By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Immigrant - ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers

saamgestel deur Ena Jansen

Immigrant - ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers

Eybers se verse was jare laas in druk. Dié keuse, uitgesoek deur Ena Jansen, goeie vriendin van haar, wys op Eybers se veelsydigheid as digter. 

Die bloemlesing behels o.m. die bekende "Maria", "Busrit in die aand", verse oor haar kinders, die emigrasie na Nederland, tot haar latere, aangrypende gedigte oor ouer word. Goeie poësie is tydloos, en dit blyk duidelik met dié uitgawe van Eybers se bekendste werk. 

Steeds Vrou van Verlies na Hoop

geskryf deur René Roux en Alta Strauss

Steeds Vrou van Verlies na Hoop

'n Digbundel deur Alta Strauss & René Roux

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND STEL ʼN DIGBUNDEL TEN BATE VAN DIE FROUEVONDS BEKEND

Hierdie digbundel bevat 20 gedigte elk van René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en Alta Strauss, bekende skrywer en motiveringspreker. 

Die bundel getiteld Steeds Vrou bevat gedigte wat handel oor verlies en die pad na hoop. Veral in hierdie moeilike tye voel ons dat hierdie woorde werklik ʼn verskil in die gemoedstoestand sal maak, asook hoop vir die vroue van Suid-Afrika sal bring.

Braaibroodjies en Burgers

geskryf deur Jan Braai

Braaibroodjies en Burgers

Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai! Die braaikoning is terug met ’n splinternuwe boek en dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaantewisseling of twee. 

Vind liplekker hoender-, beesvleis-, vegetariese en veganistiese braaibroodjie- en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog! 

En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie, die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!

Karoo Roads II

By Chris Marais and Julienne du Toit

Karoo Roads II

In hierdie boek kan jy die mooiste stories en staaltjies oor die Karoo en sy mense lees, byvoorbeeld ons weet meeste Karoodorpe het ‘n majestuese kerk wat die middelpunt van die dorp is. In hierdie boek is daar ’n hoofstuk net oor die verskillende kerke.

Beslis ’n pragtige boek om te kry as jy hou van ons land verken. 

Just a Moment, A Memoir

geskryf deur Schalk Burger senior saam met Michael Vlismas

Just a Moment, A Memoir

Dis ’n biografiese boek oor Schalk Burger senior en nes die titel sê, gaan hierdie boek oor DIE formidabele, voormalige springbokrugbyspeler se lewe, onder andere skryf hy, hy wou eintlik ’n ontwerper van resiesmotors word. Die boek gee ’n mens ’n kykie in die lewe van een van Suid-Afrika se bekendste sportfigure en suksesvolle sakemanne.

Becoming a Doctor

geskryf deur Hloni Bookholane

Becoming a Doctor

Hierin draai die skrywer nie doekies om oor die pad wat ’n mens moet stap om ’n suksesvolle dokter in Suid-Afrika te word nie. Daar is baie reëls en regulasies en natuurlik politiek om in gedagte te hou. Dis baie harde werk en emosioneel uitmergelend. Hierdie boek is spesiaal geskryf vir enige jongmens wat ’n beroep in die mediese veld oorweeg... dis eerlik en gee die goed EN die kwaad wat mens kan verwag. 

Moord op Lake Panic

geskryf deur Leon van Nierop

Moord op Lake Panic

’n Handvol sjefs by ’n meesterklas in die boendoes. ’n Vrou se lyk in die meer. ’n Privaat speurder wat moet vra: Wie het sy mes in vir wie?
Lake Panic is die perfekte plek vir ’n verfyningskursus vir ses beroemde sjefs. Só beroemd dat hulle beskerming benodig. ’n Taak vir Beer Henning – privaat speurder, vryskuttatoeëerder, ’n man met ’n verlede. Beer het sy hande vol met:
 
• Sophia da Silva, ’n eks-sepiester wat ’n comeback met haar eie kaal kookboek beplan,
• Otto en Lily Clement, ’n hardekoejawel en sy muisvaal vrou wat hul reputasie en hul lodge moet red,
• Leopold Lindeque, die kosresensent met die bitter pen,
• Clementine Carolus, tuisnywerheid-tannie, maar net bedags, en
• Alex Fabius, Youtuber en snuiter van formaat.
 
Wie het ’n moord opgedis? En wat het die storie van die geheimsinnige meermin van Lake Panic met alles te doen?

Voorouer, Pelgrim, Berg

geskryf deur Ingrid Winterbach

Voorouer, Pelgrim, Berg

Katerina Steenkamp gaan op ’n dating site met onvoorsiene gevolge. ’n Man, sy kop vol apokaliptiese frases, patrolleer die strate sonder enige sigbare doel. ’n Ander man hou die naghemel dop vir die koms van ’n elliptiese tuig. ’n Digter stap die Camino met haar onpeilbare metgesel. 

’n Hele aantal uiteenlopende verhaallyne word saamgevleg om ’n beeld van Katerina Steenkamp se lewe te gee. Dit verlei en vermaak die leser met ‘n kombinasie van erns en speelsheid, waansin en melankolie en betree verrassende nuwe terrein... vir die literêre diere... 

100 Dae van Vriendelikheid

geskryf deur Andries Cilliers

100 Dae van Vriendelikheid

Dié boek is in die vorm van dagstukkies en heel gepas vir die tyd waarin ons leef. Andries praat met sy lesers soos met mense wat na aan sy hart is. 

Hy leer hulle, maar hy toring nie bo hulle uit op die kansel nie. Hy sit saam op die blokkiesvloer en die oorhoofse boodskap is: ‘Vriendelikheid is om jou krag te gebruik om saggies heel te maak, sonder om iets terug te verwag’. So eenvoudig soos dit. 

Shaping Addo, the story of a South African national Park

geskryf deur Mitch Reardon

Shaping Addo, the story of a South African national Park

Hierdie boek is ’n inspirerende vertelling van die geskiedenis van Addo, die gewoontes en gedrag van die diere op land en in die see. 

Dit ondersoek ook die baanbreker-bewaringstegnieke wat gehelp het dat hierdie oorwerkte landbougrond vandag een van die gewildste wildlewe reservate is. 

Die boek bevat ook pragtige kleurfoto’s van die diere in die park.

Roofdier

geskryf deur Marie Lotz

Roofdier

Vyf vooraanstaande sakemanne van Pretoria word koelbloedig met hule eie jagwapens vermoor. Kaptein Alek Strauss, lid van die Fiskale se Spesiale ondersoekeenheid, het nog nooit iets so gewetenloos teëgekom nie. 

Die Fiskale se forensiese speurwerk lewer geen leidrade op nie en met elke grumoord word die moordenaar slinkser. Hierdie is ’n senutergende krimi-debuut waar gierigheid en moord hand en hand loop... 

Eerste Daar

geskryf deur Willem (Kaas) van der Waals

Eerste Daar

Hierin kyk hy terug op sy veelsydige loopbaan in die Suid-Afrikaanse Weermag, van valskermsoldaat en instrukteur tot operasionele diens in Suidwes-Afrika, Angola en Rhodesië en as militêre diplomaat en SAW se hoof van buitelandse betrekkinge. 

Hy was ook dosent in strategiese studies, hoof van sielkundige oorlogvoering, inligtingsoffisier en strategiese beplanner by die sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad. 

Dis ’n aangrypende verhaal van ’n veelsydige, belese en dapper, ‘officer and gentleman’... 

Vin

geskryf deur Lien Botha

Vin

Vin is die verhaal van kunstenaar-kurator, Vin Verster, se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man en haar vermoë om in Suid-Afrika sielerus te voel. 

Dis ’n kunsroman, vergesel van ’n webskakel wat die leser visuele insae gee in wat Vin op haar omswerwinge beleef... Dit bied aan die leser ’n uitdaging wat jou op ’n verrykende avontuur vat. 

Afrikaans 'Chop-Chop'

uitgegee deur Lapa

Afrikaans 'Chop-Chop'

Hierdie boek is spesiaal vir Engelsprekende skoolkinders van graad 7 tot 12 wat hulle Afrikaanse punte wil verbeter. ‘Afrikaans Chop-Chop’ is ’n volledige gids tot Afrikaans en bevat ook vraestelle wat jy kan doen om seker te maak jy verstaan al die konsepte en reëls van Afrikaans. 

Die verduidelikings is in Engels sodat engelsprekendes dit maklik kan verstaan en dis aangepas om die nuutste grammatika en spelreëls van Afrikaans te leer. Selfs Afrikaanse onderwysers sal baatvind by hierdie boek in die klaskamer... 

Ontdek Insekte

uitgegee deur Human & Rousseau

Ontdek Insekte

Hierin word die wonderwêreld van insekte en kriewelkreature verken. 

Hulle word gesien as die talrykste skepsels op die planeet en jy kan uitvind hoe om die verskillende insekte te identifiseer, kyk hoe goggas kos uit plante en prooi suig en ontdek hoe skoenlappers reuke vrystel om maats te lok. 

Die boek is propvol feite en pragtige illustrasies, perfek vir skoolprojekte en om tuis te geniet.  

My hart in Woorde

geskryf deur Petro Crous

My hart in Woorde

Petro het die digbundel self gepubliseer en hierin deel sy, in woorde, haar ervaring van liefde, seerkry, verlies, verwyte, mislukking, teleurstelling en emosies wat sy elke dag saam met haar dra. 

Die lewe het harde klippe na haar gegooi, maar sy staan elke dag op met die wete: ek is nooit alleen, ek is enig in my soort en by God is waar my hart behoort... 

Vleis, Die omvattende gids

geskryf deur Anneline Pienaar

Vleis, Die omvattende gids

Suid-Afrikaners is maar eenmaal lief vir vleis en dié boek is ’n moderne ensiklopedie van alles wat jy oor vleis behoort te weet, soos die beste manier om verskillende snitte en soorte vleis te berei, hoe om vleis te vries of tot perfeksie te verouder en talle wenke om geur en sappigheid te verseker. 

