By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Salm-Bagels

Salm-Bagels

Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:
4-6 Bagels (van jou naaste Bakkery)

Maaskaas-smeer: 
2 bakkies Maaskaas
Grasuie, fyn gekap
Pietersielie, fyn gekap
Skil van een suurlemoen
Suurlemoensap van halwe suurlemoen
Sout en peper

4 - 6 100 g pakkies Spar Gerookte Salm 

2 Avokados
1 Rooi ui, in fyn ringe gesny
Dille kruie
1 komkommer, in linte gesny
Vars Roketblare

Metode:
Meng al die bestanddele van die maaskaas bymekaar en hou eenkant tot benodig.

Berei al die ander items voor en maak gereed vir die bymekaarsit van die bagel.

Rooster die bagel se twee halwes in jou broodrooster, smeer die maaskaas op die bagel, plaas die roketblare, avokado, rooi uie, salm, dille en laastens die komkommerlinte bo-op. 

Gooi swartpeper en sout oor en maak toe met die bokant van die bagel en sit voor op jou opdienbord.  

Knoffel-en-kruie Lamstjops met Avokado-en-ertjieslaai en Papawersaad-slaaisous

Knoffel-en-kruie Lamstjops met Avokado-en-ertjieslaai en Papawersaad-slaaisous

Aantal Porsies: 4-6  mense
Drankie Voorstel: Francois van Niekerk Pinotage 2019

Bestanddele:
6-8 Spar lamskouertjops

Knoffel en kruie marinade:
Handvol Tiemie
Handvol Roosmaryn
Handvol Pietersielie
4-6 knoffelhuisies
½ k First Choice Olyfolie
30 ml rooiwynasyn
1 groot ui
Sout en peper

Slaaisous:
40 ml suurlemoensap
30 ml appelasyn
1 t Dijon-mosterd
1 knoffelhuisie
50 ml Papawersade
80ml First Choice Olyfolie
Sout en peper

Slaai:
Groen en pers of rooi slaaiblare
Sneeu-ertjies
Bevrore ertjies
1-2 ryp avokado’s
1 pakkie sprietuie
Handvol kruisementblare

Metode:
Meng al die bestanddele vir die marinade en plaas in ‘n voedselverwerker. Maak fyn tot ‘n pasta en smeer oor al die tjops.  Plaas in die yskas vir minimum twee ure of oornag sodat die vleis kan marineer.

Voorverhit die oond tot 180 grade. 

Gebruik ‘n oondbestande pan en sit eers op jou stoofplaat en seël die vleis vir  twee minute aan beide kante. Plaas die pan dan in die oond vir 10 minute op 180 grade en laat verder rooster tot mediumgaar. Haal uit die oond en laat rus vir 5 minute voor opdiening. 

Slaaisous: Meng al die bestanddele van die slaaisous bymekaar met ‘n ballon-handklitser. Neem nou al jou slaai-elemente en plaas solank in jou opdienbord ‘n paar minute voor jou vleis gereed is. Sit voor en geniet. 

Steak-slaai met maaskaasballe en framboos-slaaisous

Steak-slaai met maaskaasballe en framboos-slaaisous

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:
Vleis:
2 stukke Spar-steak van jou keuse
Sout en Peper
Olyfolie vir braai

Slaai:
1 pak gemengde slaaiblare
½ Rooi ui, in repies gesny
Rooi Kool, in repies gesny
Boontjiespruite 
Pampoensade
Frambose 

Maaskaasballe: 
First Choice Chunky Cottage Cheese
First Choice Smooth Cottage Cheese
Paprika
Pietersielie, fyn gekap

Slaaisous:
First Choice Olyfolie
First Choice Balsamiese Asyn
First Choice Framboos ‘Dessert topping’
 
Metode:
Berei die vleis voor met sout, peper en olyfolie , braai dan in ‘n baie warm pan vir ongeveer 4 min aan ‘n kant, tot mediumgaar. Plaas die vleis eenkant en laat rus tot jy dit benodig.

Vir die maaskaasballe meng jy die twee soorte maaskaas. Neem twee teelepels en vorm balletjies met die teelepels, plaas op ‘n bord en terug in die yskas of vrieskas net om styf te word sodat jy daarmee kan werk, as dit uit die yskas of vrieskas kom, rol dit in mengsel van paprika en gekapte pietersielie.
Berei jou slaai voor en plaas op die bord saam met die vleis wat in dun repies gesny is, asook die maaskaasballe.

Vir slaaisous gebruik jy ‘n mensel van First Choice olyfolie, Balsamiese asyn en die First Choice Framboos ‘Dessert Topping’.

Hoendervlerkies met Camembert-pakkies en Bessiesous

Hoendervlerkies met Camembert-pakkies en Bessiesous

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 4-6  mense

Bestanddele:
1 kg Spar Buffalo style Chicken Wings
Filovelle, (in vierkantige groottes gesny)
First Choice Camembert-kaas
First Choice Botter

First Choice ‘Dessert Topping’ souse:
- Cherry
- Blueberry
- Mixed Berry
Vars Roketblare

Metode:
Plaas die hoendervlerkies in ‘n oondpan met bakpapier, sit die oond op 180-200 grade en rooster vir ongeveer 20-25 minute. 

