By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Dawie Roodt – Die Ekonoom met Insig

Maak bietjie ’n finansiële dagblad oop en jy sal iewers die naam Dawie Roodt sien. Dit is eenvoudig net omdat hy soveel keer aangehaal word oor ekonomiese en politieke aangeleenthede in die land. As jy enigsins insig aangaande die finansiële beleid wil verkry, wil weet hoekom die petrolprys al weer styg, waarnatoe die land se ekonomie op pad is en wat jy moet doen om die finansiële beleggingswaters te beproef, is Dawie Roodt die man om te raadpleeg.

Gelukkig hoef jy hom nie in die middel van die nag te skakel oor enige van die onderwerpe nie. Hy deel sy kennis en insig vryelik met kykers en gaste op Ontbytsake, die program wat jou ingelig hou en jou ook sommer lekker laat lag.

Maar wie is die man agter die skerms en wat weet ons regtig van die gewilde ekonoom? Hieronder is so paar feite wat dalk handig te pas kan kom in ’n vasvra-bordspeletjie. Hier is ’n interessante kykie in die lewe van Dawie Roodt.

Dawie is die hoofekonoom van die Efficient Group en sy loopbaan sluit indrukwekkende poste in, soos onder meer Ekonoom by die Reserwebank en die Ekonomiese Redakteur van Finweek en Finance Week. As jy wil weet hoekom hy so baie van die ekonomie weet – die man het lank en hard gestudeer en het ’n Meestersgraad in Ekonomie wat hy cum laude verwerf het.

Dawie is ook iemand wat al deur misdaad aangeraak is. Hy en sy gesin is in Julie 2015 in hulle huis deur drie skelms aangeval en as gyselaars aangehou. Dawie se dapper optrede het sy gesinslede gered toe hy die een skurk oorval het. Dawie is egter tydens die onderonsie beseer en moes in die hospitaal behandeling ontvang.

Hy het op grond van die gebeure ’n openbare stelling gemaak waarmee baie Suid-Afrikaners saamgestem het. Hy het onder andere gesê dat ons, ten einde die land te red, daadwerklik iets omtrent die korrupsie en misdaad moet doen. Hy het die stelling gemaak dat aanstellings op grond van meriete gemaak behoort te word en dat daar ’n behoorlike opleidingstelsel ingestel moet word. Hy ook gesê dat daar nie wetgewing in die land mag wees wat werkskepping verhoed nie.

Dawie se insig deel hy op ’n wyse wat die man op die straat kan verstaan. Dit het betrekking op elkeen van ons se lewens en dit is waarom sy aanbieding sulke groot aftrek by Ontbytsake-kykers kry.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site