By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Beesfilet Carpaccio

Beesfilet Carpaccio

Benodigdhede:
Swaarboompot
Skerp mes
Paar Lamineerplastiek velle
Koekroller of plat vleishamer
Kleefplastiek
                                          
Carpaccio

Bestanddele:
Beesfilet
Druiwepitolie
Vars aarbeie
Roketblare
Ingelegde kappertjiesaad
Balsamiese reduksie
Olyfolie
Suurlemoensap

Metode:
Berei die volgende vooraf voor:
Sny die seenings van die beesfilet af en rol dit op in kleefplastiek. Plaas in ‘n koue yskas oornag. (Volstruis en wildsvleis kan ook gebruik word.)

Maak die Mosterd Roomkaas en plaas dit ook in die yskas. (resep onder)

Berei die Olyfolie-marinade voor en plaas terug in die yskas. (resep onder)

Gooi Druiwepitolie in die pan en maak die pan goed warm. Seël die beesfilet net so heel reg rondom. Dit verseker dat bakterie op die vleis se oppervlakte vernietig is. Moenie die vleis probeer gaarmaak nie.Laat vleis weer goed afkoel. Neem die skerp vleismes en sny filet in 6 mm dik skywe. Plaas die skywe tussen die lamineerplastiek wat gesmeer is met olyfolie. Neem jou koekroller en kap die vleisskywe liggies plat. Rol dit dan verder nog dunner uit met die koekroller. Verhoed ten alle tye dat jy die vleis so hard kap of rol dat die vleis skeur. Die vleis moet heel bly, maar papierdun wees. Hou die vleisskywe per bord tussen die lamineerplastiek. Net voor opdiening gaan jy die vleisskywe op die opdieningsbord rangskik en die Olyfolie-marinade oor die vleis verf.

Berei die Roketblare deur dit af te spoel en droog te skud. Net voor opdiening sprinkel ‘n mengsel van asy, olyfolie en suurlemoensap oor. Spoel die aarbeie onder lopende water af en druk goed droog met vadoek. 
Vorm nou die langwerpige balletjies met die roomkaas, sodat dit ook gereed is vir opdiening.

Gebruik sover moontlik altyd ‘n interessante bord wat die gereg komplimenteer. Jy plaas die filetskywe mooi neer op die bord. Die olyfolie-marinade word oor elke vleisskyf geverf. Plaas die aarbeie op die bord, asook die Mosterd Roomkaas Quenelle. (Quenelle is die woord vir die vorming van die langwerpige roomkaas balletjie)

Plaas die roketblare op die bord en gooi ‘n paar kappertjiesade oor die vleis. Sprinkel twee draaie, gemaalde swartpeper oor die gereg.

Mosterd-Roomkaas balletjies
Bestanddele:
1 houer 250 g gladde roomkaas 
2 t heelkorrel-mosterd 
10 ml Olyfolie 
1 t gerasperde suurlemoenskil

Metode:
Meng goed deur en plaas terug in yskas. 
Vorm langwerpige balletjies daarmee. 

Olyfolie-marinade:

Bestanddele:
1 eiergeel                                                                          
1 t Mosterdpoeier                                                 
Sout en witpeper                                                             
100 ml Olyfolie                                                                  
1 E Wit druiwe-asyn                                                  
1 E Suurlemoensap                                             
30 ml Melk
1 t Worcestersous
1 t Pietersielie

Metode:
Klits eiergeel met draadklitser, voeg daarna een vir een bestanddeel by, in volgorde. Klits goed na elke byvoeging.  Voeg olyfolie stadig by. Indien nodig kan ekstra suurlemoensap bygevoeg word.  
Copyright © Ontbytsake 2020 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site