By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Lekker Resepte en Wenke om Lewer en Wildvleis Vorentoe te Laat Smaak

By Ontbytsake se Maak ‘n Hap kan jy elke week lekker resepte aflaai. Jy kan ook Saterdae en Sondae Ontbytsake kyk vir die demonstrasies van ons lekker resepte en sien hoe dit gedoen moet word sodat elke maaltyd ‘n meesterstuk kan wees. Hieronder is enkele wenke om lekker resepte vir allerlei voedselsoorte nog beter te laat smaak.

Wenke Om Van Die Wilde Reuk Van Wildsvleis Ontslae Te Raak

Wilde diere wei nie op aangeplante gras nie en daarom die ongewone reuk wat met wildsvleis gepaardgaan. Selfs lekker resepte vir wildsvleis kan heeltemal misluk as mens nie plan maak met die voorbereiding van die vleis nie. Hier is enkele maniere:

  • Kook die vleis eers vir ‘n rukkie met asyn, bietjie naeltjies en ‘n paar uie. Gooi daarna die water af en kook die vleis met knoffel, rooiwyn, naeltjies en varkspek.
  • As jy vooraf tyd het, kan jy die vleis vir twee dae in karringmelk en rooiwyn marineer en dit daarna met knoffel, varkspek, naeltjies en pietersielie gaarmaak.
  • As jy minder tyd vooraf het, laat die vleis vir net een nag in asynwater lê en kook dit dan met so bietjie asyn, room en naeltjies.
  • Dit is belangrik om eers die bloedwater af te gooi ná die voorbereiding, want dit is waarin die sogenaamde wilde smaak is. Natuurlik kan jy ook net ons lekker resepte vir wildsvleis volg met die sekerheid dat jy ‘n smaaklike dis sal kan voorsit.

    Wenke Vir Die Gaarmaak Van Lewer

    Lewer is baie voedsaam en ryk aan Vitamien B. Tog hou baie mense nie van lewer nie, grotendeels omdat hulle iewers in hulle lewe ‘n minder smaaklike lewerdis moes eet. Ons het ook lekker resepte vir lewer om selfs die lewerhaters ‘n voorliefde vir lewer te gee. Die grootste fout wat begaan word is om die vleis dood te kook. Enige vleis verloor smaak en word taai as dit te veel gekook word is en met lewer is dit veral ‘n probleem, veral as jy dit in te klein stukkies sny.

    Maak dit baie mooi skoon en laat dit week in melk vir ongeveer 30 minute voor jy dit gaarmaak. Sny dit 10 tot 15 mm dik en laat dit tot by kamertemperatuur kom. Nadat dit geweek is, kan jy dit uit die melk haal en dadelik in meel gooi. Gooi bietjie olie in ‘n pan en laat dit warm word. Gooi jou speserye by en voeg enkele stukke lewer by. Moenie te veel insit nie, want dan stoom die lewer eerder as wat dit braai. Moenie die porsies omdraai voor die kors gevorm het nie. Voeg speserye ook by die rou kant voordat jy die porsies omdraai.

    Sodra daar so bietjie skuim begin vorm, kan jy die porsies omdraai. Die tweede kant braai bietjie stadiger omdat die pan koeler is. Wanneer daar effens skuim en bloederigheid aan die bokant begin wys, draai die porsies om en braai vir nog so ‘n halwe minuut. Laat die porsies in die opskepbak lê vir vyf minute en bedien dan.

    Natuurlik is bogenoemde net wenke, maar vir lekker resepte met wildsvleis en lewer kan jy ons resepte en gidse aflaai of voor die kassie inskuif vir demonstrasies en kundige wenke.

    Terug na Artikels

    Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
     site