Neem die filo-vierkante en smeer elkeen met gesmelte botter. Plaas vier van die vierkante bymekaar en druk saam. Plaas in ‘n klein muffin-pan en smeer nog ‘n bietjie gesmelte botter op met die koskwas. Plaas in die oond op 180 grade vir 10-15 min of tot goudbruin. 

Bedien die Camembert-pakkies met ‘n kombinasie van die First Choice ‘dessert toppings’ wat in bakkies gegooi is.

Dis ‘n maklike en vinnige voorgereg-bord met min moeite en tyd.

Pekanneuttert met Brandewyn-Maaskaas

Pekanneuttert met Brandewyn-Maaskaas

Oond / Stoof Temperatuur: 180 grade
Aantal Porsies: 4-6  mense
Drankie Voorstel: Olof Bergh Brandewyn 

Bestanddele:
Pekanneuttert-vulsel:
1 k/ blikkie kondensmelk
1 k toffies, fyn gekap
1 eier
1 ½ k pekanneute, fyn gekap
1 klein Barone sjokolade
50 ml First Choice Karamel-nageregstroop

Vir die tertkors:
2 k koekmeel
½ k versiersuiker
1 k ongesoute botter, in blokkies gesny
1 t vanielje

Brandewyn-Maaskaas:
250 g First Choice maaskaas
250 ml dubbeldik room (styf geklop) 
75 ml brandewyn 
5 ml vanielje-ekstrak 
50 ml heuning 

Metode:
Berei die kors in ‘n voedselverwerker volgens die polsmetode totdat die deeg 'n bal vorm. Rol tussen twee velle plastiek. Dra oor na tertpan of druk direk in die geriffelde tertpan. Prik met vurk en bak op 180 grade tot ligbruin.

Meng al die bestanddele vir die pekanneutmengsel en voeg in warm tertdop. Verlaag die temperatuur tot 180 grade en bak tot gaar en donkerbruin. Laat koel af en dop uit tertpan.
Vir die maaskaas-brandewyn-room, voeg al die bestanddele in ‘n glasbak en meng saam. Indien jy gewone room gebruik, kan jy dit net eers styfklop en dan by die res van die mengsel invou. 

Garneer met kruisementblaar en ‘n paar ekstra neute.

Bunny Chow

Bunny Chow

Oond / Stoof Temperatuur: 4 ure op 160-180 grade
Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
Omtrent 1.5 kg Bees Shin
1 Blokkie Beesaftreksel 
1 ½ k warm water
2 blikkies Klappermelk
2 groot uie, fyn gekap
1 t Origanum
2 t Raja Kerriepoeier
2 E Rooi Kerriepasta
1 t vars knoffel
1 t vars borrie
1 t vars gemmer
2 E vis olie
1 t droe borrie
Sout en peper
1 vars suurlemoen sap
Paar aartappels in blokkies gesny

Raita:
1 k dubbel First Choice Joghurt
½ k gerasperde komkommer
Sout en peper
½ t fyn korriander
½ t fyn komyn
½ k vol vars koljander en kruisementblare, fyn gekap
Sout en peper

Broodjies:
Koop deeg by jou naaste supermark. Plaas die deeg in pannetjies wat gespuit is met kleefwerende sproei. Laat rys vir ongeveer 30 min en plaas in die oond om te bak tot gaar en goudbruin.

Vars koljander en gekapte rooi uie vir garnering.

Metode:
Sëel en verbruin die vleis aan albei kante in ‘n pan. Plaas in die oond in ‘n kastrol. In dieselfde pan waarin jy die vleis geseël het, gooi al die droë bestanddele in die pan met ‘n bietjie ekstra olie sodat die uie saam met die geure ontwikkel. Sodra dit vir paar minute geprut het, kan jy die vloeistof ook in die pan gooi. Na dit gemeng is, gooi oor die vleis in die oondbak. Plaas in die oond vir ongeveer 3-4 ure. 

Kyk na ongeveer ‘n uur en half na 2 ure of die vloeistof genoeg is. Indien nie, voeg nog beesaftreksel by. Voeg nou die aartappels ook by.  Sodra die vleis gaar is, los dit vir so 30 minute om af te koel en verwyder die bene. Sny ook die vleis in kleiner stukkies. 

Na jou broodjies gaar is, sny die doppie af en maak ‘n holte in die sagte middelste deel van die brood. Dit dien as jou bakkie vir die vleis. Gooi die vleis daarin en garneer met vars koljander, rooi uie en swart peper.