Dit bevat ook meer as 100 resepte vir smullekker vleisgeregte wat die toets van tyd deurstaan het. Dis die enigste vleisboek wat jy ooit weer sal nodig kry.

'n Goeie dag vir Boomklim

geskryf deur Jaco Jacobs

'n  Goeie dag vir Boomklim

Dit is ‘n jeugboek en is nie geskryf om ‘n sogenaamde “cross-over” te wees nie. Jaco Jacobs verstaan tieners se koppe en hy skryf vir hulle. Die punt is egter dat hierdie boek soveel temas aanraak, dat grootmense dit sal geniet. 

Marnus het twee boeties. Hy is die middelkind. Arme Marnus. Sy jonger boetie is ‘n entrepreneur wat ontsettend baie geld maak.

Sy ouer boetie is ‘n hartebreker. Die jonger boetie verkoop byvoorbeeld soenlesse… Jong boet kry die geld, ouer boet kry die meisies wat afsprake maak om gesoen te word. Man, is dit nie briljant nie?

Die probleem is, arme Marnus was die skottelgoed terwyl die geld inrol en die meisies hulle lesse kry. Al wanneer Marnus die meisies sien, is wanneer hy die deur moet gaan oopmaak vir ‘n blosende tamatie wat wag om na die leermeester geneem te word…

En toe druk Leila die knoppie. Sy stel nie belang in soenlesse nie en vra vir Marnus om ‘n petisie te teken wat moet keer dat die Boom in die Middel van die Heelal afgekap word.

Marnus verstaan nie, en Leila sleep hom saam. Hy het nog die afdroogdoek oor die skouer, maar dit keer Leila nie.

By die boom ontdek hulle dat die die munisipaliteit se manne reeds gereed staan met hulle kettingsae. Die boom moet plek maak vir ‘n nuwe pyp.

Leila besef hulle gaan nie na haar petisie luister nie en klim in die boom.

Marnus, die middelkind wat altyd onsigbaar is, doen vir die eerste keer in sy lewe iets uitdagends. Hy klim agterna.

Remembering Cheetahs

deur Wildlife Photographers United

Remembering Cheetahs

Die boek is uitgegee as deel van die Remembering Wildlife reeks om geld in te samel vir bewaringsprojekte. Van die wêreld se top wildlewe fotograwe het van hulle beste foto’s van jagluiperds geskenk om in die boek op te neem. Dit is regtig iets besonders.

Ek sal weer ’n loflied sing

geskryf deur Karen Swanepoel

Ek sal weer ’n loflied sing

Sy het haar man en twee kinders in ’n motorongeluk verloor en het self ernstige beserings opgedoen. Hierin vertel Karen haar aangrypende lewensverhaal van ondenkbare verlies, pyn en hartseer, maar ook ’n verhaal van oorvloedige genade en seën, ’n hoopvolle verwagting en ’n reënboog na die storm, want sy het weer liefde gevind en is die ma van ’n pragtige tweeling... 

Marinda se Koskas

geskryf deur Marinda Engelbrecht

Marinda se Koskas

Marinda Engelbrecht sê oor dié boek: "Die resepte in hierdie boek het ek fyn uitgekies. Dit is kos wat ék sien as onthoukos". 

In dié boek word voorsiening gemaak vir ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. 

Dis alles lipleklekker kos wat jy in ’n japtrap kan berei sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Die resepte is in alledaagse taal geskryf vir elke kosliefhebber om maklik te verstaan en elke dag te gebruik.

Kruger-Roetes Safarigids

geskryf deur Heinrich van den Berg

Kruger-Roetes Safarigids

In hierdie boek vind jy voorgestelde roetes vanaf kampe, stergraderings en inligting oor al die paaie, ’n volledige kaart van die Kruger Wildtuin, pragtige volkleur foto’s van fauna en flore sowel as interessante feite oor die diere en hulle habitat. 

Dis die ideale boek as jy hou daarvan om jou eie boservaring in ons grootste wildtuin te beleef. 

Hartstories van ons land se boere

geskryf deur Ivor Price, Kobus Louwrens

Hartstories van ons land se boere

Terwyl die gronddebat woed, stel dié boek ons voor aan die landbouers wat die kos verbou waarvan Suid-Afrika leef. 

Ivor Price en Kobus Louwrens gee ons 'n intieme blik in die daaglikse plaaslewe en uiteenlopende boere se belewenisse en stories. 

Of dit nou reuse agribesighede is, of klein maar geliefde plasies wat met passie bewerk word, elke boerdery is uniek en elke boer het 'n storie. 'n Inspirerende ode aan ons landbouers. 

Geen Engel nie

Geskryf deur André Kruger

Geen Engel nie

Nuwe plek, nuwe skool, nuwe mense. Ek het my eenkant gehou, net in die middae pinball gespeel by die Griek se kafee op die hoek. Pinball was my ding. My nuwe klasmaats het gesien hoe ek speel.

“Kyk hoe jive die cat daar agter die pinball,” lag die een. “Ek scheme dié Randfontein cat is nie te bad nie.”

Omdat ek ’n soort van pinball wizard was, het hulle my nie so geboelie soos vir my kleinboet Johnny nie.
 
Ná ’n lewe in die skadus neem ’n man stelling in, rewolwer in die hand, om sy allerlaaste misdaad te pleeg.
 
Terwyl hy in ’n donker sitkamer wag, loop sy herinneringe wye draaie: na harde grootwordjare in Randfontein en Germiston se strate, waar selfs jou eie familie jou kon bloedmond slaan. Hy onthou die Suid-Afrika waarin hy opgegroei het: die Castle Lager en Lucky Strikes agter skoolpawiljoene, die seuns met aanvalsgewere op die grens.
 
Vir ’n hierjy soos hy was sy pad reeds vroeg uitgemeet: hoëtroustelle steel, baie Klipdrift, verbeteringskool, daarná die army. En toe sluk Sunnyside se nagklubs en onderwêreld hom in.
 
In André Krüger se aangrypende roman oor familie, verraad en wraak – geskryf in die taal van die straat en die tyd – voer een man ’n uiterste stryd teen sy lotsbestemming.

Midlife Money Makeover

geskryf deur Kim Potgieter

Midlife Money Makeover

As jy middeljarig is, moenie dink dit is te laat om te begin herbeplan aan jou geldsake en dit reg aan te wend en te belê sodat dit die beste vir jou kan werk. 

Hierdie boek bevat maklik-om-te-volg geldlesse om jou toekoms meer rooskleurig te maak. 

Dit is ook vol inspirasionele stories en praktiewe wenke wat jou sal help om jouself te bemagtig vir die toekoms. 

Op soek na Saartjie, Langenhoven se geheime liefde

geskryf deur Dominique Malherbe

Op soek na Saartjie, Langenhoven se geheime liefde

Op 15 Julie 1932 sterf CJ Langenhoven skielik. Dat hy ’n jong Joodse vrou, die vurige rooikop Sarah Eva Goldblatt, as eksekuteur van sy literêre nalatenskap benoem, kom as ’n verrassing.

Dominique Malherbe was van kleins af gefassineer deur die familiefluisteringe oor dié groottante van haar en haar verhouding met Langenhoven. 

Uiteindelik besluit sy om antwoorde te soek  oor Saartjie se lewe, haar werk en die raaisel rondom haar babaseun.’n Ongewone en boeiende literêre liefdesverhaal.

Rooibosrand

geskryf deur Jenny Buys

Rooibosrand

Die substansie van hierdie boek is liefde en omgee. Die manier waarop die skrywer lewe in Annabelle Brand en die res van die karakters ingeblaas het, gryp die leser aan vanaf die eerste bladsy. Annabelle Brand is haar ouers se enigste kind en haar beste vriend is die buurman, Abel, saam met wie sy grootgeword het. 

Sy is ‘n baie onafhanklike vrou wat nie bang is om haar man te staan nie. Die vonke begin spat toe die aantreklike veeart haar voete onder haar uitslaan, maar dinge verloop nie altyd soos dit moet nie en die boek sorg vir baie drama... om uit te vind, sal jy self moet lees. 

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika

geskryf deur Engela Duvenage

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika

In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika. Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak. 

Dit is voorwaar ’n trots Suid-Afrikaanse boek wat elke leser sal inspireer en motiveer om vrae te vra, te ontdek en te skep.

Toolbox vir Manne

geskryf deur Jan Schoonraad

Toolbox vir Manne

Hierdie boek is bedoel om aan mans geestelike gereedskap vir die lewe te bied, want net soos ’n mens ’n basiese gereedskapkis vol handige ‘tools’ moet hê, so moet jy ook ‘tools’ hê om deur die lewe te kom. 

Die onderwerpe wat aangeroer word, sluit in identiteit, outoriteit, die huwelik, finansies, liefde, Integriteit, seën en roeping... met die middelpunt altyd God in jou lewe. 

Dis vir mans geskryf, maar vroue sal dit ook goed kan gebruik.

Indigenous South African Plants for Highveld Gardens Book 1 & 2

geskryf deur Isabelle Dannhauser

Indigenous South African Plants for Highveld Gardens Book 1 & 2

Hierin ondersoek die skrywer hoekom dit so belangrik is om inheemse tuine te plant en hoekom uitheemse plante skadelik vir ons eko-sisteem is. 

Sy bekyk dan ook ’n hele aantal inheemse plantgroepe wat natuurlik aard op die Hoëveld en maak aanbevelings waar dit die beste sal werk. 

Hierdie boeke is vir die ernstige tuinmakers onder ons met hope tegniese inligting en foto’s. 

Afrikaans vir Almal - Taalreëls, Naslaanlyste, Algemene kennis

saamgestel deur Isabel Uys

Afrikaans vir Almal - Taalreëls, Naslaanlyste, Algemene kennis

Isabel Uys se jongtse titel is die eerste KABV-gebaseerde taalnaslaanbron vir Afrikaans Huistaal- en Eerste en Tweede Addisionele taalleerders. 

Die boek bestaan uit twee dele: die eerste fokus op taalreëls en handige naslaanlyste en die tweede op Suid-Afrikaanse en wêreldfeite. 

