By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Maklike Kos Maak met Hierdie Kombuiswenke

Of jy nou nuut in die kombuis of ’n ervare kok is, die lekker resepte wat Saterdagoggende by Ontbytsake gedeel word sal jou beïndruk. Maar jy hoef nie notas te maak nie. Geniet die demonstrasie en wenke en dan laai jy die gidse propvol lekker resepte gratis by ons webtuiste af. Gepraat van lekker resepte; soms werk selfs die smaaklikste resepte nie so goed uit nie, meesal omdat ons iets iewers verkeerd gedoen het. Hieronder is enkele wenke om dinge so bietjie vlotter te laat verloop in die kombuis.

Moenie die pan oorvol maak nie

Natuurlik wil jy plek en tyd spaar, maar ’n pan wat tot oorlopens toe vol is beteken dat die vleis nie mooi bruin word nie en dele van die gereg kan dalk nog halfgaar wees omdat die hitte nie oral uitkom nie. As die stukke vleis te naby aan mekaar is, stoom dit eerder as braai. Los omtrent 1,5 cm spasie tussen die vleisstukke.

Maak hoender sag gaar

Hoeveel keer het jy hoender in die pan gebraai en dan gevind dit het so ’n bietjie taai en hard geraak? Die oplossing is om ’n koppie vars suurlemoensap daaroor te gooi voordat jy dit gaarmaak. Dit sal help om die hoender lekker sappig te hou.

Droë kruie is intenser

As jy nie die vars kruie wat in die resep benodig word in jou kombuis het nie, kan jy dit met droë kruie vervang. Onthou net dat droë kruie ’n baie sterker smaak het. Jy moet dus minder gebruik en liefs elke nou en dan die smaak toets doen om seker te maak jy voeg nie te veel by nie.

Verhit die pan voordat jy die olie ingooi

Gewoonlik gooi mense die olyfolie in die pan en stel dan die hitte. As jy egter eers die pan vooraf so ’n bietjie verhit, sal die kos nie die olie absorbeer nie. Moet dit egter nou nie oordoen nie; té warm olie rook en is eintlik giftig. Dit sal ook die kos sleg laat smaak.

Lees die resep

Moenie oorhaastig wees nie. Die bietjie tyd wat dit neem om eers die resep behoorlike deur te lees kan jou geld, tyd en moeite bespaar. Kry eers al die bestanddele bymekaar voordat jy begin en sit solank elke toestel en die toerusting reg. Soveel keer begin mens met ’n lekker resep en dan besef jy eers halfpad deur dat jy een van die belangrikste bestanddele kortkom. Moenie dat dit met jou gebeur nie.

Kom maak gerus weer ’n draai vir nog kombuiswenke en moenie vergeet om hierdie week se lekker resepte by ons webtuiste af te laai nie.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site