Gevulde Beesfilet met BBQ-sous en Patatskyfies

Gevulde Beesfilet met BBQ-sous en Patatskyfies

Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
6 Beesfilet-stukke in groot medaljes gesny
Het Vlock Casteel Olyfolie

Vulsel:
1 Pakkie spek, fyn gekap
1 wit ui, fyn gekap
2 E Het Vlock Casteel uiemarmalade
1 t Het Vlock Casteel Dukah Komyn
First Choice swartpeper gegeurde Baby Gouda Kaas
First Choice Verouderde Cheddar

Metode: 
Maak ‘n snytjie in elke filetmedalje om ‘n sakkie te vorm waarin jy die vulsel kan plaas. 

Vir die vulsel, braai jy die uie, spek en uiemarmalade saam in die pan tot gaar. Voeg laastens die dukkah by. Laat afkoel en vul die filetstukke met die vulsel en kaasrepies. 

Smeer die filet met olyfolie, sout en swartpeper en braai in ‘n pan of op ‘n vuur vir ongeveer 4 minute aan ‘n kant.

BBQ sous:
‘n Kombinasie van tamatiesous, sojasous, donker sjokolade, sterk swart koffie en gerookte paprika. Ek het so twee eetlepels van elk gebruik, jy kan ook ‘n bietjie rooiwyn bygooi vir vloeibaarheid.

Oranje Patatskyfies:
4 groot Oranje Patats, in skyfies gesny

Gooi olyfolie, sout en peper of aartappel-spesery oor die geblansjeerde skyfies en bak in die oond vir ongeveer 20-25 minute teen 180 grade tot goudbruin.

Franse Hoender in Rooiwyn met Soetpatats

Franse Hoender in Rooiwyn met Soetpatats

Oond / Stoof Temperatuur: Oond 180 grade 
Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
2 Pak SPAR Hoenderdye
½ k meel
Sout en peper
Origanum
Het Vlock Casteel Olyfolie
1 E First Choice botter
10 Baba-uie
1 pakkie spekblokkies
1 pakkie sampioene
2 E Het Vlock Casteel uie-marmalade
6 Het Vlock Casteel gepekelde knoffelhuisies 
Handvol Het Vlock Casteel Calamata Olywe
Handvol Het Vlock Casteel Baceto Olywe
250 ml rooiwyn
250 ml hoender- of beesaftreksel
2 E tamatiepasta
2 E worcestersous
1 t hoendermarsala
½ t tiemie

Fillo-Bakkies:
Botter 
Fillo-deeg

Soetpatats:
1 kg patats
½ k suiker 
2 E First Choice botter
Knippie sout
½ t kaneel
1 klein pynappel, fyn gekap
Sap van 1 lemoen
60 ml First Choice room

Metode: 
Meng die meel, sout, peper en origanum in ‘n bak. Rol die hoenderdye in die meel om dit ten volle te bedek. Skud liggies af en braai in die olyfolie tot goudbruin. Plaas eenkant tot benodig.

Braai die uie, spek en sampioene in die dieselfde pan waarin jy die hoender gebraai het tot goudbruin. Voeg die hoender, sampioenmengsel asook die olywe, uie-marmalade en al die vloeistof en geurmiddel in ‘n oondbak en bak teen 160 tot 180 grade vir ongeveer 2 ure. Die sous sal self vorm. 

Fillo-bakkies:
Sny die fillo-deeg in vierkantige blokkies en gebruik omtrent 3 lae en plaas in ‘n kolwyntjie-pannetjie. Neem jou verfkwassie en verf met gesmelte botter. Bak dit in die oond vir ongeveer 8-10 minute op 180 grade tot goudbruin.

Soetpatats:
Voeg die botter en suiker in ‘n kastrol en laat smelt om ‘n karamel te vorm. Voeg die geskilde, gekapte patats by saam met ‘n bietjie water en laat kook tot sag. Voeg die pynappelstukkies gedurende die laaste vyf minute by saam met die kaneel, lemoensap en room. Maak dit fyn en dien op in jou fillo-bakkies saam met die hoender.  

Pasta met Lamsnek-ragu

Pasta met Lamsnek-ragu

Oond / Stoof Temperatuur: Oond 160 grade 
Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
2 Heel SPAR Lamsnekke
1 blikkie tamaties
Sout en peper
2 selderystokkies, fyn gekap
2 wortels, fyn gekap
1 bruin ui, fyn gekap
½ t droë origanum
½ t droë tiemie
½ t gemmer
Het Vlock Casteel gepekelde knoffel
1 E Het Vlock Casteeel Waterblommetjie Blatjang
1½ k beesaftreksel
½ k wyn 

Metode:
Plaas die heel lamsnekke in ‘n potjie of oondbak. Voeg al die bestanddele, sout peper, origanum, tiemie, gemmer, tamatie, seldery, wortel, uie, knoffel en blatjang in die oondpan. Voeg laastens die vloeistof, wyn, aftreksel ook by. Plaas dit nou in die oond, vir ongeveer ¾ uur teen 160 grade. Hou net die vloeistof dop en voeg nog by indien nodig. Wanneer die lamsnek gaar is, haal uit die oond, plaas op ‘n bord en trek uitmekaar.

