By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Gaan JZ nes Bob sy hand oorspeel?

19 November 2017 in Rapport

Gaan JZ nes Bob sy hand oorspeel?

Jacob Zuma, sloper van alles wat goed en reg is, is op koers om dood te maak wat Suid-Afrikaners, ongeag stand of herkoms, nog altyd regop gehou en laat vorentoe beur het: die vermoë om te hoop en te glo.

Jy hoor dit dikwels op straat in frases soos “gelukkig weet ons dinge kan nie vir altyd so aangaan nie”. Of  “ja, dis erg, maar dit lyk tog of die ding begin draai het”.

Die reaksie op die onthullings in Jacques Pauw se The President’s Keepers het gewys hoe ver Zuma al gevorder het om ons innerlike weerstandigheid te verswak. Ek het net te veel mense al hoor sê, dis nou alles goed en wel dat geboekstaaf is welke skurk die man is, maar wat gaan die gevolge vir Zuma wees? Want hy kom net altyd weg met alles. Nie eens die bliksemslag van ‘n boek soos dié roer hom nie.

Deel van die probleem is natuurlik dat Zuma die ANC, die moederskoot waaruit hy ontspring het en die eintlike een wat hom moet stuit, sistematies en meedoënloos verswak het, tot waar hy vandag by ‘n punt van ondergang is. 

Dalk moet ons kyk na die roemlose, byna patetiese ondergang van Bob Mugabe wat dié week soos ‘n langdradige kunsfliek begin uitspeel het. Mugabe se val is terloops een van die groot stories van 2017. Betroubare inligting is skraps. Visielose mediabase gefikseer op die winslyn het nuusredaksies egter so uitgemergel dat min kapasiteit oor is om dié groot storie te vertel en “hard te slaan”. Maar dis vir ‘n ander dag.

Dit lyk tog of ‘n konsensus aan’t vorm is dat Mugabe val soos die meeste despote voor hom. Op ‘n dag gaan hulle te ver. In Mugabe se geval was dit twee weke gelede, toe hy op aandrang van sy aaklige vrou Grace, vir Emmerson Mnangagwa, Zanu-PF se vise-president, uitgeskop het.

‘n Kantelpunt soos dié kan egter nie bereik word sonder ‘n aanloop en ‘n opbou nie. In Mugabe se geval het daardie opstapeling van vergrype in 2000 afgeskop toe hy begin steun verloor het onder Zimbabwiërs en verkiesings moes kook om aan die bewind te bly. Natuurlik dienswillig bygestaan deur SA se ANC-regering, eers onder Thabo Mbeki en toe onder Zuma.

Mettertyd het Mugabe sy steun by die kiesers probeer verhoog met wraakpolitiek gemik op Zimbabwe se piepklein wit minderheid. So ongeveer wat Zuma en sy marionet Nkosazana nou ook hier wil uitprobeer.

Die lys van wandade, vergrype en plundering waarmee Mugabe oor byna 20 jaar weggekom het, is langer as Zuma s’n. Ons ou het maar eers in 2009 aan die gang gekom. Maar sy lysie vorder fluks. Daar is sy morsige persoonlke lewe, die Nkandla-debakel, die hand wat hy oor die Guptas hou sodat hulle openbare bates kan plunder en nou die onheilspellende onthullings in Jacques Pauw se boek. But it’s all adding up, soos hulle sê.

Streng gesproke behoort Zuma redelik naby sy eie kantelpunt te wees, daardie een stappie wanneer hy te ver gaan. SA is ‘n oop gemeenskap, ‘n 220 volt-land, anders as Zim wat op 12 volt hardloop. Dinge gebeur vinnig hier. 

Met die ANC se leierskonferensie sowat ‘n maand weg, gaan daar deesdae kwalik ‘n dag verby sonder ‘n gewigtige iemand wat grondige kommer uitspreek oor die moontlikheid dat die ANC se leierskonferensie in Desember uitgestel word of, erger nog, in duie stort. 

Die verloop van die ANC se nasionale uitvoerende komitee se spesiale vergadering verlede naweek dui daarop dat ‘n “duidelike en teenwoordige” gevaar bestaan dat die leierskonferensie misluk, skryf Business Day se gesaghebbende politieke redakteur, Natasha Marrian, Vrydag. Sy draai geen doekies om nie: die Zuma-kamp kry dit nie reg om die bot tante wat handel dryf as NDZ ’17 (my tipering) in die binnebaan te kry nie.

So desperaat is Jacob Zuma dat hy heeltemal bereid is om die ANC se interne demokratiese prosesse te onderdruk deur een of ander verskoning te bewimpel om die konferenie te stuit. 

Hy is natuurlik ook heeltemal kapabel om sy magte as staatshoof hiervoor te misbruik. Soos om ‘n noodtoestand af te kondig of die staat se gekaapte spioenasiediens te kry om gewelddadige betogings rondom die konferensie aan die gang te kry. Hulle het hoeka Fees Must Fall geïnfiltreer. 

Verstaan goed, niemand sê dit sál gebeur nie. Maar verstaan ewe goed Zuma is tot letterlik enigiets in staat. Jacques Pauw sê dit oor een oor. Nes  Mugabe, wie se gebruikershandleiding Zuma redelik getrou volg.

Die groot toets sal wees of die ANC hom weer sal laat wegkom. Zuma mag dalk net sy hand oorspeel, nes Bob. Dan kan die eindfluitjie vinnig blaas. 

Vier weke van gevaarlik leef lê voor vir ons ou.   
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site