By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Leer Ken Jou Gunsteling Ekonoom en Ontbytsake Aanbieder, Dawie Roodt

Die meerderheid televisiekykers ken Dawie Roodt as die televisiaanbieder op Ontbytsake, die “grapjas” wat Saterdagoggende heerlik gesels met sy medeaanbieders op televisie en ons almal laat lag met sy manewales. Radioluisteraars ken hom as ’n bekende en uitgesproke ekonoom wat sy storie ken en sy sê sê.

Dawie Roodt se Agtergrond

Maar wie is Dawie Roodt werklik en hoekom moet jy nie sy praatjies misloop nie? Dawie is Hoofekonoom van Efficient Group Bpk., voorsitter van Efficient Financial Services (Edms.) Bpk. en ook Uitvoerende Direkteur van Efficient Group Bpk. sedert November 2006. Hy is veral bekend in Suid-Afrika as ’n ekonoom wat spesialiseer in die regering se geldsake en monetêre beleide en wat uitstekende verhoudings het met verskeie rolspelers in die Suid-Afrikaanse ekonomie en finansiële kringe.

Soos genoem, fokus Dawie in ’n groot mate op die regering se fiskale en monetêre beleid, maar hy dien ook in verskeie komitees, onder andere die Belastingadvieskomitee van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). Hy verteenwoordig Business SA by Nedlac en is lid van die Johannesburgse Kamer van Koophandel. Hy word menigmaal aangehaal en dra ook by tot die mediadekking van ekonomiese en finansiële aangeleenthede in die plaaslike nuusblaaie en finansiële tydskrifte, asook op televisieprogramme en radiostasies. Hy doseer aan die Gordon Institute of Business Science by die Universiteit van Pretoria en het ’n meestersgraad in Ekonomie met lof verwerf.

Dawie Roodt se Loopbaan

Sy eerste boek, Tax, Lies and Red Tape, is gepubliseer in 2013 en wat as vars, insiggewend en diepsinnig beskryf is, stem ’n mens tot nadenke met ’n vermaaklike uitkyk op die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dawie se loopbaan in ekonomiese en politieke ontleding strek oor 20 jaar en sluit in nege jaar as ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwebank en ekonomiese redakteur van finansiële publikasies. Behalwe vir sy formele studies, het hy ook kommunisme bestudeer en is hy bekend vir sy ontledende nuuskierigheid. Vir die man op die straat maak Dawie Roodt ingewikkelde ekonomiese inligting verstaanbaar. Hy is werklik uitstekend hiermee en verskyn gereeld op televisie en deel sy insig en mening oor die land se ekonomie op die radio en in die media.

Die Werklike Dawie Roodt

Wie is Dawie wanneer hy by die huis is? Hy geniet verskeie stokperdjies en belangstellings en reis is natuurlik bo-aan sy lys, veral in Afrika. Hy is ook aktief betrokke by liefdadigheidsorganisasies. In 2007 het hy Nasionale Kleure ontvang vir aangedrewe skermsweef en het hy Suid-Afrika verteenwoordig by die wêreldkampioenskappe in China. Hy is ’n gemaklike mens met ’n baie skerp humorsin en altyd besig om iemand se been te trek of grappige uitlatings te maak. Terwyl hy heelwat reis en lang tye van die huis af weg is, kyk sy vrou, Marina, om na die gesin en sy “dieretuin” op sy landgoed.

Indien jy eerstehands Dawie se insiggewende praatjies wil beleef, skakel in op Ontbytsake Saterdagoggende op kykNET (DStv-kanaal 144) of om 13:00 op Dinsdae en Donderdae. Indien jy jou kans misloop, moenie bekommerd wees nie, want daar is ook ’n heruitsending Sondagoggende om 07:30 en in menige ander tydgleuwe op kykNET & kie (DStv-kanaal 145), waar jy lekker saam met Dawie kan kuier.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site