Gebruik ‘n voedselverwerker en verpulp die res van die sous tot glad. Jy kan nog bietjie vloeistof byvoeg indien jy vind dis bietjie dik. Hou eenkant en gebruik as jou ragu-sous met opdiening.

Kook jou pasta vir ongeveer 8 min tot gaar (al dente), gooi die water af en voeg net van Het Vlock Casteel se olyfolie en Olive Pesto by vir ekstra geur en lekkerte.

Gebruik dan die pasta jou vleis en ragu sous en dien jou bord volgens keuse op.

Gebraaide Sirloin Biefstuk met Eiervrug

Gebraaide Sirloin Biefstuk met Eiervrug

Aantal Porsies: 4 mense

Bestanddele:
2 Pakke Spar ‘Steak & Co’ Klass A Sirloin Biefstuk
Sout en Peper
Het Vlock Casteel Olyfolie

2 groot eiervrugte
Het Vlock Casteel Olyfolie
Sout en Peper.
Het Vlock Casteel Uie-marmelade 

Kortsteel Broccoli 
Het Vlock Casteel Olyfolie

Baba-aartappels 
Het Vlock Casteel Olyfolie

Suurroom:
250 ml First Choice Room
1 vars suurlemoen

Metode:
Sny die eiervrug in blokkies, laat lê in koue water met ‘n bietjie sout vir ongeveer 10 min. Gooi die water af en maak die eiervrug droog met ‘n kombuislap.  Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier, sit jou eiervrug-blokkies op die bakplaat en geur met sout, peper en olyfolie. Plaas in die oond om te rooster vir ongeveer 20 minute op 200 grade. Na jou eiervrug klaar gerooster is, gooi dit in ‘n braaipan en braai vir ongeveer 2 minute met die uie-marmalade en meng dit goed deur. Plaas eenkant tot opdiening.

Blansjeer die broccoli in water vir 3 minute, gooi die water af, voeg dan 2 eetlepels botter en peper by en braai vir ‘n verdere 2 minute. 

Spoel baba aartappels af en kook in ‘n pot met water tot gaar, sny dit halfpad in ‘n kruis en druk met jou vingers sodat dit ‘n gaaitjie vorm. 

Vir die suurrom, gooi die room in ‘n bakkie en voeg die vars suurlemoensap en ‘n knippie sout by. 

Plaas die baba aartappels op ‘n bakplaat met ongeveer 1 teelepel Het Vlock Casteel olyfolie op elke aartappel en bak in die oond vir ongeveer 10-15 minute. Haal uit die oond en garneer met suurroom en pietersielie.

Geur jou vleis met sout, peper en olyfolie, braai vir 4 minute aan ‘n kant of tot jou keuse van gaar op ‘n ysterplaat of in die pan.

Na al jou elemente klaar is, bedien jou bord soos verkies. 

Beesfilet met Bessie-kompot en Bloukaas

Beesfilet met Bessie-kompot en Bloukaas

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 4 mense
Wenk: Die bessie-kompot hou 'n paar weke goed in die yskas en werk ook uitstekend as deel van 'n informele kaasbord.

Bestanddele:
Bessie-kompot: 
100 g (ongeveer 1 k) gedroogde bosbessies
½ koppie Het vlock Casteel se Druiwe Rosyne
250 ml (1 k) rooiwyn
1 t gemengde spesery of neut muskaat 
 1 t kaneel
60 ml First Choice Bessie Nageregstroop
30 ml Het Vlock Casteel Druiwestroop

Vir die beesfilet:
Spar Beesfilet 800 g tot 1 kg
30 ml (2 E) ekstra suiwer Het VLock Casteel olyfolie
Sout en peper
Bessie-kompot (sien bo)
125 – 200 g bloukaas
Granaatpitte
Pekanneute
Het Vlock Casteel Balsamic Reduksie as garnering

Metode: 
Maak eerste die kompot: Plaas die bessies, rosynties, rooiwyn, gemengde spesery, kaneel, nageregstroop en druiwestroop in 'n klein kastrol, bedek met 'n deksel en laat prut. Kook vir 10 minute, haal die deksel af en laat prut totdat die wyn tot 'n baie klein hoeveelheid verminder het, maar nie heeltemal verdwyn nie. Verwyder van die hitte en hou eenkant om af te koel. (Gooi oor na 'n glashouer met 'n deksel en verkoel tot dit gereed is vir gebruik, as jy dit nie dadelik gaan gebruik nie.)

Bedruip die beesfilet aan beide kante met olyfolie en geur goed met sout en peper. Voorverhit 'n ysterpan of kleefvrye-pan tot dit baie warm is, rooster dan aan albei kante tot die gewenste graad van gaarheid.  (medium-gaar is ideaal vir filet.) Haal van hitte af en laat rus vir 5 minute of jy kan dit ook in die oond verder gaarmaak op 220 grade, indien dit nog nie gaar genoeg na jou smaak is voordat dit in skywe gesny / bedien word. 

