By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Karl Marx-skaduwee val oor begroting

Rapport Artikel op 26 Januarie 2017

Karl Marx-skaduwee val oor begroting

Sedert die 15de eeu het ’n relatief arm en in baie ander opsigte agtergeblewe deel van die wêreld skielik die dominante mag wêreldwyd geword. Selfs vandag nog oorheers “Westerse” waardes, tegnologie, sakestandaarde en selfs sosiale waardes die wêreld.

Ons lewe in ’n wêreld van objektiewe wetenskap, menseregte, demokrasie en in ’n wêreld van die dominante staat en daarmee saam ’n wêreld met ’n nuwe heersersklas: die professionele burokraat en die loopbaanpolitikus.

Drie groot ideologieë, of verskillende weergawes daarvan, het dié wêreld grootliks gevorm. Die drie ideologieë was die Christendom, gevolg deur kommunisme en vandag kan Islam moontlik gesien word as ’n nuwe opkomende ideologie.

Nietemin, vanjaar, 134 jaar gelede, is die hoëpriester van kommunisme, Karl Marx, dood. En sy skaduwee lê swaar... Ons eie minister van finansies is ’n kommunis en die toenemende rol van die staat in die land en die ekonomie behoort daarom nie te verbaas nie. Trouens, volgens die begroting word beplan om die staat se dominante rol in die land selfs verder uit te brei. Die kommunistiese spook loop steeds en miskien is dit nodig om die ideologie, sy gevolge en die lewe van sy messias weer onder die loep te neem.

Marx se kritiek op kapitalisme het grootliks bygedra tot die totstandkoming van die moderne welsynstaat en staatsinmenging in die werking van die ekonomie. Natuurlik was Marx se idees ook die dryfveer agter die groot sosialistiese revolusies wat in 1917 in Rusland begin het. En selfs vandag is daar lande wat grootliks die ekstreme vorm van sosialisme of kommunisme aanhang: Kuba, Noord-Korea, Viëtnam en China.

Sedert die eerste “kommunistiese” revolusie was massamoorde, verslawing, marteling, armoede en honger­snood die lot van honderdmiljoene mense; alles in die naam van “kommunisme”.

Maar wie was Marx?

Karl Marx se ouers was Jode, maar hy het later die Joodse geloof afgesweer. Verder was hy ook ’n opperste rassis. Hy het nooit werklik gewerk nie. Hy het die grootste deel van sy lewe aan Das Kapital gewerk en hy word ook gesien as die groot “beskermheer” van die werker, iets wat onwaar is. Verder is daar heelwat bewyse dat die groot anti-kapitalis se lewe nogal herinner aan dié van die tipiese bourgeoisie, die middelklas waarteen hy gekant was. Maar sonder twyfel was Marx ’n intellektuele reus, en boonop ’n verwaande een. Maar sy hoofdoelwit was die vernietiging van die bevoorregte klas en die skerp verhoging in persoonlike inkomstebelasting in die begroting sou hom beïndruk het. Verder het Marx ook gewaarsku teen die beskerming van private eiendomsreg en ’n vermindering in staatsbesteding. Trouens, die totale afskaffing van eiendomsreg was sy uiteindelike doelwit, selfs die “afskaffing” van klasse. Klink na radikale ekonomiese transformasie?

Verder was dit ook Marx se plan om grond nie aan “werkers” oor te dra nie, maar dat die staat die eienaar van grond sou word waarop gemeenskapsplase tot stand gebring sou word – iets wat onder Stalin tot die dood van miljoene gelei het. Klink na ons grondbeleid! Sonder twyfel was “wetenskaplike sosialisme” ’n klaaglike mislukking terwyl daar ernstige logiese foute in die ideologie is. Marx se arbeidswaarde­teorie is maar een so ’n voorbeeld.

Ek dink nie Pravin Gordhan beplan om Suid-Afrika in ’n werkersparadys te verander nie. En natuurlik is daar politieke en maatskaplike werklikhede wat in ag geneem moet word. En natuurlik is daar ons geskiedenis... Maar ons moet ook nie vergeet nie dat die eksperiment van toenemende oorheersing van die staat en die politieke elite in die verlede altyd tot die min­agting van menswees, tot armoede en selfs tot hongersnood gelei het. Marx kan wel lank dood wees, maar sy skaduwee is nog sigbaar, ook oor die begroting.
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site