By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Kundige Raad om Jou Geldsake te Laat Klop

Hoe moet jy vir jou oudag beplan om die beste inkomste verseker? Is dit beter om ’n pakket te neem en die geld te gebruik om ’n besigheid te begin of is dit beter om die geld van jou pensioen te herbelê sodat jy later maandelikse inkomste daaruit kan verdien? Hierdie en baie ander vrae oor finansiële beplanning word deur Willem Basson, uitvoerende hoof van verspreiding by Efficient Advise, op Saterdagoggende om 07:30 op Ontbytsake gedeel. As jy graag meer wil weet oor hoe om jou persoonlike finansies te bestuur, moet jy dit nie misloop nie.

Willem Basson is iemand wat weet hoe om raad in maklik verstaanbare taal te deel. Hy het onlangs Hendré Scheepers, ’n finansiële beplanner, aan die jong gekontrakteerde spelers as hulle persoonlike finansiële afrigter bekendgestel by die Vrystaatse Cheetah Rugby-unie.

Dit bring ons by die punt van finansiële paraatheid en fiksheid. Sommige van ons spandeer veel meer as wat ons inkomste toelaat. Redes wissel van die voorliefde vir gemak tot onvoorsiene omstandighede wat ons geen keuse laat as om skuld te maak nie. Tog behoort die woord skuld reeds genoeg te wees om ’n mens slaaplose nagte te besorg.

Dink vir ’n oomblik daaraan – as jy nie skuld gehad het nie, sou jy dalk nou op ’n oorsese reis gegaan het. Jy sou nie maand na maand moes sente omdraai nie. Skuld gaan gepaard met rente, en dit is die rente wat mens in die skuld hou of in nog dieper skuld dompel. ’n Groot hoeveelheid Suid-Afrikaners sukkel vandag om hulle skuld af te betaal en is op soek na werkbare oplossings om skuldvry te leef.

Goeie beplanning en baie streng bestuur van ons finansies is vandag nodig om ons finansieel onafhanklik te kan maak. Die vraag is hoe moet ’n mens begroot om steeds die geriewe van die lewe te kan geniet, maandelikse uitgawes te kan dra en voorsiening te kan maak vir die onvoorsiene omstandighede sonder om ons skuldlas te verhoog? Watter soort beleggings bring die beste opbrengs en watter risiko’s moet ’n mens eerder vermy?

Hoe leer jy jou kind van vroeg af om finansieel fiks te bly en wat kan jy doen om jou skuldlas te verminder of heeltemal te laat verdwyn? Is sekwestrasie ’n oplossing? Waarom is kredietkaartskuld so ernstig en is dit belangrik om versekering te hê? Hoe begroot ’n mens vir jou kind se studies? Is dit beter om ’n studielening aan te gaan as om ’n oortrokke fasiliteit te gebruik vir die betaling van die studies? Is ’n oortrokke fasiliteit ooit ’n goeie ding?

Mense se menings verskil en in dieselfde huishouding kan daar verskille ontstaan oor hoe om die finansies te bestuur vir maksimale opbrengs en minimale risiko. Dit is antwoorde op sulke vrae wat Saterdae deur Willem Basson beantwoord word.  Hy bied ook wenke oor hoe om jou geld te spaar en hoe om kostes te sny. Leer meer oor persoonlike finansies en kry raad van kundiges eerder as om na spekulasie te luister.

As jy die program op Saterdagoggend misloop, kan jy ’n heruitsending op Maandag-, Woensdag- of Vrydagoggend om 6-uur kyk.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site