Gebruik die Bessie-kompot, pekanneute, granaatpitte en swartpeper om die bord te versier.

Sit die filet warm voor, heel of in  medaljes gesny, bedek met bosbessie-kompot en gekrummelde bloukaas.

Vark-kotelette

Vark-kotelette

Aantal Porsies: 4-6 mense
Drankie Voorstel: Jakkalsvlei Merlot

Bestanddele:
6-8 vark-kotelette (Rib-tjoppie)
Sout en peper
Het Vlock Casteel Olyfolie
60 ml Het Vlock Casteel Bloubessie Balsamic Slaaisoous
2 E First Choice botter
2 E appelasyn
3 vars Knoffelhuisies
1 t vars gemmer
1 blokkie hoender- of groenteaftreksel 
250 ml warm water

4-6 aartappels saggekook
2 E botter
First Choice Sweetmilk Flavoured Cheese Spread
First Choice room
Sout en peper

4 pruime in heltes gesny
1 pakkie Baba vinkel 
2-3 groot rooi appels
2 rooi uie
Handvol Het VLock Casteel Balsamica Droë Olywe 
Vars Roosmaryn 
First Choice Botter 
Het Vlock Casteel Olyfolie 

Metode:
Neem die vark-kotelette (tjoppies) en sit sout peper en olyfolie daarop. Braai die tjopppies gaar aan albei kante, ongeveer ¾ minute aan ‘n kant. Haal dit uit die pan en hou eenkant op ‘n bord.

In dieselfde pan gooi jy nou die botter, heuning, appelasyn, knoffel, vars gemmer en die groente-aftreksel. Laat dit afkook en prut tot ‘n reduksie. Plaas die vleis weer terug in die reduksie.

Kook die aartappels tot sag en voeg die room, botter, kaassmeer sout en peper by en maak die aartappels fyn.

Vir die gebakte groente, sny alles in groterige blokke op en plaas al die bestanddele op ‘n bakplaat, gooi die gesmelte botter en olyfolie oor met sout en peper en plaas dit in die oond op 180 grade vir ongeveer 20-30 minute.

Haal uit die oond en bedien dit saam met die kapok-aartaappels en kotelette.

Whisky Bief Trinchado

Whisky Bief Trinchado

Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:  
2 kg steak (kombinasie van verouderde Rump en Ribeye) 
2 E sojasous
2 E Het Vlock Casteel olyfolie
2 E First choice botter
2 mediumgrootte uie, fyn gekap
10 knoffelhuisies
1 t rooipeper of rissiepoeier
3 lourierblare
2 k beesaftreksel
½ k Boplaas Whisky
½ k Boplaas Tinta Barocca
Sout en peper
Handvol ontpitte Het Vlock Casteel Olywe
1 k First Choice Room
1 Suurlemoen se skil (Gerasper)

Metode: 
Gooi die sojasous en van die olyfolie oor die vleis. Maak ‘n pan vuurwarm en seël al die vleis om die geur en sappe vas te vang. Deel die vleis in dele om te braai. Jy kan die botter en nog ‘n bietjie olyfolie gebruik. Na al die vleis geseël is, gooi die uie, knoffel, rooipeper, lourierblare, sout en peper by en braai tot die uie sag en gaar is.
Gooi nou die vleis terug in die pan, asook die beesaftreksel, whiskey en wyn. Laat die vleis op lae hitte prut vir ongeveer 45 min- 1 uur tot vleis sag is. Haal die deksel af en kook vir ‘n rukkie sonder deksel, sodat die sous dikker word. Gooi nou die room en handvol olywe in die pot. 
Dien op in bakkie met genoeg sous en grootblaar pietersielie as garnering.

Bloubessie en Vye Pavlova

Bloubessie en Vye Pavlova

Oond / Stoof Temperatuur: 120 grade 
Aantal Porsies: 6-8  mense
Lewer een groot pavlova of 8 kleintjies
Bestanddele:  
8 eierwitte
knippie sout 
750 ml strooisuiker
30 ml mielieblom
10 ml asyn
10 ml vanieljegeursel

1 Pakkie Ina Paarman Poeier Kaaskoekmengsel aangemaak met maaskaas
Vye 
Bloubessies
Granaatpitte
Pistasieneute
Het Vlock Casteel se Bloubessie-slaaisous
Heuning

Metode: 
Voorverhit die oond tot 150 grade en voer ‘n bakplaat met bakpapier uit. Klits die eierwitte en sout saam tot stywe punt net wil begin vorm. Voeg die strooisuiker bietjie vir bietjie by en klits tot al die suiker ingemeng is en stywe punte vorm. Meng die mieleiblom, asyn en vanieljegeursel saam en vou met metaallepel by die mengsel in. Skep lepels vol meringue op die bakplaat en vorm ‘n ronde pavlova.  Bak vir 15 min op 150 grade en stel die oond af en laat die meringue in die oond afkoel tot heeltemal koud. Verwyder die bakpapier en plaas die pavlova op ‘n opdienbord. 