Dit is ideaal vir enige leerder wat Afrikaans wil slaag en is ook handig in die taalonderrig van volwassenes.

'n Baie lang brief aan my dogter

geskryf deur Marita van der Vyver

'n Baie lang brief aan my dogter

’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoires. Dit is 'n speurtog deur die skrywer se beginjare, maar dit is ook ’n liefdesbrief aan ’n dogter en ’n taal en ’n land. 

En bowenal is dit ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.

It’s not inside it’s on top

geskryf deur Khanya Mtshali

It’s not inside it’s on top

Hierin kyk die skrywer na onvergeetlike oomblikke in die Suid-Afrikaanse Advertensiebedryf. Een ding is seker, ons Suid-Afrikaners weet hoe om ikoniese advertensies te maak, maar soms loop dinge baie skeef ook. 

Dié boek kyk nie net na die suksesverhale nie, maar lewer ook kritiek op die advertensies waar dinge, wel, nie so goed gewerk het nie. 

Louis Botha

geskryf deur Richard Steyn

Louis Botha

Louis Botha was ’n briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag vir etlike oorwinnings oor die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog gesorg het. Maar dit was sy enigmatiese karakter en vaste oortuiging om te hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ’n leier van die Boerevolk bevestig het.

Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het waarna Botha as die eerste eerste minister van die Unie aangewys is.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was Botha aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie van 1914, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek.

Botha se groothartig en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het hom bo sy tydgenote laat uitstaan.

Seuns sonder pa's

geskryf deur Julian Jansen

Seuns sonder pa's

In Suid-Afrika ken meer as 60% van kinders nie ’n pa nie. Hierdie gebrek aan ’n pa lei dikwels tot ’n gemis aan ’n gevoel van behoort. Julian Jansen, joernalis van Rapport en oud-onderwyser, ondersoek hierdie fenomeen en hoe die probleem aangespreek kan word. 

Hy bespreek dit vanuit ’n praktiese én geestelike perspektief en betrek onlangse navorsing en geestelike en ander gemeenskapslede. Julian verweef ook sy eie storie tussenin, en vra dan: hoekom het hy en sy broers nie skollies geword nie? 

Eisteddfod-pret 2

Gloudine Kellerman, Jonelle du Toit, Tumi Steyn

Eisteddfod-pret 2

Nog gedigte, monoloe en samesprake vir die laerskool - Hierdie versameling van 108 oorsponklike gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake volg op die baie suksesvolle eerste titel in die reeks en is weereens perfek geskik vir laerskoolleerders. 

Elkeen van hierdie werke het die potensiaal om die hoogste punte by 'n eisteddfod te verwerf. Louise Lachenicht se riglyne vir ouers, onderwysers en afrigters - met 'n fokus op gedramatiseerde poësie - verseker dat elke deelnemer hul beste werk kan lewer. 

Pollinators, Predators & Parasites - The Ecological Roles Of Insects In Southern Africa

Clarke Scholtz, Jenny Scholtz, Hennie de Klerk

Pollinators, Predators & Parasites - The Ecological Roles Of Insects In Southern Africa

Suider-Afrika is die tuiste van ‘n baie diverse aantal insek-spesies, maar die fasinerende feite oor dié gediertetjies vind ‘n mens meestal net in hoë wetenskaplike geskrifte... tot nou toe... 

Hierdie pragtig geillustreerde boek wys vir ons die merkwaardige rol wat insekte in ‘n ekosisteem speel, vertel fassinerende stories oor hulle en die verskillende spesies se interessante gewoontes en maniertjies. 

Gangster, Ware verhale van albei kante van die strydlyn

geskryf deur Carla van der Spuy

Gangster, Ware verhale van albei kante van die strydlyn

Bekroonde skrywer Carla van der Spuy gesels met geharde én gerehabiliteerde gangsters, ’n lady gangster,’n ma wie se kind koelbloedig vermoor is en pastore wat probeer help. So hoor ons van die nommers, die Franse, die vierde kamp, Sabela en die Airforce. 

Gangster wys in mense se eie woorde hoekom gangs steeds groei, wat dit is wat kinders so jonk as twaalf na gangs lok, en hoe sommiges tog daarin slaag om te ontsnap. Want mense se lewens kán omkeer, en Gangster is ook vol stories van hoop.

Soldaat

geskryf deur Reynardt Hugo

Soldaat

Hy is bekend as Dr. Tertius van Binnelanders. Hy was ook deel van die suksesvolle popgroep, ADAM. Tog, agter die glans van sangtoere, bewonderaars en toekennings, het ’n diep gewonde en verlore siel geskuil. 

Reynardt het vir jare lank probeer om sy verwondheid met drank, dagga, vroue en pornografie reg te dokter en in hierdie boek vertel hy sy boeiende verhaal. 

My stryd met ADHD

geskryf deur Hykie Berg

My stryd met ADHD

Hierin vertel Hykie met rou eerlikheid hoe hy gesukkel het met dié sindroom, van ’n weerlose seuntjie wat nooit kon stilsit nie, en volgens sy juffrou eendag in die tronk gaan eindig, tot ’n jong man wat in Weskoppies opgeneem is en alles verloor. 

Hy ondersoek ook ADHD en die behandeling daarvan aan die hand van sy eie ervarings. 

Hoop, Heling & Harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing

geskryf deur Malcolm de Roubaix

Hoop, Heling & Harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing

Siekte is ’n natuurlike verskynsel sonder betekenis – potensieel ernstig, ja, maar bloot deel van menswees. Teen hierdie agtergrond ondersoek Hoop, heling & harmonie hoe siekte en behandeling ons liggame, gees en menswees aantas. Die doel van geneeskunde is om ons lewens positief te beïnvloed – in die woorde van Hippokrates, om soms te genees, dikwels te behandel, altyd te troos – maar die positiewe is nie noodwendig onvoorwaardelik nie: ons kan té wetenskaplik wees, die persoon agter die siekte miskyk.
 
’n Terugblik na die verlede plaas die huidige in perspektief; die boek analiseer onder andere die taal van siekte en geneeskunde, die rol van emosies, ideologie en politiek in siekte, hoe ons teen die risiko’s van behandeling en navorsing beskerm word, einde-van-dielewe- besluite ... en bereik dan die hoogtepunt: Hoop, Heling en Harmonie. Sonder hoop is die toekoms duister, sonder heling is daar geen genesing nie, en sonder harmonie in die uiteenlopende aandrange van siekte kan daar geen vrede in die gemoed wees nie. Hierdie onderwerpe word dikwels in die media bespreek.
 
Covid-19 is vir almal ’n skrikwekkende nuwe ervaring wat beklemtoon hoe broos die mensdom is. Hoop, heling & harmonie is ’n tydige publikasie wat die besondere eise van die tyd vernuwend aanspreek. Die boek is uniek en sistematies, die teks en styl is toeganklik met heelwat toeligting; nogtans word die leser uitgedaag om opnuut oor siekte-ervaring na te dink.

'n Vry vrou

Gedigte van Antjie Krog

'n Vry vrou

Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. 

Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word. 

'n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

Help! My kind is anders

geskryf deur Christien Neser

Help! My kind is anders

Om ’n tipiese kleuter groot te maak is geen grap nie. Hoe dan gemaak as jou kind ‘anders’ is? Wat as hy hiperaktief en aandagafleibaar is? Wat as jy vermoed sy’s op die outismespektrum? Hoe gemaak met lae spiertonus en ’n swak pengreep? Wat as hy ’n taalagterstand het, lispel of hakkel? En sê nou sy het nie leerprobleme nie, maar sukkel met angs? 

In Help! My kind is anders! beantwoord ’n span kundiges dié en vele ander vrae waarmee ouers vandag worstel. Is terapie werklik nodig of net ’n geldmaakstorie? En waar begin ’n mens as jy dink daar is fout? 

In 30 boeiende gevallestudies vertel ouers en terapeute saam hul ware verhale van deursettingsvermoë en hoop. Sielkundiges, spraakterapeute, oudioloë, arbeidsterapeute, fisioterapeute, spelterapeute en ander medici deel hul kennis, ervaring en geheime. 
Help! My kind is anders! is ’n praktiese gids wat jou met ’n gereedskapkis toerus om van jou en jou kind ’n kampioenspan te maak! 

Christien Neser is ’n skrywer en spraakterapeut wat al vir sowat 40 jaar in praktyk is.

Tesourus van Afrikaans (heruitgawe)

deur Leon de Stadler en Amanda de Stadler

Tesourus van Afrikaans (heruitgawe)

Die Tesourus van Afrikaans gee met meer as 140 000 inskrywings 'n uitstekende beeld van die besondere ontwikkeling en die wyse waarop die taal aangepas en gegroei het die afgelope 20 jaar. 

Dit ontsluit sinonieme, byna sinonieme, teenoorgesteldes, oorkoepelende woorde en wys betekenisverhoudinge tussen woorde uit. 

Vir diegene wat in Afrikaans belangstel en die taal effektief wil gebruik, is dit 'n besondere instrument. Die duisende woorde is in 855 kategorieë gerangskik.
 

As jy Droom

geskryf deur Daniëlla van Heerden en Megan Werner

As jy Droom

Elke droom begin met 'n dromer. Megan se droom is om saam met ander tieners 'n vliegtuig te bou en daaarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg. Haar doel is om kinders in ander Afrikalande te inspireer om ook hulle drome vlerke te gee. 

Toe die vliegtuig uiteindelik meer as 'n jaar later gereed is, pak sy en haar medevlieëniers 'n reis vol avonture en naelbyt-oomblikke aan.

As jy droom is 'n storie van durf, deursettingsvermoë, hoop en hartseer. 'n Avontuur met soveel adrenalien dat jy dit dalk vergesog sou noem - as dit nie die waarheid was nie...

  

Dink soos 'n miljardêr

geskryf deur Daniel Strauss

Dink soos 'n miljardêr

Geheime van 'n suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur.

