By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Jan Harm se bietjie sport

23 September 2017

Jan Harm se bietjie sport

Wat ‘n donker week was dit nie vir Suid-Afrikaanse rugby nie! Die slagting in Albany was hartverskeurend vir ‘n paar redes.  Eerstens het ons verloor met ‘n kriekettelling. Tweedens kon ons geen punte aanteken nie; iets wat ons laas in 2008 beval het – nogal teen die einste All Blacks. En derdens was daar waarlik vooraf ‘n gevoel dat ons ‘n skrale kans staan om die manne in swart te verras in hul eie agterplaas.  Maar nou ja, daardie drome is lank voor halftyd reeds by die venster uit. 

Daar was wel genoeg vordering hierdie jaar om oor opgewonde te raak, maar wat mens effe droewig maak, is die feit dat die tweestryd tussen die Springbokke en die All Blacks deesdae basies net ‘n eenstryd is. Om hierdie stelling in perspektief te stel, kan mens maar net gaan kyk wat die afgelope sewe jaar tussen die twee spanne gebeur het. 

In 2009 het die manne in groen en goud hul grootste teenstanders drie keer in ‘n ry die loef afgesteek. Maar sedertdien is dit eenrigtingverkeer. 

In 16 wedstryde sedertdien het die All Blacks 14 keer as oorwinnaars van die veld getree – ‘n wenpersentasie van 87%. Die gemiddelde telling oor dié tydperk was 31 – 16 in Nieu-Seeland se guns.  Dit vergelyk baie goed met die Springbokke se resultate teen Argentinië oor dieselfde tydperk:  In 13 wedstryde teen Los Pumas het die Bokke 10 keer gewen vir ‘n wenpersentasie van 76% en ‘n gemiddelde telling van 30 -18.

Dus is ons rekord teen Argentinië vanaf 2010 effe minder indrukwekkend as die All Blacks se rekord teen ons.
Ten minste kan ons onsself daaraan troos dat die Nieu-Seelanders meeste van hul teenstanders week in en week uit ‘n pakslae gee. En mens bly mos maar ‘n trotse ondersteuner van die Groen en Goud. So wanneer die twee spanne mekaar op Nuweland pak in ‘n paar weke sal daar maar weer ou ‘n vlammetjie van hoop brand in ons harte.  
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site