By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Begin Jou Dag Reg met ‘n Groot Ontbyt

Daar word gereeld na ontbyt verwys as die belangrikste maaltyd van die dag. Terwyl daar nie werklik konsensus oor die voordele daarvan is nie, is daar darem min dinge so lekker soos ’n groot ontbyt. Dit verskaf vir jou energie vir die dag, hou jou vol tot middagete, en begin sommer net jou dag op ’n goeie noot. Die enigste ding wat beter as ’n groot ontbyt is is een wat jy deel met ’n klomp vriende en geliefdes. Dis altyd ’n fees, mits jy jou beplanning reg gedoen het en net kan terugsit en ontspan.

Waar begin jy dus as jy die spyskaart vir ’n groot ontbyt beplan? Om die waarheid te sê, enige plek. Een van die lekkerste dinge van hierdie maaltyd, is die absolute veelsydigheid daarvan. Jy kan jou dag met enige kombinasie van lekkernye en bestanddele begin.

Vars Vrugte

Vrugte was nog altyd ’n wenkeuse om die dag mee te begin. Dis vars, sappig en propvol vitamiene en minerale– nét wat jy nodig het om jou dag reg af te skop. Geniet ’n heerlike pomelo net so uit die skil, gooi vir jou ’n smaaklike vrugteslaai met ’n verskeidenheid vrugte wat tans beskikbaar is bymekaar (met of sonder joghurt en muesli), of maak ’n verfrissende vars vrugtesap.

Tradisionele Groot Ontbyt

Almal ken hierdie een en omtrent almal is dol daaroor. Die tradisionele groot ontbyt. Dis so maklik om te maak – vir een of vir baie – en jy kan al jou gunstelinge van ’n lys af kies: eiers (gebak, gekook, geroer of hoe ook al), roosterbrood, wors, spek, gebakte bone, gebraaide tamatie, ham, kaas, sampioene … die lys gaan aan.

Heerlike Gebak

Die reuk van vars gebak in die oggend … hemels! Beïndruk jou vriende en famile met tuisgebakte brood, croissants, of skons. Bedien dit warm uit die oond met botter, konfyt en kaas. Of vind sommer uit waar jou naaste bakkery is en kry ’n versameling van hulle ontbytgebak vir jou feesmaal.

Eier: Die Koning van Ontbytkosse

Ons het reeds ’n paar maniere genoem hoe jy jou eiers kan voorberei: gebak, gekook of geroer. Maar jy kan net so maklik ’n omelet maak, ’n souttert aanmekaarslaan, lekker Franse roosterbrood maak of een van duisende ander idees met eiers optower.

Reg, so as jy nou lekker honger is vir daardie groot ontbyt, gaan na ontbytsake.co.za en klik op “Maak ’n Hap”. Hier sal jy ’n skatkis vol heerlike resepte vind om jou te inspireer en jou gaste te beïndruk. Geniet dit!

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site