Wat onderskei die rykes van ‘gewone mense’? Hulle dink anders. In Dink soos 'n miljardêr verduidelik Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, wat dit beteken om soos ’n miljardêr te dink en deel sy geheime tot sukses, soos hoe om toegang tot kapitaal te verkry, die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry, sodat jy ook soos ’n miljardêr kan dink – en uiteindelik self een kan word.

Is alles oraait byrie hys?

geskryf deur Bernie Fabing

Is alles oraait byrie hys?

Die laanie Bernie Fabing by Vannie Kaap wil wiet: Is alles oraait byrie hys? 

Dis ’n boek van hul mees popular memes en sluit oek nuwe eksklusiewe content in, wat nooit aanlyn sal verskyn nie.

Vannie Kaap, gestig in 2015, se doel is om Kaapse kultuur te eer, maar dit het oek ’n movement geword om ander kulture oor die Cape Coloured se herkoms en taal te leer. 

En as jy nog nie van hulle gehoor het nie . . . issit tyd om wys te raak!

Die Noagvoël

geskryf deur Jan HJ van Staden

Die Noagvoël

Die dag het begin soos enige ander in Tiberias – idiliese hawedorp langs die See van Galilea. Opgewonde het die inwoners gestroom na die nuutgeboude opelugteater teen die hang wes van die dorp. Tog was dit ‘n spesiale dag, want ‘n hooggeplaaste van Rome sou die inwoners toespreek en saam met hulle die tiende verjaarsdag van die dorp vier. Herodus Antipas het seker gemaak almal is daar – van ryk tot arm.

Dit het stilgeraak toe Lucius Aelius Sejanus instap. Saggies het sommige gefluister dat hy instaan vir keiser Tiberius. Dat hy dalk die volgende keiser van die magtige Rome gaan word.

Min het hulle geweet wat in sy hart broei. Nooit, in hulle wildste drome sou hulle kon dink hoe hierdie dag gaan verloop nie.

Sejanus se optrede sit gebeure aan die gang wat verrykende gevolge inhou – nie net vir die hele Romeinse Ryk nie, maar ook vir verskeie Israeliete. Die rebelse Abigail is een van hulle en haar rebellie teen alle vorme van gesag, bring haar in direkte konflik met die bloeddorstige Sejanus.

Sy verdwyn misterieus en dit ruk haar geheime liefde se lewe totaal en al uit sy gemaksone. As Romeinse kaptein, gestasioneer in Galilea, moet Claudius Ianuarius Celsus die belangrikste keuse van sy lewe maak.

Vergeet van Abigail of neem wraak. Die pad na vryheid is nie altyd so duidelik nie…

The My Story Tribe

saamgestel deur Milan Murray & Chantel Griesel

The My Story Tribe

As first-time parents, we grab anything labelled “early childhood development” from the shelf. We confidently throw around terms like “midline crossing” and “fine motor skills”. We brag about our attachment parenting style and, when we read that 80% of the brain develops in the first three years, we buy some more. We do Baby Einstein, Baby Gym, Baby Sense, Moms and Tots and whatever programme is trending.

Once we drop our children off at school aged six, we sigh a sigh of relief, pour a glass of bubbly and pat ourselves on the back. We made it!

We only wake up again when a screaming thirteen-year-old-teenager stares us in the face. By then our child is in the third act of their childhood story and the script has Tarantino written all over it.

This is where the My Story Tribe comes in. This online platform aims to invest in the mental wellness and emotional resilience of the six- to thirteen-year-old age group.

“Story” has always been a big part of my life. As an actress, screenwriter and author of children’s books, “story” has been both an escape and my way to make sense of the world. When my children are faced with challenging times, we call on our friend “story”. I encourage them to tell me the story of their day. Was it a comedy or a tragedy? Or a circus? Who was the bad guy? How do they feel after closing the book of today? And, most importantly: “Who are you, the hero of your own story?”

With content developed by leading names in the fields of Psychology and Occupational Therapy, the My Story Tribe platform will use the mechanism of “story” to facilitate emotional growth and mindfulness. Habits like journaling and meditation will form part of a toolkit to empower these youngsters going forward.

Imagine every thirteen-year-old who graduates from the My Story Tribe greeting their teenage self with confidence in their stride, a secure identity, a solid backbone, self-love and tools to keep investing in their emotional and psychological growth. Imagine them pen in hand, ready to write their own extraordinary story.

Imagine yourself then, the guardian of that story, lifting your glass of bubbly with a triumphant smile that says: “Not on my watch, Mr Tarantino!”

Welcome to the Tribe!

Weerlose Meganika

geskryf deur Anton Roodt

Weerlose Meganika

'n Tydjie terug is ’n merkwaardige vonds gemaak: ’n koperplaatfoto wat tydens die Slag van Bloedrivier geneem is . .  en dit wys drie engele teen die oggendmis! Die neerdaal van die engele word die hoogtepunt van die jaarlikse gedenkopvoering in Welkom. 

Maar vanjaar, tydens die kleedrepetisie, word die hoofengel vermoor... en die koperplaatfoto het verdwyn! ’n Heerlik aweregse roman, sowel ryke verbeeldingsvlug as skerp satire.

As die Cape Flats kon praat

geskryf deur Brian Fredericks

As die Cape Flats kon praat

Brian Fredericks, ’n aangrypende nuwe stem, skryf met nege kortverhale ’n wêreld oop in die Cape Flats. 

Hy werp lig op ’n komplekse wêreld waar die grens tussen reg en verkeerd heeltyd verskuiwe, maar bowenal het hy ’n sonderlinge insig in die feilbaarheid maar ook die broosheid van menswees. 

Karakters kry lewe op papier, en maak jou opnuut kyk na die wêreld om jou en in jou. 
Met dié bundel kortverhale vestig Fredericks hom as baanbreker in die Afrikaanse kortkuns.


Onder een dak

geskryf deur Dana Snyman

Onder een dak

Hierdie bundel, bevat 100 van Dana se gunstelingstories wat strek van sy kinderjare tot intieme onlangse vertellings, waar hy met skerp waarneming ons land en sy mense betrag. Daar is ook wonderlike nuwe stories, oor rugby en oor die inperkingstyd. 

Wat al die stories in gemeen het, is die meelewing wat Dana se werk kenmerk, saam met sy soms skokkend eerlike insigte in sy eie psige, as kind van Suid-Afrika. Hy laat jou met nuwe oë na jouself en na die wêreld om jou kyk. 

Africa’s Wild Dogs, A survival Story

geskryf deur Jocelyn Kagan

Africa’s Wild Dogs, A survival Story

Hierdie besondere koffietafelboek is ’n groot-formaat fotoboek met die mees besondere foto’s van wildehonde, ’n erg bedreigde spesie in Afrika. 

Al die inkomste van die boek gaan aan ‘Africa’s Wild Dog Survival Fund’ so as jy dit koop, is dit ook vir ’n baie goeie doel. 

‘Ek Leer Speel-Speel’ reeks

‘Ek Leer Speel-Speel’ reeks

Dis maklik verstaanbare werksboeke vir kinders tussen twee en vyf jaar. Dis ideaal vir tuisbly mammas, au pairs, kinderoppassers of oumas wat vakansies die kleingoed wil stimuleer en in roetine hou. 

Daar is twaalf verskillende temas, onder andere, My Lyfie, My Huis, Gesonde kos, Vakansie, Vervoer, Sport, om maar ’n paar te noem... en al die werksboeke het ook so ’n sakkie met speelgoed daaraan vas... 

Amper Frans, ’n Lewe van fanfare en faux pas

geskryf deur Louis Jansen van Vuuren

Amper Frans, ’n Lewe van fanfare en faux pas

In dié boek vertel Louis, ’n kunstenaar, hoe hy die Franse tradisies en kultuur die afgelope 21 jaar ontdek het. Hy en sy lewensmaat het ’n vervalle ou Chateau in ’n boetiekhotel omskep en dit het baie geduld en uithouvermoë geverg. 

Daar is stories oor statige hertoginne en neusoptrekkerige kelners, die berugte Franse burokrasie en ook sy talle faux pas in die Franse taal. Dié boek is ’n moet vir alle Frankofiele.

Voëls van Suider-Afrika

Uitgegee deur Penguin Randomhouse

Voëls van Suider-Afrika

Dié vyfde hersiene uitgawe bied ’n nuwe voëlroep-funksie wat ’n mens kan hoor as jy die gratis toepassing aflaai en die streepkodes skandeer.

Die gids is aansienlik uitgebrei met omvattende dekking van al Suider-Afrika se voëlsoorte met vars insette van nuwe outeurs en illustreerders so as jy ’n voëlkyk-fanatikus is, is dié boek vir jou. 

Uit my Hart, My pad met Motorneuronsiekte

geskryf deur Miki Viljoen

Uit my Hart, My pad met Motorneuronsiekte

Miki het nog altyd geglo ‘n mens leer iets uit ’n slegte situasie. Tydens haar moeisame pad met hierdie genadelose en ongeneeslike siekte, wat haar fisies heeltemal aftakel, het sy geleer dat dit haar menswees verdiep het en haar nader aan God gebring het. 

In dié boek deel sy haar persoonlike frustrasies en diepste emosies asook sielsverrykende lewenslesse, seëninge en lewenswyshede... ’n besondere boek met baie inspirasie. 

Secure your Retirement

geskryf deur Bruce Cameron en Wouter Fourie

Secure your Retirement

Soos die titel sê, gee dié boek leiding aan mense wat besig is om hulle aftrede te beplan. Die boek kyk na al die uitdagings wat pensioenarisse tans in die gesig staar en maak voorstelle om hulle situasie te verbeter. 

Die skrywers is albei bekendes in die finansiële wêreld en die boek word aanbeveel vir enige iemand wat bekommerd is oor hulle finansiële welstand.

Ouma Hester Reeks

geskryf deur Janie Oosthuizen

Ouma Hester Reeks

Ouma Hester en die Getaway kar’ en ‘Ouma Hester en die Arnosterfant’ is twee boeke vol avonture. 

