By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Wie was Tim Du Plessis Vóór Ontbytsake?

Tim du Plessis is die aanbieder van nuusgebeure, politieke besprekings en die sake wat Suid-Afrika se ekonomiese en politiese stabiliteit raak. Jy kan hom Saterdagoggende saam met Dawie Roodt op Ontbytsake sien en jy sal gou agterkom dat ‘n hy besonderse insig rakende die politiek het.


Dit behoort nie verbasend te wees nie, aangesien hy hom reeds vroeg in sy lewe toegespits het om met ‘n kritiese blik na die verwikkelinge rondom hom te kyk. Tim is al sedert 1976 in die joernalistiek, nadat hy sy B.A. Kommunikasiekunde aan RAU verwerf het. Hy het direk na afloop van sy studies by die Beeld begin werk. Sy liefde vir kennis het hom gedryf om ook sy Honneursgraad in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch te voltooi.


‘n Groot deel van sy joernalistieke loopbaan was by Beeld, waar hy ook politieke korrespondent was. Sy loopbaan was gekenmerk deur konstante vordering en met topposte soos redakteur van die Sondagkoerant Rappport en Citizen op sy kerfstok het hy naam gemaak as iemand wat nie doekies omdraai oor die politiek nie. Die meeste mense studeer, gaan werk en vorder stelselmatig in hulle beroepe, maar nie Tim du Plessis nie. Hy was nooit tevrede met net sy graad nie. Hy wou homself verder bekwaam en het ook aan die Universiteit van die VSA gestudeer.


Tim het ná baie jare se diens die koerantwese vir die televisie verruil toe hy uit sy pos by Media 24 as hoof van die Afrikaanse dagblaaie getree het. Hy het sedertien ‘n baie gewilde televisiepersoonlikheid op kykNet geword waar sy hoofrol die bespreking van politieke verwikkelinge in die land is. Tim is ook Voorsitter van die Nieman Fund Trust of Southern Africa en ‘n lid van die SA Nasionale Redaksieforum.


Hy is trots op die rol wat Suid-Afrikaanse koerante in die tagtigs gespeel het toe hy ‘n joernalis was en ook oor die oorgangsfase berig het. Die Afrikaanse koerante het volgens hom ‘n belangrike rol vertolk om die lesers in te lig en voor te berei rakende die politieke veranderinge wat op pad was. Die Afrikaanse joernaliste het die standpunt gehuldig dat verandering nie net onafwendbaar was nie, maar ook iets waarna uitgesien moes word.


Wat sy tydperk as redakteur van die Citizen betref, het hy gehoop om soveel moontlik hulpbronne toe te wy aan die bou van ‘n goeie redaksiespan en om die koerant vanaf Johannesburg te bestuur. Hy  wou dit die Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse koerant USA Today maak. Hy was ongeveer 15 maande by die Citizen. Hy was Beeld se redakteur vir drie jaar en Rapport s’n vir agt jaar ná sy tyd by die Citzen.


Die Rapport was vir hom ‘n groot uitdaging omdat sy opleiding op dagblaaie gerig was en dit die eerste keer sou wees dat hy aan die stuur sou wees van ‘n Sondagblad. Hoewel Rapport en Beeld albei koerante is, het hulle twee verskillende benaderinge. Tim het egter die uitdaging geniet om op ‘n Dinsdag met ‘n skoon blad te begin en teen die naweek die voltooiing van ‘n propvol nuusblad te sien ontwikkel.


Sy jarelange joernalistieke en redaksionele blootstelling is wat hom so waardevol vir die Ontbytsakespan maak. Jy kan altyd op Tim reken om die dinge wat wérklik saakmaak met insig te bespreek.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site