By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Wie is Seline van der Wat?

As jy ‘n ondersteuner van MasterChef SA is, dan sal jy beslis die talentvolle Seline van der Wat onthou. Hoewel sy ‘n amateur-sjef met ‘n ingenieursagtergrond is, staan die pragtige aanbieder by Ontbytsake nie ‘n enkele tree agteruit vir groot name in die kosbedryf nie. Sy weet hoe om met kos te betower en haar sprankelende persoonlikheid maak dit sommer ekstra lekker om elke Saterdag voor die kassie in te skuif om kookinspirasie te kry.


Seline was voorheen meer ágter die kameras toe sy saam met Jaco Pieterse aan sy kort films gewerk het. Sy is van nature ‘n bondel energie met skeppendheid wat selfs Picasso sou besiel en is baie gemaklik voor die kamera. Die kombinasie van ’n ingenieur se presiesheid en beplanning, tesame met haar skeppende kant, beteken dat sy altyd met iets nuuts vorendag kom.


Sy kry haar inspirasie vir die smaaklike etes wat sy op Ontbytsake voorberei in kostydskrifte. As ‘n “foodie” en iemand wat graag die nuutste modes dophou, slaag Van der Wat daarin om die ingewikkeldste disse maklik te laat lyk en die voorbereiding daarvan uitvoerbaar te maak, selfs al is jy nog nuut in die kombuis. Haar natuurlike insig rakende dit wat lekker smaak en mooi lyk lei daartoe dat sy ook baie eenvoudige kosse in koningsgeregte kan omskep sonder dat dit soos enige inspanning lyk. As jy dalk nou effe bang is omdat jy dink jy sal nie haar resepte tot volmaaktheid kan uitvoer nie, kan jy gerus wees. Elke resep is ontwikkel en getoets om dit vir beide die gewone en ervare kok ewe maklik en aangenaam te maak om die gereg tot sy reg te laat kom.



Seline van der Wat en haar suster, Leandri, was oorspronklik gaste op Ontbytsake en het die produksiespan só beïndruk dat hulle haar ‘n week later vir ‘n oudisie genooi het. Sy is as die nuwe sjef van Ontbytsake aangestel en het sommer gou diep in die harte van kykers ingekruip. Seline en haar suster was beide onder die topfinaliste in die Masterchef SA-program en daarom kan kykers gerus wees dat sy weet wat sy doen – dis immers goed bewys.


Seline geniet haar aanbiederposisie baie, want volgens haar ontmoet sy wonderlike mense wat lief vir kosmaak is en ook baie mense wat liefdadigheidswerk doen. Deesdae is sy ook bekend vir haar restaurantprojek genaamd Forager wat verwys na iemand wat kos in die veld soek, insluitende sade en sampioene. Die konsep behels die oorname van ‘n restaurant vir een aand en die verandering van die spyskaart onder haar leiding. Mense word uitgenooi om die geregte te kom proe en dit is daarop gemik om mense ‘n waardering vir kos en die voorbereiding daarvan te laat ontwikkel.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site