Ouma Hester saam met haar twee kleinkinders, Tian en Lisa, beleef hulle woeste gevegte, jaagtonele, en hope naelbyt­spanning en ­aksie. 

Dis veral Ouma Hester se Getaway-kar wat se wapens vir niks skrik nie. Een ding is seker, ‘n vakansie saam met Ouma Hester is nooit vervelig nie... 

Field Guide to Butterflies of South Africa

geskryf deur Steve Woodhall

Field Guide to Butterflies of South Africa

In hierdie boek kan jy uitvind oor al 671 van Suid-Afrika se bekende skoenlapper-spesies. 

Dit sluit in die indentifikasie, habitat, vlugperiodes, gewoontes, larwe, verspreiding en kosbronne in. 

Die pragtige kleurfoto’s maak die skoenlappers maklik om te identifiseer en is die perfekte handleiding vir enige iemand wat belangstel in hierdie interessante en pragtige kreatuurtjies in ons eko-sisteem. 

Passion for Pairing

geskryf deur sommelier, Jean-Vincent Ridon met fotografie deur Gerda Louw

Passion for Pairing

Soos die naam sê, gaan hierdie boek oor kos en wyn, en watse wyn die beste saam met watter tipe geregte smaak... iets wat ons mos al jare hier by Ontbytsake ook doen. 

Die boek bespreek deurgaans ‘n tipiese Suid-Afrikaans gereg en gee dan ‘n idee van watter wyn die beste daarby sal pas, byvoorbeeld vir ‘n Snoek braai, Bobotie... selfs koeksisters. 

Vele van Suid-Afrika se bekendste sjefs het bydraes gemaak soos Chantel Dartnal, Liam Tomlin en Peter Goffe-Wood om maar ‘n paar te noem. 

Die boek is nie net pragtig nie, maar ook baie interessant. 

Weet hoe met Wetenskap

uitgegee deur Lapa

Weet hoe met Wetenskap

Hierdie boek is spesiaal vir kinders met ‘n belangstelling in wetenskap, wiskunde, tegnologie en ingenieurswese. 

Dit bevat 25 fantastiese projekte, met stap vir stap instruksies, wat insluit hoe om ‘n bottelvlot te bou of ‘n opwenmotor te ontwerp... selfs ‘n golfmasjien, hangbrug en stewige sandkasteel....

Dis die ideale geskenk om jong wetenskaplikes ure besig te hou. 

Emigreer of Bly – is die gras werklik groener aan die ander kant?

geskryf deur Stephan Joubert

Emigreer of Bly – is die gras werklik groener aan die ander kant?

Dié vraag is seker iets waarmee menigte Suid-Afrikaners al geworstel het. Moet ek hier bly of is dit dalk beter om te emigreer? Wat is die Here se wil vir my? Vir Suid-Afrika? Vir my IN Suid-Afrika? 

Die boek skets die werklikhede van emigrasie, maar ook die werklikheid van bly. Hy betrek ook ander stemme – blyers of ryers – om jou toe te rus om ‘n sinvolle besluit te neem. 

Absoluut Einstein

geskryf deur Christien Neser

Absoluut Einstein

Die outistiese Micha is in Gr 9, met Matriek-IT onder die knie, maar die Einsteins van die wêreld wen nie pryse as “Boyfriend van die jaar” nie. 

In sy nuwe skool moet Dylicia 'n ogie oor hom hou. Sy's die enigste meisie in die skool se Robotika-groep en as sy vir mevrou Koen reg gehoor het, is Micha se IK in Einstein se liga. 

Volgens hulle skoolhoof is die kanse goed dat HY eendag ‘n oranje oorpak gaan dra. 

En Dylicia? Sy is die moeder Teresa van Ashton, die een wat tussen Micha se Nobelprys en ‘n oranje tronkpak staan. 

Regte-Egte Rampe en Regte-Egte Raaisels

geskryf deur Susan Martineau en vertaal deur Fred Pheiffer

Regte-Egte Rampe en Regte-Egte Raaisels

Hierdie twee oulike kinderboeke, Regte-Egte Rampe en Regte-Egte Raaisels is geskryf deur Susan Martineau en vertaal deur Fred Pheiffer. 

In Regte-Egte Raaisels help verklaar die boek die onverklaarbare soos die graansirkels, groot piramides en stonehenge om maar ‘n paar te noem. 

En in Regte-Egte Rampe ondersoek dit wat REGTIG gebeur het as dit kom by bekende natuurrampe of selfs mensgemaakte katastrofes soos die Swart dood, Bermuda Driehoek, en aardbewings. 

Baie interessante boeke vir nuuskierige agies... 

PharosAanlyn

PharosAanlyn

PharosAanlyn is ’n versameling aanlyn algemene en vakwoordeboeke. Dit is ’n omvattende naslaanbron vir elkeen wat effektief in Afrikaans, Engels en ander tale wil kommunikeer. Hierdie versameling sluit ’n wye verskeidenheid tegniese woordeboeke in en word deurlopend aangevul wanneer nuwe titels verskyn.

Pharos het ’n span leksikograwe wat voortdurend nuwe produkte ontwikkel om vir die snelveranderende behoeftes van Suid-Afrikaanse woordeboekgebruikers te voorsien.

PharosAanlyn bied subskripsies vir enkelgebruikers, veelvuldige gebruikers, skole en tersiêre instellings. Enkelgebruikers het ’n keuse uit drie pakkette, naamlik algemene woordeboeke, vakwoordeboeke of ’n gekombineerde pakket bestaande uit algemene én vakwoordeboeke. Die pakket vir veelvuldige gebruikers en tersiêre instellings sluit sowel algemene as vakwoordeboeke in. Die skole-pakket bevat ’n versameling woordeboeke wat op die daaglikse taalbehoeftes van leerders fokus. Die Afrikaanse woordelys en spelreëls is nou beskikbaar as 'n byvoeging tot enige woordeboekpakket of as 'n subskripsie-opsie op sy eie.

Vir meer inligting oor ons produkte en ’n lys van ons woordeboeke, besoek asseblief ons produktebladsy. Intekenare kan ons subskripsiebladsy gebruik.

Dirty Tobacco - Spies, Lies and Mega-Profits

geskryf deur Telita Snyckers

Dirty Tobacco - Spies, Lies and Mega-Profits

What is more profitable than cocaine, heroin, marijuana or guns? Illegally trafficked cigarettes . . . Reputable tobacco companies have – for decades – been complicit in cigarette smuggling. 

In this gripping exposé, former SARS lawyer Telita Snyckers uncovers the dark underbelly of the tobacco industry. She recounts the instances where big tobacco itself was caught redhanded and explores not only why a listed company would want to smuggle its own product, but also how it was done.

Plants of the Klein Karoo

geskryf deur Jan Vlok & Anne Lise Schutte-Vlok

Plants of the Klein Karoo

Die Klein Karoo word gesien as die droogste gebied in die wêreld met die rykste aantal flora-spesies. 

‘n Mens let maklik die groter flora, soos verskillende spesies protea op, of die alwyne en vuurpyle, maar in hierdie boek leer jy ook van die kleiner blomspesies en plante wat nie altyd so maklik raak gesien word nie. 

Die boek bevat 1450 spesies en uitgebreide inligting oor elk. Dit is ‘n baie handige veldgids vir boere, grondeienaars en besoekers. 

Potential Development using Thinking Tools

geskryf deur Dr Cas Olivier

Potential Development using Thinking Tools

Die Thinking Tools benadering breek nuwe grond op die gebied van onderwys. Dit is 'n breingebaseerde benadering tot onderrig en leer, wat memorisering vervang.

Maroelaboomstories

’ geskryfdeur Leon de Villiers en geillustreer deur Linki Lutz

Maroelaboomstories

Elke aand teen skemer klim die trop bobbejane tot bo in die groot maroelaboom. Die son sak vinnig en die nag is op pad... 

Wil jy ook soos die klein bobbejaantjies weet waarom olifante nie in neste woon nie; waar koedoes aan hul gedraaide horings kom en hoe buffels hulle strepe verloor het? 

Dan is hierdie storiebundel met 15 diereverhale net vir jou!

‘n Baie oulike boek kinders... beskikbaar by Lapa. 

Wild Karoo

geskryf deur Mitch Reardon

Wild Karoo

In hierdie boek dokumenteer die skrywer sy 4000 km ‘ontdekkingsreis’ deur die Karoo. 

Dit is pragtig geskryf en fokus veral op plaaslike natuurbewaring, groot en klein wild wat voorkom, unieke flora aangepas vir die droë omstandighede, die landskap en geologie sowel as die geskiedenis en leefstyl van die mense wat daar woon. 

‘n Besondere boek wat die bekoring van die Karoo uitstekend oordra. 

Suidooster Kombuis

saamgestel deur Errieda du Toit.

Suidooster Kombuis

kykNET se geliefde sepie SUIDOOSTER vertel die storie van die mense van 'n winkelsentrum in die Kaapse voorstad Ruiterbosch en kykers word daagliks meegevoer deur die families se vreugdes en vetes. 

Vir hulle is die mense van Suidooster soos ou bekendes van wie hulle alles wil weet, tot wat hulle sepie-familie eet. 

In Suidooster kombuis wys Mrs J, Mymoena en Stefan wat kook in hul kospotte. Hierdie boek vier die vermenging van kultuur, tradisie en nostalgie wat familie en vriende se lief en leed met kos saambind. 

“Dis pure magic, my mens...”

Die Antie met die Pienk Rok en ander Stories

Geskryf deur Jan Spies

Die Antie met die Pienk Rok en ander Stories

Ons almal weet daar is min mense wat ‘n storie soos Jan Spies kan vertel. Hierdie boek is ‘n keur van sy humoristiese vertellings. 

Maak opnuut kennis met onvergeetlike karakters soos Maans Maanse, pater Hoeflies wat ietsie neem vir die koue, Orrelkosie wat ‘n halwe dag neem om te verduidelik hoe om ‘n pil in ‘n hoender se keel af te kry, Habakuk en sy blik kondensmelk en die leerlingverpleegstertjie wat ‘n plan bedink om oumense se valstande skoon te maak. Hierdie boek kan net prettig wees en sal beslis ‘n mens se gemoed lig...