Volg dan die instruksies op die pakkie van die kits kaaskoekvulsel en gebruik dit as vulsel in jou groot of individuele meringues. 

Vir versiering gebruik jy dan vye, bloubessies, granaatpitte, pastasieneute en Het Vlock Casteel se bloubessie-sous en heuning.

Lamsfrikkadelle in Thai Rooikerrie

Lamsfrikkadelle in Thai Rooikerrie

Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele: 
500 g gemaalde skaapvleis
1 sny brood
1 E Thai rooikerrie-pasta (beskikbaar by supermarkte)
½ suurlemoenskil, gerasper
1 t sout
Varsgemaalde swartpeper
Vars koljander, fyn gekap

Kerrie-resep:
1 klein bruin ui, in ses wiggies gesny
1 E rooikerrie-pasta
135 ml ligte klappermelk 
Vissous na smaak
Bruinsuiker na smaak
½ t vars gemmer
1 lang brandrissie, gesny as garnering 
Het Vlock Casteel Gepekelde knoffel 
1 t Het Vlock Casteel 'Olive On Fire' 

Garnering:
Rooi Pepers
Koljander 
First Choice Gewone Joghurt

Metode:
Maak 'n sny brood in 'n klein bak nat met water en druk dit fyn met ‘n vurk of sit brood in ‘n voedselverwerker om broodkrummels te maak. Voeg lamsvleis, broodstukkies (of vars broodkrummels), 'n eetlepel Thai rooi kerriepasta, gerasperde suurlemoenskil, sout en peper en vars koljander in 'n mengbak. Meng alles saam met die vleis. Rol 'n eetlepel van die vleis  in 'n bal en herhaal hierdie stap tot die vleismengsel almal in balle gevorm is.

Verhit 'n kleefvrye roerbraaipan oor 'n mediumhitte met 'n teelepel olie. Verbruin die frikkadelle effens. Haal uit die pan en hou eenkant.

In dieselfde roerbraaipan (jy wil dalk olie byvoeg as dit droog lyk), voeg ui en knoffel by en soteer tot deurskynend. Voeg 'n eetlepel Thai rooi kerriepasta by en soteer dit op lae hitte tot aromaties. Voeg klappermelk by en laat dit op lae hitte prut. As die sous begin borrel, geur met vissous en bruinsuiker na smaak. Asook die gemmer en Olive on Fire.

Sit die frikkadelle terug in die sous en laat hulle twee tot drie minute kook of tot jy tevrede is dat die frikkadelle gaar is. 

Strooi vars koljanderblare en gesnyde brandrissie oor en sit dit dadelik voor saam met geurige rys.  

Ontbeende Skaapboud in Pita-Sakkies

Ontbeende Skaapboud in Pita-Sakkies

Oond / Stoof Temperatuur: 120 grade 6 ure
Aantal Porsies: 6 – 8 mense

Bestanddele:
1 Ontbeende Lamsboud
5 Stokkies roosmaryn
10 ansjovis
‘n Handvol ontpitte Het Vlock Casteel olywe
Goeie kwaliteit sout
4 groot uie in kwarte gesny
2 knoffelhuisies in die helfte gesny
4 Lourierblare
500 ml Het VLock Casteel Olyfolie

Vars spinasieblare
Klein of groot Pita-pakkies

Tzatziki sous: 
1 k First Choice Gewone Jogurt
Bietjie knoffelsout, gewone sout en peper
Gerasperde komkommer
Meng alles saam

Metode:
Stop die ontbeende lamsboud met roosmaryn, ansjovis en olywe, smeer met die sout en bind dit saam met die kostou. Plaas die lamsboud in ‘n mediumgrootte pot waarin dit styf kan pas, prop die res van die pot met uie en knoffel knus om die boud. Gooi al die olyfolie rondom die lamsboud en plaas die deksel op. Bak in die oond op 120 grade vir ongeveer 6 ure, jy gaan die lamsboud begin ruik as dit gaar is. Verwyder die boud uit die oond, laat dit afkoel en verwyder die tou en sny of vlok die vleis.

Gebruik die pita-pakkies en opgesnyde vars spinasie en vul jou sakkies heerlik vir opdiening.

Salm Pasta met Swart Spaghetti

Salm Pasta met Swart Spaghetti

Aantal Porsies: 4 mense

Bestanddele:
400 g Norweegse gerookte Salm 
1 vars Suurlemoen
Vars Pietersielie, fyn gekap
Vars Aspersies, in botter gebraai
Botter
Sout 
Peper
Het Vlock Casteel Calamata of swart Olywe
Het vlock Casteel Olive Sprinkles

Metode:
Neem die Salm en sit dit op bakpapier op ‘n bakplaat, gooi suurlemoensap, swart pepper en botter oor en bak in die oond op 180 grade vir ongeveer 6-8 minute, afhangende van jou dikte salm. As dit uit die oond kom, kan jy dit uitmekaar vlok en eenkant sit vir opdiening.

