By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Renette Vosloo – Bobaaskok van Ontbytsake

Sommige mense weet presies wat hulle in die lewe wil hê en van hulle weet dit sommer van vroeg af. Renette Vosloo, die vriendelike, sprankelende kok van Ontbytsake is een so ’n persoon. Jy ken haar op die kassie, het al van haar smulresepte probeer en beveel dit aan vir enigiemand wat lekker wil kook en nog lekkerder wil eet. Maar, wat weet jy presies van Renette Vosloo? Hieronder is ’n paar feite en stories wat jy dalk nie reeds weet nie.

Waar sy woon

Waar anders as die Jakarandastad, Pretoria?

Wanneer het sy die eerste keer die kookgogga gevoel byt?

Renette was skaars elf toe sy besluit het om op ’n bus te klim met ’n inkopielys en net genoeg geld om haar beursie nie leeg te laat lyk nie. Sy wou vir haar ma en dié se vriendinne die verjaarsdagete van haar lewe kook. Die spyskaart was indrukwekkend en het piesang-eend met lemoensous ingesluit. Dit was haar eerste groot kooksukses en sy het dit reg gedoen met handgeskrewe spyskaarte en al.

Wie sy graag sal beïndruk met haar kosmaakvermoë

Niemand anders nie as die Masterchef koning Gordon Ramsay, en dan ook Hunter Kennedy. Sy dink Gordon is iemand wat weet hoe om kos te laat sprankel sonder om dit te kompliseer. Hunter is die ander keuse net omdat hy so ’n oulike woordsmid is as wat Renette ’n ster agter die potte is.

Waar sy oorspronklik vandaan kom

Sy is afkomstig van Middelburg in Mpumalanga waar sy as kind grootgeword het en later ook haar eie restaurant geopen het. Al die goeie dinge het daar in Middelburg begin, want Renette het ook haar man daar ontmoet. Maar voor die Middelburgjare was sy ’n Vrystater en leerling aan die Koornfontein- en Kragveld-laerskole. Sy is vandaar na Hoërskool Hendrina en toe na Middelburg waar sy haar finale skooljare by Hoërskool Middelburg deurgebring het.

Wat is haar man se naam?

Emile is sy regte naam maar sy vriende noem hom Mielie.

Wanneer is hulle getroud?

Hulle het in 1985 die knoop in Middelburg deurgehaak.

Wat was hulle eerste besigheid saam?

Nee, nie ’n bakkery of ’n restaurant nie. Probeer weer... ’n sleutelmakery!

Hoe het die eerste restaurant tot stand gekom?

Renette en Emile het tydens hulle universiteitsjare sommer baie geld op kookboeke gespandeer en lugkastele oor hulle eie restaurant gebou. Die lugkastele sou in 1990 kleur en gestalte kry toe hulle droom bewaarheid is met hul eerste restaurant by die Middelburg Buiteklub.

Nog ’n restaurant?

Wat sou mens anders verwag van iemand wat so ’n passie vir kos het? Renette het later saam met haar suster ’n kabaret-restaurant genaamd Whiskers geopen. Bekende name het daar aangeklop, soos Nataniël en selfs Cutt Glass.

Hoeveel kinders het die egpaar

Drie, en hulle is almal reeds uit die huis.

Wat sy glo mense in Suid-Afrika sommer baie geniet

Renette glo dat boerewors een van die gewildste lekkernye in Suid-Afrika is en iets waaroor almal saam kan gesels.

Wat moet jy doen om ook so lekker te kan kook?

Skakel in by Ontbytsake vir haar kookwenke, resepte, demonstrasies en saamgesels.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site