Oupa Zombie

geskryf deur Jaco Jacobs en illustrasies deur Theodore Key

Oupa Zombie

Alex se oupa het grys hare, dra valstande en kyk graag na reisprogramme op TV. Maar op ’n dag raak hy skielik mal oor … BREIIINNNSSS! Dit is duidelik dat Oupa besig is om in ’n zombie te verander. 

As Alex hom van dr. Zuurman en die zombiepolisie wil red, gaan hy ’n paar briljante planne, goeie vriende en hope broccoli nodig hê. 

En miskien kan hulle op die koop toe ook hulle droom bewaarheid om die Zambia en Egipte te siene kry!

Met Jacobs se sonderlinge kombinasie van humor en die deernisvolle uitbeelding van gesins- en ander verhoudinge, is dit nie moeilik om te verstaan waarom hy die topverkoperkinderboekskrywer in Suid-Afrika is nie.

Nadraai

geskryf deur Jaco Kirsten

Nadraai

Rocco de Witt se argitekspraktyk in Kaapstad doen goed, hy is verloof aan 'n pragtige vrou en hy woon in 'n droomhuis. 

Maar nou staan oudmakker Gert Malan voor sy deur... en die geweld van destyds kom opnuut Rocco se lewe binne. 

Sy bestaan ontaard in 'n nagmerrie - tot die onvermydelike konfrontasie wat op hom wag, daar op die plasie Nadraai.

Die Belydenis

geskryf deur Jodi Picoult, vertaal deur Daniël Hugo

Die Belydenis

Die ontdekking van ’n dooie baba op ’n Amiese plaas in Amerika, dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes. Omstandigheids-getuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie en die pasgeborene se ma, vir die moord verantwoordelik is, maar sy hou vol sy het nie die baba vermoor nie. 

Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie in die streek en kort voor lank verdedig sy teesinnig vir Katie in die hof... en toe raak dit interessant... 

Djin Patrol on the purple line

geskryf deur Deepa Anappara

Djin Patrol on the purple line

Dié storie gaan oor Jai, ’n nege-jarige seuntjie van Indië wat hou daarvan om polisie-reekse op tv te kyk. So toe ’n kind vermis raak uit sy skool, besluit Jai om sy speurder-vermoëns, soos hy dit geleer het op Police Patrol, aan te wend om die vermiste kind te probeer vind. 

Saam met sy maatjie Faiz, waag hulle dit in van die mees gevaarlike dele van die stad... Intussen het nog kinders weggeraak en die twee speurders het hulle hande vol... ’n heerlike lekkerlees verhaal wat vertel word deur Jai self. 

Boodskapper Van Die Gode

geskryf deur Murray La Vita

Boodskapper Van Die Gode

Hierdie bundel is ’n keur uit die essays, rubrieke en sketse  van die bekende en bekroonde Netwerk24-skrywer. Dit strek oor ’n groot deel van sy lewe, ervarings in oorsese lande asook tuis in Kaapstad en die wyer Wes-Kaap.

Hierdie bundel is ’n keur uit die essays, rubrieke en sketse  van die bekende en bekroonde Netwerk24-skrywer. Dit strek oor ’n groot deel van sy lewe, ervarings in oorsese lande asook tuis in Kaapstad en die wyer Wes-Kaap. 

Die subtitel “Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur” is ’n goeie aanduiding van wat die leser kan verwag. Waar hy gaan, neem La Vita graag mense rondom hom waar en luister na hul gesprekke, of gesels vlugtig met toevallige bystaanders – dit is ’n ryk bron van materiaal, soos ook gesprekke met vriende en vriendinne. 

Murray la Vita is ’n meester van klein oomblikke. Dikwels skep hy ’n skildery met woorde: ’n blote oomblik vasgevang, soos ’n foto; ander kere is so ’n oomblik die vertrekpunt wat sy gedagtes vlerke gee. Om hierdie oomblikke met hom te kan deel is ’n voorreg.

Maverick Africans, The shaping of the Afrikaners

geskryf deur Hermann Giliomee

Maverick Africans, The shaping of the Afrikaners

Suid-Afrika se top-historikus, Hermann Giliomee, ondersoek die manier waarop Suid-Afrika, en die Afrikanergroep, uniek en uitsonderlik is in vergelykende wêreldterme. Klein nasies se oorlewing as groep is voortdurend in die gedrang, en dus verskil hulle van groot volkere wat kan terugval op 'n eeuoue geskiedenis en die belofte van 'n ononderbroke toekoms. 

In hierdie opvolgbundel tot The Rise and Demise of the Afrikaners, rig Giliomee weer sy vlymskerp blik op dit wat spesifiek is aan die Afrikaners en hulle geskiedenis. Die NG-Kerk se invloed op apartheid, die buitengewone rol wat Afrikanervroue gespeel het, die staatsdiens, en die vraag oor korrupsie onder apartheid kom onder meer onder die loep. In sy laaste hoofstuk beskryf Giliomee "die gebroke hart van die Afrikaners".

Field Guide to Insects of South Africa

geskryf deur Mike Picker, Charles Griffiths en Alan Weaving.

Field Guide to Insects of South Africa

Hierdie volledige gids oor insekte is bygewerk om nou meer as 1500 verskillende spesies en insektegroepe te bespreek. 

Die boek bevat duidelike foto’s, gedetailleerde beskrywings van die verskillende spesies sowel as inligting oor habitat, biologie en verspreiding. 

Dis ideaal vir entomoloë sowel as amateurs, studente, tuinboukundiges, boere en selfs toeriste... sommer enige iemand wat belangstel in insekte.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

geskryf deur Christine Barkhuizen-le Roux

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

Corinne Prinsloo, 'n kliniese sielkundige, se huwelik is nie meer wat dit eens was nie. Dis asof haar domineeman, Frank, wegkruip in sy studeerkamer, en saans al hoe vroeër die whiskeybottel nadertrek. Die liefdevolle saamwees van vroeër het verander in 'n versigtige eierdans rondom mekaar.

Wanneer Deon, 'n oudpasiënt, haar nader om saam met hom 'n pelgrimstog te onderneem na die dorp van sy kinderjare, word Corinne voor 'n belangrike keuse geplaas. Begelei sy Deon 'n laaste maal terug na die trauma van sy verlede, of moet sy by Frank bly en self agter die kap van die byl van haar man se drinkprobleme probeer kom?

In Christine Barkhuizen-le Roux se jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, vra die skrywer skreiende, dapper vrae. Wat beteken dit om 'n goeie man te wees? Hoe raak 'n mens ontslae van die verlede? En bowenal, hoe heel jy veertig jaar later die pyn van 'n klein seuntjie genaamd Prins?

Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme

geskryf deur Albert Blake

Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme

’n Epiese reis in ’n klein seiljag van Frankryk tot aan die Namakwalandse kus gedurende die Tweede Wêreldoorlog, sabotasiepogings en planne om Eerste Minister Jan Smuts in ’n sluipmoord om die lewe te bring…

In die vroeë 1940’s is die Suid-Afrikaanse publiek aangegryp deur die uitdagende optrede van die Olimpiese bokser en swaargewigkampioen Robey Leibbrandt. Hy was dodelik gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog. Sy ekstremisme, opvlieënd-heid en onverdraagsaamheid was tipies van ’n politieke fanatikus.

Leibbrandt het ’n aanhanger van Nasionaal-Sosialisme geword toe hy in 1936 vir Suid-Afrika in Berlyn aan die Olimpiese Spele gaan deelneem het. Hy was besig met opleiding in Europa toe die oorlog uitbreek. Die Duitse militêre intelligensiediens het hom kort daarna gewerf om sabotasieopleiding te ontvang.

Die Duitsers het Leibbrandt teruggestuur na Suid-Afrika as deel van Operasie Weissdorn. Sy missie? Om die militante deel van die Afrikaner-opposisie te werf en met hulle hulp skeeps- en haweinstallasies, asook nywerhede, te vernietig, en om oproer in die Uniemagte te stook.

Dit was nie lank nie of die polisie was op Leibbrandt se spoor en hy is ná een van die grootste polisiesoektogte in hegtenis geneem. Sy hoogverraadsaak in 1943 en 1944 het hoofopskrifte gehaal.

Dié biografie werp nuwe lig op hierdie enigmatiese historiese figuur en wat sy fanatisme aangevuur het.

Strafjaart

geskryf deur Theo Kemp

Strafjaart

’n Foonoproep uit Pollsmoor laat ’n navorser se lewe kantel. Só na aan hom was die vrou wat bel dat hy algaande die biblioteek, waar hy die eerste skepe aan die Kaap bestudeer, vir dié tronk se waglokaal verruil. 
 
Gou kom hy agter dat dié plek is nie altyd so strak soos sy tralies nie: daar is ’n eertydse skipper wat hier vetkoek verkoop; ’n vrouebewaarder met jazz in haar stem; selfs karaoke-aande in die skaduwee van die lemmetjiesdraad. 
 
Dieper en dieper word hy ingetrek by die lewens van diegene wat wag om ín- of uítgelaat te word. Net toe hy dink hy kan met sekerheid sê wie aan watter kant van die hoë mure staan, moet hy begryp dat verdriet bodemloos is.
 
In Theo Kemp se Strafjaart  vervloei die strominge van ’n lewe met dié van die Suid-Afrikaanse werklikheid, waar hoop en wanhoop ’n maalkolk kan raak.

Die Alfadokument

geskryf deur René van Zyl

Die Alfadokument

Die Alfadokument is ’n nuwe genre in die Afrikaanse mark: Dit is ’n samesweringsroman, basies ’n verhaal waarin daar heelwat geheime agendas en versteekte motiewe is, waar iemand, in hierdie geval, Michaela Cohen en Josh Young, probeer om die geheime te ontrafel sodat die ware kleure van die onderduimse groep openbaar gemaak word.

