Filet Mignon(Varkfillet) met Pikante Amandelsous, geglasuurde wortels en eenvoudige roketslaai
Metode vir Varkfillet:
• Maak seker al die seningrige harde wit stukkies is afgesny van die kant van die filet.
• Sny medaljes van so 5 cm elk.
• Sout en peper. Rol die filetstukke in sout en peper op ‘n bord om seker te maak dit is eweredig versprei.
• Rol elke filetstuk in meel. Skud ekstra meel af.
• Smelt botter en ‘n skeut olie in ‘n medium-warm pan.
• Braai filetstukke ongeveer 3 minute aan elke kant.
• Sit nou die smalkant van die filitstukke op bodem sodat dit oraloor braai. Ongeveer 1 minuut.
• Verwyder kleiner stukke en los die groter stukke nog ‘n bietjie in die pan.
• Dit moenie brand nie. Net mooi gaar word, goudbruin aan die buitekant en sappig aan die binnekant.
• As jy nog nie reg is om te bedien nie, plaas vleis in ‘n oondbak voorverhit tot so 150 grade.
Bedien met pikante amandelsous, geglasuurde wortels en ‘n eenvoudige roketslaai
Pikante, romerige Amandelsous(Renette se voorstel!)
Bestanddele:
5cm/duimgrootte knop vars gemmer, rof gekap
1 k gladde amandelbotter
2 E varsuitgedrukte suurlemoensap
1 E heuning
1 t gerookte paprika( daai fancy blou blikkie van spanje – dit maak nogals ‘n groot verskil aan die smaak)
¼ t rooipeper
Sout
Varsgemaalde swartpeper
1/3 koppie yskoue water
Metode:
Kap die gemmer fyn in ‘n voedselverwerker op die polsfunksie. Gooi water eerste in voedselverwerker. Anders sit die amandelbotter aan die bodem vas. Voeg die amandelbotter, suurlemoensap, paprika, heuning en rooipeper by die water en verwerk op die polsfunksie. Voeg meer water by per eetlepel vol om die sous te verdun soos nodig, totdat dit mooi glad is. Onthou om die kante van die voedselverwerker af te skraap om al die bestanddele lekker te meng. Voeg sout en peper na smaak by en pols weer ‘n paar keer. Proe hoe dit smaak en pas sout en peper aan na smaak. Jy kan hierdie sous tot 3 dae voor die tyd maak. Hou dit in yskas en bring tot kamertemperatuur voor gebruik. As jy dit bietjie meer byt wil gee, gebruik meer rooipeper. Vervang die heuning met Esdoringstroop(maple syrup) om hierdie sous veganisties te maak. Jy kan dit gebruik by enige gebraaide vleis, oor geroosterde groente asook as slaaisous. Vir slaaisous kan jy nog yskoue water byvoeg en dit meng tot weer glad en dunner en giet dit oor jou slaai!
Geglasuurde wortels met pangeroosterde amandelvlokkies
Bestanddele:
½ k Amandelvlokkies, rou
30 g botter
800 g babawortels, geskil en mooigemaak
2 t fyngerasperde lemoenskil(zest)
¼ t (60ml) lemoensap(druk sommer van dieselfde lemoen vars sap uit)
2 E droë witwyn
2 E Esdoringstroop(maple syrup)
Metode:
Smelt botter in ‘n groot pan en laat die wortels sag kook daarin tot amper gaar. Voeg die lemoenskil, lemoensap, wyn en stroop by en bring tot kookpunt. Verminder die hitte, prut onbedek, totdat al die vloeistof amper verdamp het en die wortels sag en gekarameliseerd is. Voeg vir die lekkerte nog so klontjie botter oor die wortels net voor jy dit van die hitte afhaal.
In ‘n skoon droë pan, op mediumhitte, rooster die amandelvlokkies. Roer nou en dan sodat die vlokkies oraloor ‘n pragtige bruin kleur kry en nie vasbrand nie en hul geur verdiep.
Bedien die wortels bestrooi met die pangeroosterde amandels
Eenvoudige vars roketslaai
Bestanddele:
Bedien 4-6
2 E Olyfolie
2 E vars suurlemoensap
1/8 t sout
Varsgemaalde swartpeper
5 gepakte koppies roketblare
2/3 k dungesnyde Parmesaankaas
Metode:
Klits die olyfolie, suurlemoensap, sout en ‘n bietjie gemaalde swartpeper saam in ‘n groot bak. Voeg die roketblare by en roer die vinaigrette deur sodat al die blare bedek is.
Strooi die parmesaansnye bo-oor en bedien dadelik.
Jy kan die slaaisous tot 5 dae voor die tyd maak en stoor in ‘n lugdigte houer in die yskas. Klits net weer voor gebruik.
Jy kan ook die parmesaankaas vervang met verouderde kaas. Hoe langer die kaas verouder is, hoe lekkerder. So “mature’ of “vintage”kaas is lipleklekker by roketblare met hierdie eenvoudige slaaisousie.