Kook die swart spaghetti tot al dente, gooi van Het vlock Casteel se olyfolie oor, swartpeper en vars gekapte pietersielie. Meng goed.

Braai die aspersies saam met ‘n bietjie botter, sout en swartpeper in ‘n braaipan.

Vir opdiening plaas jy die aspersies eerste op die bord, dan rol jy die spaghetti op met ‘n lepel en vurk, en gooi van jou gevlokte salm oor die bord.

Vir garnering gebruik jy die olywe, vars pietersielie en swartpeper, vir ekstra geur nog ‘n bietjie van die Het Vlock Casteel se olyfolie.

Suurlemoenhoender met Groente

Suurlemoenhoender met Groente

Oond / Stoof Temperatuur: Hoe hitte 180grade
Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:
2 pakke van 4 Dye (Spar Select Hoender)
3 Vars suurlemoene 
Handvol Vars Roosmaryn
Sout en Swart Peper 
3 E Het Vlock Casteel Olyfolie
500 g Botterskorsie
350 g murgpampoentjies
150 g peul ertjies
110 g Edamame groenboontjies
Handvol Pekanneute
Vars pietersielie, opgekap

Metode:
Neem die hoenderdye en plaas dit in ‘n oondbak, gooi swart peper en sout oor asook olyfolie. Sny die suurlemoene in kwarte en sit ook in die oonbak. Voeg die roosmaryn bo-op die hoender. Maak die bak toe met oonddeksel en plaas die hoender in die oond op 180-200 grade vir ongeveer 60 minute.

Na ‘n uur kan jy die hoender oopmaak en vir so 10 minute op die roosterfunksie laat bak. 

Intussen laat kook jy die botterskorsie tot gaar en plaas op ‘n bakplaat om te rooster vir ongeveer 15 min tot goudbruin. Jy kan sout en peper en bietjie olyfolie oorgooi voor dit in die oond gaan.
Sit al die groen groentes saam in ‘n warm pan met botter, sout en peper en braai tot gaar maar steeds krakerig.

Plaas dan jou groente en hoender op die bord, en garneer met vars pietersielie en pekanneute.

Rump-Sosatie van Spar Espetada

Rump-Sosatie van Spar Espetada

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte 
Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:
2 x SparTender & Tasty Rump Espatada 
1 x Geelpeper
1 x Rooipeper
1 x Rooi ui
4-6 Aartappels, geskil en sag gekook
Vars Roosmaryn
Het Vlock Casteel Olyfolie
Het Vock Casteel Olive on Fire paste

Metode:
Neem Spar Tender & Tasty Beef Rump Espatada en sny in kleiner stukke. Sny die pepers in vierkantige stukke. Neem sosatiestokkies en laat lê in water vir ongeveer 20 min, vat dan die vleis en pepers en ryg dit op elke stokkie. 

Braai die sosaties op ‘n oop vuur of in ‘n warm pan of in die oond op roosterfunksie.

Neem die gekookte aartappels en sit in ‘n oondbak. Gooi die olyfolie, sout en vars roosmaryn oor die aartappels. Plaas in die oond op 180-200 grade en bak tot goudbruin. 

Dien alles saam op die bord met ‘n streep Olive on Fire paste. 

Tamatie-basis Pasta met Hoender

Tamatie-basis Pasta met Hoender

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 6  mense

Bestanddele:  
500 g Penne Pasta 
2 groot pakkies kersie- of rosa-tamaties
1 groot ui, fyn gekap
60 ml tamatiesous of pakkie tamatie-puree
30 ml soet rissiesous
1 E suiker
Sout en swartpeper na smaak
1 t origanum
1 E balsamiese asyn of suurlemoensap
180 ml water
4 hoenderfilette 
Handvol basieliekruid-blare

Garnering:
1 pakkie rosa-tamaties
2 wiele fetakaas
Olyfolie
Het Vlock Casteel Olywe 

Metode: 
Kook jou pasta tot sag en gaar. Spoel af met water en voeg botter, olyfolie en sout na smaak by. Hou eenkant tot opdiening.

Plaas die feta, tamatie met swart peper en olyfolie op ‘n bakplaat in die oond op 200 grade vir 20 min sodat dit rooster. Sodra dit gaar is, hou eenkant tot opdiening. 

Braai die uie in ‘n pan tot gaar en voeg die klein tamaties by, roer vinnig en gooi al die ander bestanddele, soos die tamatiesous, soetrissie-sous, suiker, origanum, balsamiese asyn, sout en peper asook die water by. Laat prut vir ongeveer 8-10 min of tot dit ‘n lekker dik sous vorm.

In ‘n ander pan word die hoender gaargemaak, gooi olyfolie, sout en peper vooraf oor die opgesnyde blokkies hoender en braai in pan tot gaar. Hou eenkant tot opdiening. 

Gooi nou die tamatiepasta-sous by die penne pasta en meng deur. Gooi laastens die basieliekruidblare by.
Jy kan die hoender byvoeg of jy kan dit met opdiening bo-op die pasta plaas.