Die verhaal handel oor Michaela Cohen (’n twintigjarige, loskop sosiale vlinder) wat na haar pa se skynbare selfmoord die internasionale Orde erf wat hy begin het. Die Nikolaïete Orde is ’n suksesvolle en skatryk Christen-organisasie, maar Michaela besef daar is groot fout toe sy sommer op bladsy een van die boek in die tronk beland omdat sy onwetend dwelms na Thailand toe gesmokkel het.

Sy kom gou agter dat die dwelms aan haar geplant is deur die Groot Ses, die oorblywende direkteure wat van haar ontslae wil raak. Hulle wil self in beheer bly van hulle miljoene.

Brand

geskryf deur Fanie Viljoen

Brand

'n Storie oor obsessies. Arian en Estie is in Graad 11 in dieselfde skool. Na hulle op sosiale media vriende word, begin Estie vir Arian stalk: Aanlyn, en later ook in die werklikheid. 

Eers is hy vir haar net nog 'n misterieuse vreemdeling, maar soos wat sy hom dophou openbaar hy onwetend sy diepste geheime aan haar. 

Maar Estie het geheime van haar eie, wat sy ten alle koste verberg, selfs toe sy en Arian later vriende word: Geheime wat haar haar enigste vriend kan kos.  

Hoekom nie?

geskryf deur Crispin Boyer en vertaal deur Elizabeth Wasserman

Hoekom nie?

Fassinerende en interessante feite wat die nuuskierigste kind (en grootmens) vasgenael sal hou! 

In Hoekom nie? is daar 1,111 fantastiese antwoorde en verduidelikings vir al daardie vrae waarop weetgierige kinders antwoorde soek: Hoekom hou ons nie aan met groei nie? 

Hoekom vlieg ons nie rond in straalpakke nie? Hoekom is daar nie meer dinosourusse nie? Om alles te kroon is daar ook nog top 10-lyste, raar-maar-waar feite, profiele van ontdekkingsreisigers en cool aktiwiteite! 

Beachcombing in South Africa

geskryf deur Rudy van der Elst

Beachcombing in South Africa

Almal wat genoeg tyd by die see spandeer sal weet dat daar ongelooflike natuurskatte op strande te vinde is. Hierdie boek is ’n vriendelike gids om te vertel waar jy wat sal kry. 

Die items vertel ’n mens ook meestal van biologiese aktiwiteite in die omgewing of dinge wat onder in die oseaan plaasvind, naby, maar selfs ook duisende kilometers ver. 

Dit gee inligting oor die verskillende tipe skulpies wat ’n mens kan kry en is die perfekte handleiding om te hê wanneer jy dit geniet om op die strand te loop.

Grensgeval

geskryf deur Marita van der Vyfer

Grensgeval

Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
 
Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde.
 
In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.

Poenankies

Uitgegee deur Murray and Me

Poenankies

Hierdie bundel kinderverhale bevat 13 stories geskryf deur bekende Afrikaanse kunstenaars. Hul bydraes wissel van kort gediggies soos YOMA se “My Ouma doen’it vir my” tot Gys de Villiers se fabel, “Mooiloop”. Arno Carstens raak spiritualiteit aan in sy storie “Gawie se Gesie” en Jana Cilliers se “Nulniks se nulle”, is vol simboliek en kinderlike verwondering.

Antoinette Louw se “Die avonture van Arrie en Lollie”, vertel die verhaal van ’n dogtertjie se middernagtelike reise saam met ’n vriendelike tarantula en Nathan Trantraal se “Waa’s my skoene”, skilder die komiese prentjie van twee susters se wedywering oor wie se lyding nou eintlik die grootste is.

Milan Murray skryf in "Daniël se kopklip" oor 'n ma wat 'n klip op haar kleuter se kop wil sit en Diaan Lawrenson se gedig "Jaap die knaap" handel oor 'n woelige, rooikop seuntjie met 'n aardige humeur. In Gielie Hoffmann se "'n Wolk mis" gaan ondersoek die kleine Rozanne wat anderkant die mis lê en in HemelBesem se verhaal "Kokkenotch vir jou" leer 'n jong seun by sy Oupa wat die vreemde woord 'Kokkenotch' nou eintlik beteken. Bibi Slippers skep in 'Rafi en Rocky' 'n onderwater wêreld kompleet met seebrommers, seekomkommers, see-koeie en 'n see-kat.

Spertyd

geskryf deur Elsa Joubert

Spertyd

Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur 'n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.

Nou, hier

geskryf deur Corné Coetzee

Nou, hier

Op die oppervlak van dié hoogs afgeronde digdebuut roer daar ‘n oënskynlike eenvoud, maar onderliggend is ’n web van deurdagtheid versteek. Coetzee put uit die veeldimensionele wêreld van die vrou, die groei en verbrokkeling, vreugde en pyn van verhoudings, die Boeddha, die aarde en die hier-en-nou soos gesetel in die durende gang van lewe en dood.

Churchill & Smuts: Die Vriendskap

geskryf deur Richard Steyn

Churchill & Smuts: Die Vriendskap

Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is ’n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende wêrelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag. Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans ’n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, bestudeer dié hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is. Dit is ’n fassinerende verhaal oor twee besonderse individue in oorlog en vrede – die een die leier van ’n groot ryk, die ander die leier van ’n klein, weerspannige lid van daardie ryk.

Kokkedoortjie

saamgestel deur Errieda du Toit

Kokkedoortjie

Dié boek volg in die spore van die Kokkedoor sowel as Koekedoor boeke wat na aanleiding van die gewilde reekse op kykNET uitgegee is. Dié kookboek is dus ‘n versamelstuk vir die aanhangers wat die Kokkedoortjies leer lief kry het en wil bak en kook soos hulle. Dis ‘n gesinskookboek, ‘n kinderkookboek, ‘n kookboek vir die kind in ons almal. Dit verweef elke dag se staatmakerresepte met ‘n unieke bestanddeel – die kleurvolle verbeelding van ‘n kind. 

My Wonders-Van-Die-Wereld-Atlas en My diere-atlas

uitgegee deur Human & Rousseau

My Wonders-Van-Die-Wereld-Atlas en My diere-atlas

Hierdie atlasse is vol fassinerende feite, geillustreerde kaarte, tekeninge en foto’s oor die natuurlike en mensgemaakte wonders van ons planeet en oor die diereryk. Jy kry boonop baie plakkers om op die wêreldkaart en in die boek te plak. Dis ‘n prettige manier om te leer waar die wêreld se wonders is en waar sekere diere voorkom. Kinders tussen 6 en 10 jaar sal mal wees daaroor. 

Groen soos die hemel daarbo

geskryf deur Eben Venter

Groen soos die hemel daarbo

Simon is ’n wêreldreisiger, vertroud met die reëls van vryheid en ongebonde plesier. Van Bali tot Melbourne, van Tokio tot Kaapstad, soek hy ontmoetings en ervarings op. Deurentyd keer herinneringe terug: kleintyd in die Oos-Kaap, sy pa, die plaas en voorligting aan die hand van ’n beesboerdery. In sy sielkundige se spreekkamer bind Simon die grepe van oomblikke en ervarings saam, met dr. Spiteri se insigte. ’n Vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit.

Dagstukkies vir besige vroue

geskryf deur Christelle Webb-Joubert

Dagstukkies vir besige vroue

Van ’n vrou word in vandag se wêreld baie verwag. Ons is ma’s, beroepsvroue, huweliksmaats, vriendinne én steunpilare vir almal om ons. Hierdie dagstukkieboek is vir elke vrou wat maar alte goed weet dit is nie altyd so maklik nie. Die lewe deel soms houe uit, en ook ma’s, oumas en ware staatmakers kan moeg, moedeloos en gefrustreerd voel. In die boek, deel bekende vroue boodskappe van hoop. Hulle wil jou herinner dat jy nie alleen is nie, dat jy nie skaam hoef te voel wanneer die lewe jou oorweldig nie, en dat jy altyd maar kan vashou aan dié wete: Jou hemelse Vader ken jou, Hy weet wat jy nodig het en Hy sal jou nooit in die steek laat nie. Begin jou besige dag met ’n oomblik van troos, vrede en vreugde.

Ratels aan die Lomba: die storie van Charlie-eskadron

geskryf deur Leopold Scholtz

Ratels aan die Lomba: die storie van Charlie-eskadron

Op 3 Oktober 1987 het Charlie-eskadron – die ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep – die kritieke geveg tussen die Suid-Afrikaanse Weermag en die Angolese magte op die Lombarivier in die suide van Angola gelei. Dié boek plaas die leser in die midde van die groep jong dienspligtiges wat na die Grensoorlog weggevoer is om hierdie geveg te gaan voer. Op die Lomba het hulle nie net te staan gekom teen ’n Angolese mag met ’n getalsoorwig en beter wapentuig nie, maar ook teen ’n terrein wat so dig bebos was dat hul sig en beweging aansienlik ingeperk is. Die SAW se taktiese doktrine het duidelik gestel dat tenks teen tenks aangewend moes word. Tog moes die dienspligtiges die Angolese tenks aanvat in pantservoertuie met minder kragtige kanonne en dun pantser wat nie veel meer as gewone geweervuur kon afweer nie. Steeds is 47 Brigade van die Angolese magte amper uitgewis tydens die geveg op die Lomba. Scholtz se beskrywing van hierdie David teen Goliath geveg neem die leser na die hart van die aksie. Danksy onderhoude met veterane en dagboekinskrywings dra hierdie eerlike, intense hervertelling die volle drama van die geveg oor. Dit is ook ’n diep menslike verhaal oor hoe individue reageer in die aangesig van die dood.

Knapsekêrels

geskryf deur Pieter Fourie

Knapsekêrels

Pieter Fourie is 'n Hertzog­bekroonde dramaturg wat op 77 nou die oudste debutant in Afrikaanse poësie is. Die digter Johann de Lange skryf oor die bundel dat dit lanklaas is wat ‘n digter met soveel ywer met die volkstaal omgegaan het. ‘Ons ken die hardnekkige knapsekêrels wat aan mens se klere of kouse vassit. By Fourie is dit die taal self wat so hardnekkig bly klou en gaandeweg ontplooi die digter ook ander betekenisse, ander maniere waarop die titel gelees of verstaan moet word.

