By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Kitswenke vir ’n Fees van ’n Kersslaai

Hierdie tyd van die jaar maak jy jou e-posse oop en soos klokslag is daar ’n boodskap van ’n familielid wat vra dat jy “asseblief ’n slaai sal bring vir die Kerstafel”. Jy weet jy kan nie sommer net enige mengelslaai aanmekaarslaan en daarmee wegkom nie. Nie vir Kersfees nie. Om ’n spoggerige slaai na ’n Kersete te bring waaroor almal “oe" en “a” het ietwat van ’n tradisie geword.

Met Kersfees kort voor lank hier, het ons vir jou ’n paar wenke uiteengesit om seker te maak jou Kersslaai is een wat vir jare lank onthou sal word – vir al die regte redes. Hier is waarna jy moet kyk om ’n slaai voor te sit wat selfs Kersvader se asem sal wegslaan.

Raak Skeppend

Dink aan hoe jy jou slaai gaan voorsit. Daar is baie maniere om ’n slaai te rangskik en dit begin alles met die keuse van die bak wat jy gaan gebruik. Indien jy jou slaai in lae pak, is ’n glasbak ideaal, sodat ’n mens die kleurvolle lae slaaibestanddele kan sien. As jy verkies om jou slaai op te hoop, is ’n lang, platter bak beter om jou slaai in op te dien. Jy kan ook jou slaai met eetbare blommetjies of kruie versier.

Kleurkombinasies

’n Mens eet ook met jou oë en een van die maniere om ’n wennerslaai aanmekaar te sit is om te dink aan die verkillende kleurkombinasies wat jy kan gebruik. As jy by die tradisionele Kerstema wil hou, kyk hoe jy groen, rooi en wit kan inkorporeer in jou slaai. Beet, komkommer en bokmelkkaas is natuurlik ’n liplekker kombinasie, omdat die bestanddele nie net mooi lyk nie, maar heerlike saam smaak.

Geurkombinasies

Gepraat van kombinasies; wanneer jy jou Kersslaai beplan, dink aan bestanddele wat goed saam gaan. Tamatie, mozzarellakaas en basiliekruid is ’n voorbeeld van ’n goeie geurkombinasie. Selfs okkerneut en appel saam in ’n slaai sal jou smaakknoppies laat dans.

Tekstuurelemente

Probeer om bestanddele in die hande te kry wat verskillende teksture het. Bestanddele soos bokmelkkaas en avokadopeer verleen ’n romerige tekstuur, terwyl neute of croutons ’n vars krakerigheid by jou slaai kan voeg. Speel rond met verskillende teksture en geure om jou slaai op te kikker – en moenie van die slaaisous vergeet nie!

Moenie die fout maak om ’n eenvoudige mengelslaai vir jou familie en vriende te bedien nie. Maak seker jou slaaibak word hierdie Kersfees leeggeskep. Vir meer liplekker slaairesepte en wenke, skakel in op Ontbytsake op kykNET en kykNET & kie.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site