By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Wenresepte vir Paasnaweke en Ander Spesiale Geleenthede

Is jy raadop met idees vir smullekker disse vir Paasnaweek of ander spesiale geleenthede? Wil jy iets besonders bedien, maar is moeg vir die tradisionele disse? Jou antwoord is hier by Ontbytsake. Ons bied jou aflaaibare resepte vir elke geleentheid, hetsy vir ’n feesmaal gedurende Paasnaweek, ’n verjaarsdag, familiebyeenkoms, Kersdag of ’n romantiese ete. Die resepte kom uit Renette Vosloo se versameling en as jy al ooit “Maak ’n Hap” op Ontbytsake gekyk het, sal jy verstaan hoekom haar resepte so gewild is

Renette het ’n passie vir kos maak en dit het reeds vroeg in haar lewe ontwikkel. Sy weet dat om heerlike disse te maak, jy moeilike prosedures moet vergemaklik. Sy was skaars elf jaar oud toe die kookgogga haar gebyt het. Sy het haar kookloopbaan begin met die voorbereiding van ’n ete spesiaal vir haar ma en dié se vriendinne. Haar eerste dis was piesang-eend met lemoensous. So indrukwekkend as wat dit klink, so lekker het dit gesmaak. Tog het Renette deur die jare daarin geslaag om selfs sulke topgehaltedisse maklik voor te berei deur die resep in stappe op te breek en die belangrikheid van eenvoud te onthou.

Gedurende haar loopbaan het sy ook ’n restaurant besit. Sy weet dus hoe om resepte te skryf, maaltye te beplan en ander te leer hoe om haar resepte te volg. Sy is ook ons “Maak ’n Hap”-aanbieder by Ontbytsake op kanaal 144 op kykNET is. As jy op Saterdagoggende en Sondagoggende (heruitsending) inskakel, kan jy die kokkedoor sien kook. Wees gewaarsku! As jy Renette een keer sien werk het, sal jy haar resepte wil volg en voor jy jou oë kan uitvee, is jy net so versot op kos maak as wat hierdie bobaaskok is. Jy kan die resepte ook hier by ons aanlyn vind en dit uitdruk vir latere gebruik. Ons het resepteblaaie van 2015-2018. Dus is daar genoeg smaaklike ete idees en resepte beskikbaar om vir elke geleentheid te sorg.

Resepte wat reeds beskikbaar is sluit onder meer in:

  • Lams-braairibbetjies met ansjovis aartappels.
  • Varklies met vyf Oosterse speserye, nektarien en ’n pak Choi.
  • Ontbyt-molshope.
  • Binneboud-oondbraaistuk met ansjovis bruinsous.
  • Polenta Gnocchi met salm in lemmetjieroom en vars tamaties.
  • Garnaal en oesterslaai met kiwi en pynappelsalsa.
  • Romerige hoenderpasta met bloukaas en dukkha.
  • Marokkaanse lamspasteitjies en witpeperboontjies.
  • Beesfilet met goulash-sous en Duitse pastaspatsels.
  • Koffie-piesangbrood met spek en karamelpiesangkonfyt en suurroom.
  • Geroosterde bief-carpaccio met Meksikaanse pannekoekies.
  • Vars vye met ophangkaas, beet en okkerneute.
  • Rooihartbees-rooiwynhutspot met vrugtekoekmengsel-dompelinge.
  • Kersfeeshappies wat lemoen en gerookte varkneklollies insluit.
  • Beesstertravioli.

As bogenoemde jou honger maak, stel ons voor dat jy ons resepte van 2015 tot 2018 aflaai en gaan uitprobeer. Daar is nog vele meer, so hetsy jy visgeregte, seekosdisse, wildsvleis, skaap, hoender, lamsvleis, of nagereg wil maak, jy sal ’n resep kry wat in jou behoeftes voorsien. Ons sluit ook foto’s van die eindresultate en opdienvoorstel in. Sodoende weet jy ook hoe om die maaltye voor te sit.

Volg “Maak ’n Hap” op Saterdag- en Sondagoggende en laai nou die resepte vir spesiale geleenthede soos Paasnaweek of Kersfees af. Hetsy jy eg Suid-Afrikaanse kookgenotresepte soek of disse wat jy gewoonlik in luukse restaurante sal eet, Renette stel nie met haar maklik-om-te-volg resepte teleur nie.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site