Boerekos met 'n twist

geskryf deur Annelien Pienaar

Boerekos met 'n twist

In Boerekos met ’n twist gee Annelien ’n kwyllekker kinkel aan die eenvoudige, voedsame huiskos wat jou ma, ouma en oumagrootjie gemaak het. Dié 140 familieresepte vir soppe, souse, groente-, vleis- en nageregte én gebak en spenstreffers is getoets, bevat g’n vreemde bestanddele nie en sit die “resep-met-’n-les”-konsep voort wat haar gelyknamige blog en Facebookblad so 'n sosialemediasukses maak. Boerekos met 'n twist kan beskryf word as 'n kompakte 21ste-eeuse Kook en Geniet vir besige mense.

Hekel teëlmotiewe met ‘n Verskil

geskryf deur Karen Adendorff

Hekel teëlmotiewe met ‘n Verskil

Hekel is deesdae baie gewild en die bekende ‘oumablokkie’ maak weer orals sy verskyning. Hierdie hekelboek bied vars en oorsponklike idees vir motiewe, wat insluit Marokkaanse, Delftse, Persiese en Mediterreense blokpatrone met interessante tegnieke. Elke patroon bevat ‘n diagram, die grootte, die aantal kleure, die moeilikheidsgraad en die volledige patroon.

Die wêreld van Charlie Oeng

geskryf deur Etienne van Heerden

Die wêreld van Charlie Oeng

Tian Kilian se ouers is voor sy oë vermoor die aand van die vuurwerke. Nou reis hy Amsterdam toe, Ooste toe, oral op die spoor van Charlie Oeng, om daardie tyd se pyn uiteindelik te kan verstaan. Feit en verdigsel is goed verweef in hierdie roman met verskillende verhaallyne en dis beslis ‘n lekker boek vir die literêre fundi’s onder ons...  

JAN SMUTS – VAN BOERSEUN TOT WÊRELDVERHOOG

Hoofredakteur: Prof. Kobus du Pisani

JAN SMUTS – VAN BOERSEUN TOT WÊRELDVERHOOG

Jan Smuts, een van die bekendste Suid-Afrikaners van die twintigste eeu, bly 'n omstrede figuur. Was hy een van die uitstaande staatsmanne van sy tyd of dalk 'n verraaier van Afrikanerbelange en moontlik 'n rassis? In hierdie boek word generaal J.C. Smuts herwaardeer. Smuts se rol as intellektueel (onder meer vader van holisme), militêre strateeg (hy het 'n leidende rol tydens drie oorloë gespeel), politikus (vir 'n halwe eeu in die "era van die generaals" was hy prominent) en staatsman (hy was 'n dryfkrag agter die vorming van die Unie van Suid-Afrika, die Britse Statebond, die Volkebond en die Verenigde Nasies) word beoordeel. Altesaam 20 outeurs het help skryf.

Paaie van Hoop

Nadia Beukes-De Villiers

Paaie van Hoop

In hierdie boek vat Nadia ’n mens saam as passasier op die paaie wat sy al geloop het. Dit was nie altyd reguit maklike paaie nie... daar was kronkelpaaie, snelweë, bergpasse en ompaaie en sy deel haar hartseertye, maar ook haar vreugdetye. Sy skryf prontuit oor die dinamika van mens-wees, die kuns van die lewe en hoe mense reageer op foute en teleurstellings.

Deeg

geskryf deur Theresa de Vries

Deeg

Hierdie boek word beskryf as die enigste boek oor deeg wat jy ooit sal nodigkry. Alle soorte deeg om terte of pasteie te maak word berspreek. Dit sluit in broskors, blaarkors en skilferskors om maar net ’n paar te noem. Dit dek ook algemene foute wat by deeg kan voorkom en die oorsake daarvan. En om die terte of pasteie te laat pronk gee Therese wonderlike aanwysings oor hoe om dit alle te versier. Word ’n bobaas-bakker met hierdie boek wat selfs moeilike deegresepte maklik maak.

Oor Berge en Dale - Op reis met 'n monumentjagter

geskryf deur Jackie Grobler

Oor Berge en Dale - Op reis met 'n monumentjagter

Daar is nie ’n grondpad te sinkplaat, plaasdraad te hoog of aanwysings te gebrekkig om Jackie Grobler te keer nie. As hy eers ’n monument in sy visier het, sal hy dit vind. In hierdie boek reis hy oor berge en dale van Lichtenburg in Noordwes tot die heuwels van Tabankulu in die Oos-Kaap op soek na interessante monumente en gedenkplekke.

Van die monumente is bekend en vertel van groot keerpunte in ons geskiedenis. Ander is weggesteek en bring onbekende verhale in die lig. Grobler reis onder meer op die spoor van Voortrekker Carel Trichardt deur Mpumalanga en in KwaZulu-Natal gaan hy na die slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog en hy besoek ook struggle-gedenkplekke. In Gauteng vind hy monumente ter ere van twee van Suid-Afrika se grootste leiers: Nelson Mandela en Jan Smuts.

In die Vrystaat soek hy na oorblyfsels van twee konsentrasiekampe en in Limpopo kom hy af op monumente aan ’n Anglo-Boereoorlogkanon (die Long Tom). Sy reise na die Oos-Kaap neem hom na gedenkplekke vir Steve Biko en in die Wes-Kaap gaan hy op die spoor van die Portugese ontdekkingsreisigers.

Elke provinsie sal ’n kaart hê wat die monumente aandui. ’n Boek vir liefhebbers van die langpad én vir leunstoelreisigers.

Ekseem - Jou noodsaaklike gids

geskryf deur Regina Malan

Ekseem - Jou noodsaaklike gids

Ekseem is ’n veltoestand waaraan tussen 10 en 20% van alle mense ly en dit word gekenmerk deur rooiheid en 'n gekrap. In dié boek word gekyk na presies wat ekseem is, die oorsake daarvan, hoe dit behandel en beheer kan word, asook hoe ekseem by onderskeidelik kinders en volwassenes lyk. Dit bevat nuttige wenke, gevallestudies en voorstelle en is ook beskikbaar in Engels. 

Uitgerys

geskryf deur Mareli Visser

Uitgerys

Wat is nou beter as ’n varsgebakte brood... hierin deel Mareli al haar beste suurdeeggebak-resepte. Dit sluit in resepte vir basiese brode; ontbytbrode; bolletjies, rolletjies en stokkies; brood vir braai; platbrode; gevulde brode; soetbrode en pronkbrode. Selfs vir oorskietbrood het sy wonderlike planne. Sy verduidelik ook hoe om jou eie gisplantjie te kweek en die basiese prosesse van gisting, knie, rys, vorming en uiteindelik bak. In ’n wêreld van massaproduksie is dié boek oor regte vakmanskap ’n vars briesie vir gebak.

Tracker Manual

geskryf deur Alex van den Heever, Karel Benadie en Renais Mhlongo

Tracker Manual

Hierdie boek is ’n praktiese gids om ’n mens te leer hoe om diere te volg in die bos. Dit is een van die enigste van sy soort wat beskikbaar is en maak gebruik van die wyshede van die paar oorblywende tradisionele ‘trackers’ waarvan daar nie meer baie oor is nie. Jagters sal veral die boek baie interessant vind. 

Lekker en Vinnig Kookboek-Reeks

uitgegee deur Lapa

Lekker en Vinnig Kookboek-Reeks

Dit sluit in: Lekker en Vinnig Hoender, Souse, Yskasterte, Potjiekos, Tradisionele kos en Lekkers. Elke boek bevat 20 smulresepte waarvan die bestanddele maklik bekombaar is en dis maklik en vinnig om te maak. Heerlike boeke om in jou boekrak te hê vir enige geleentheid.

Man van Cirene

geskryf deur F.A. Venter

Man van Cirene

Hierdie klassieke topverkoper is nou weer beskikbaar. Simon van Cirene word gelas om Jesus se kruis te dra op pad na Golgota. Simon, die man wat nie glo nie. Maar hoe kan ’n mens onveranderd gelaat word deur ’n ontmoeting met Christus? Hierdie is die verhaal van Christus se aanslag op ’n heidense wêreld, maar veral ‘n verhaal van verlossing: die oorwinning van die gees oor die aardse... 

Say Again, The other side of South African English

deur Malcolm Venter en Jean Branford

Say Again, The other side of South African English

Hierdie boek poog om die leser op verskeie voorbeelde van Suid-Afrikaanse Engels te trakteer. Kennis oor hoe Suid-Afrikaanse Engels van ander Engels verskil, kan nuttig wees vir Engelstaliges uit ander dele van die wêreld wat soms wonder wat op aarde ons bedoel. Die boek fokus op woorde en frases uit verskillende aspekte van die lewe – sommige is ernstig en ander minder ernstig.

Soek en Vind 3D Boek 1 en 2

uitgegee deur Human en Rousseau

Soek en Vind 3D Boek 1 en 2

Hierdie prettige boeke met plakkers sluit ‘n 3D bril in waardeur kinders na wonderlike 3D-illustrasies kn kyk wat lyk of hulle uit die bladsye spring. Op die besige en kleurvolle bladsye kan kinders eok na voorwerpe en die karakters wat snaakse goed in die verskillende tonele aanvang en ongelooflike avonture beleef asof hulle self daar is.

Skool is ’n riller

saamgestel deur Marianna Brandt

Skool is ’n riller

Die boek bevat 20 grillerige stories wat jou nekhare sal laat rys en jou laat wens dat die skoolklok vir huis-toe-gaan-tyd wil lui... Geluide in geheimsinnige donker gange, monsters, mummies, moordenaar onderwysers en vreemde wesens... is alles deel van hierdie heerlike boek vir kinders van nege tot twaalf jaar. 
Copyright © Ontbytsake 2021 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site