven-week Valke-speler wat onlangs aan bloeding op die brein beswyk het. Jean-Jireh Yamwimbi wat vir die Onder 18-span gespeel het, het vermoedelik harsingskudding tydens ‘n skolewedstryd opgedoen.

Jan gee egter nie net die nuus weer nie. Hy bied insig en sy kommentaar is wat kykers voor die kassie vasgenael laat sit. As jy Jan Harm se sportnuus nie wil misloop nie, moet jy Saterdagoggende van 07:30 tot 09:00 voor die televisie inskuif om Ontbytsake op kykNET (DStv-kanaal 144) te volg. As jy dit nie op Saterdae kan maak nie, loer dan Sondagoggende dieselfde tyd in vir ‘n herhaling van die Saterdagprogram. Bly Saterdae op Kanaal 145 van 09:30 tot 11:00 vir sportgebeure ingeskakel.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site