By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Mackouwkuil

‘n Lokaal is die hart van ‘n troue en wat beter as die asemrowende Mackouwkuil Game Lodge & Konferensie Sentrum. Hier gaan staan tyd stil vir ‘n oomblik en kan families en vriende sommer ‘n naweek daarvan maak om te kuier, fees te vier en te ontspan.  

Hierdie luukse wegbreek-bestemming bied jou die geleentheid om, in topgehalte gemak, die pragtige natuurskoon te ervaar, met sy talle damme, ’n kronkelende rivier en wye verskeidenheid wilde dierspesies wat ewe gretig saam poseer vir die fotos. 

Hierdie verborge skat is diep binne die skouspelagtige Waterberg-biosfeer in die Limpopo-provinsie geleë, ongeveer twee ure noord van Pretoria. Die 1200-hektaar wildsplaas is in ’n malaria-vrye gebied versteek en is heeltemal deur ander wildsplase omring.

Die mooi hoofgebou is pragtig uitgelê, met ‘n stylvolle eetarea, ontspannings-area en heerlike sitkamer. Die hoofgebou is omring met pragtige grasperke tot teen die rivier. Hierdie kwaliteite maak van Mackouwkuil Game Lodge die ideale naweekwegbreek-troue,  konferensiefasiliteit, of spanbou en dinkskrum-bestemming.

Die ruim eersteklas akkomodasie is weggesteek tussen die doringbome. Mackoukuil beskik oor 25 gastekamers, 2 gastehuise en vier luukse tente, elkeen met sy eie privaat-houtdek, wat dikwels beskyf word as “6-ster” en spog met die mooiste uitsig oor die hoofdam. Onlangs is die Hippo Lodge ook aangebring met sy eie privaat fasiliteite. Al die tente is toegerus met twee beddens, lugversorging en moderne en-suite badkamers met buitelugstorte.

Die groot plesieroord-styl swembad is ‘n gewilde trekpleister, om nie te praat van die reuse boma met die groot kampvuur nie. Mackouwkuil se ander boma op die water, is enig in sy soort, waar jy kan sit en die seekoeie en voëllewe dophou. 

Hier is 35-sitplek en 70-sitplek konferensie-fasiliteite en die 70-sitplek saal is boonop klankdig genoeg, dat dit as ‘n ateljee vir video-opnames gebruik kan word.  Die markiestent buite is groot genoeg vir  tot 120 gaste met gemak.

Mackouwkuil se chef en kombuisspan bederf graag met liplekker maaltye en vars gebakte lekkernye om elke ete onvergeetlik en spesiaal te maak. Die spyskaart kan volgens persoonlike voorkeure voorberei word.

Die internet is gekoppel deur middel van ’n toegewyde kommunikasietoring, wat onbelemmerde WiFi-internetspoed bied aan diegene wat verkies om aan die web gekoppel te bly 

Mackouwkuil het die gasvryheid, natuurskoon, wild, kombuis, hotel,  professionele span spesialiste en fasiliteite om ‘n troue 'n herinnering te maak wat vir altyd onthou sal word... vir jou en jou gaste.  
Kontaknommer: 081 272 9766
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site