By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Eloise Cupido is ’n Veelsydige en Talentvolle Mens

Eloise Cupido is een van die ankeraanbieders van Ontbytsake. Terwyl bekende ekonoom Dawie Roodt sy kennis en insig aangaande ekonomiese verwikkelinge in die land deel, lei Eloise die tempo van die program.

Sy is ook ’n bekende Suid-Afrikaanse aktrise, aanbieder, danseres, sanger en stemkunstenaar. Haar eerste televisierol was as Bernadine in die komedie Vetkoekpaleis meer as 16 jaar gelede. Sedertdien het sy verskeie rolle vertolk in programme soos die reeks Die Vierde Kabinet, Generations (waarin sy Lillian gespeel het), Arsenaal (waarin sy Gilian was), ’n aksierol in It Rained Last Night en sy was ’n byspeler in Kompleks Seisoen 2, om maar net enkeles te noem.

Eloise het baie goeie ervaring as dit by programaanbieding kom. Sy is welbekend vir haar aanbieding van die Afrikaanse musiekprogram Belboks wat op SABC2 te siene was. Sy het die Geraas Musiektoekennings van 2003 aangebied, sowel as Athletics Alive, Kwêla hier op kykNET en Lyfkuns. Cupido het ook in die vollengte film Hijack Stories in 2000, die film The Long Run, Africa in 1999, en Doomsday in 2008 gespeel. Daarmee saam het sy rolle vertolk in televisiefilms soos König Otto in 2000 en Shark Attack in 1999.

Of dit nou film, televisie of teater is, Eloise Cupido skep ’n grootse indruk. Sy het onder andere in die teaterproduksies Antjie Somers, Aspoestertjie en Boogie Nights ook gespeel. Die lys is ver van volledig af, want haar veelsydigheid as televise-aanbieder, skrywer, sanger en aktrise beteken dat Eloise altyd besig is.

Sy is ’n Suid-Afrikaner in Montagu gebore en met haar moedertaal Afrikaans is sy een van ons plaaslike juwele. Sy is egter ook Engels, Frans en Duits magtig en met haar graad in BA Drama van die Universiteit van Pretoria het sy beslis hard met haar talente gewerk. Haar bekwaamheid in Duits het ook beteken dat sy internasionale rolle kon aanvaar soos die Duitse films van König Otto en Summer in New England. Maar hierdie pragtige aanbieder is ook ’n bobaaskomediant en het rolle in programme soos Colour TV en Spekskieters vertolk. Eloise is gevra om die aankondigingseremonie vir die Winter Olimpiese Spele in 2018 aan te bied saam met Jonathan Edwards.

Haar lewe lees amper soos ‘n sprokiesverhaal. Sy het haar man as ‘n medepassasier op ’n vliegtuig ontmoet. Hulle is in ’n wildsplaasherberg getroud. Chris Wilkinson is beslis nie iemand wat in die sosiale of televisiekollig wil wees nie. Hy is meer privaat maar sal seker gewoond moet raak daaraan om aandag te kry. Hy is oorspronklik van Nieu-Seeland en doen mineraalprospektering-konsultasiewerk. So romanties as kan kom, het hy egter Eloise bo-op Tafelberg gevra om sy bruid te word. Soos die perfekte roman moet werk is Eloise ook nou verwagtend en hoop ons almal om binnekort die nuwe kleinding in die wêreld welkom te kan heet.

En waar kan jy nog baie gereeld vir Eloise sien? Natuurlik hier by Ontbytsake! Met soveel ervaring as aktrise en aanbieder kan jy verwag dat Eloise Cupido baie gemaklik voor die kamera is. En dis hierdie gemak wat dit ook vir die kyker so aangenaam maak om Ontbytsake te volg.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site