Vir garnering plaas die geroosterde tamaties en feta met olywe en vars basieliekruid-blaar bo-op die pasta.

Wenk: Jy kan die dis as eenskottelgereg bedien. Die hoender kan ook met enige ander vleissoort vervang word. 

Bees-kortrib & Tamatiesmoor-Bredie met Blomkoolrys

Bees-kortrib & Tamatiesmoor-Bredie met Blomkoolrys

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
1 kg Bees Kortrib 
1 kg ryp tamaties
2 groot uie
1 rooi soetrissie
1 groen soetrissie
1 geel soetrissie
125 ml vars pietersielie, opgekap
20 ml suurlemoensap
30 ml bruin suiker
Het Vlock Casteel Olyfolie
Pietersielie vir garnering
3-4 Aartappels sag, gekook
2-3 Wortels, sag gekook
3-4 Murgpampoentjies, sag gekook

Blomkool en 2 eetlepels botter

Metode:
Kap die uie en soetrissies fyn en gooi in ‘n braaipan met olyfolie vir bruin braai.  

Sny die tamaties in blokkies en voeg dit en die pietersielie by die uie-mengel. Voeg sout, peper, suiker en suurlemoensap by. Laat prut op lae hitte vir ongeveer 30 minute tot ‘n dik smoor. 

Sny die vleis in groterige blokke. Plaas in ‘n oondbak met die tamatiesmoor bo-oor en sout en peper na smaak. Laat bak in die oond vir 2 tot 3 ure. Hou dop vir vog en gooi water by indien nodig.  

Voeg die groente vyftien minute voor die vleis klaar is by en roer deur. 

Voeg pietersielie bo-oor vir garnering.

Vir Blomkoolrys:
Kap die blomkool fyn, voeg 3 eetlepels botter in ‘n pan, saam met sout en peper en braai tot gaar, maar steeds krakerig. 

Thai Hoenderkerrie

Thai Hoenderkerrie

Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
6 Hoenderfilette 
3 Het Vlock Casteel gepekelde knoffelhuisies
Kerrieblare
4 stokkies seldery
1 stokkie sitroengras
1 t gerasperde gemmer
1 groen rissie
1 lemmetjie se skil
6 sprietuie
100 g koljander
1/2 t komyn
1/2 t witpeper
1/2 t sout
Olyfolie
1 blikke klappermelk
125 ml room
1 blokkie groente-aftreksel

Groente: broccoli en peulertjies vooraf geblansjeer. 

Metode:
Sny die hoenderfilette in groterige blokkies. Maak ‘n braaipan warm en seël. Maak net gaar aan albei kante tot so 80%. Haal die hoender uit die braaipan en hou eenkant. 

Neem al die ander bestanddele, behalwe die klappermelk en room en gooi alles in ‘n voedselverwerker. Jy kan dalk die koljander net fyner en kleiner opsny om makliker te meng. Verpulp alles tot gladde mengsel vorm. Jy sal die grasgroen kleur waardeer. 

Gooi dit in die braaipan met nog ‘n bietjie olyfolie. Braai vir so 1 minuut net om geure vry te stel. Voeg die klapperroom of melk by asook die room. Laastens voeg jy die hoender by en laat prut vir so 8 minute sodat die geure intrek. 

Bedien met rys en garneer met nog koljanderblare. 

Waldorf Hoenderslaai

Waldorf Hoenderslaai

Aantal Porsies: 6 mense
Bestanddele:
6 Hoenderfilette 
2 E sojasous
1 E suurlemoensap
Sout en peper
Olyfolie

Vir Slaai:
3 Pere
Groen pitlose druiwe
Seldery
Vye
Pekanneute
Bloukaas
Het VLock Casteel (Kaapse Jongens)

Slaaisous: 
Stukkie Bloukaas
2 E room
4 E mayonnaise
½ wiel feta

Metode: 
Marineer die hoender met sout, peper, olyfolie, sojasous en suurlemoensap. Braai die filette aan albei kante in ‘n braaipan tot gaar. 

Laat staan vir ongeveer 5 min en sny dan in repies. Sny en pak al die ander bestanddele soos per jou keuse op die bord uit. 

Die slaaisous bestanddele word net als in bakkie gemeng en saam met jou slaai voorgesit.
 

Gerafelde Vark-Taco’s

Gerafelde Vark-Taco’s

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte (180 grade)
Aantal Porsies: 8-10  mense

Bestanddele:  
2-2.5 kg Varkskouer
 ¼ k bruinsuiker
1 E paprika
1 E rissievlokkies
1 t sout
1 t knoffel of vars knoffel
1 t uiepoeier
½ t swartpeper
2 E appelasyn
¼ k Worcestersous
½ k Jimmy’s sous
330 ml cider
1 k water 

Salsa: 
1 wiel Feta
Rooi soetrissie
Het Vlock Casteel olywe
Rooi Uie fyn gekap
Koljander
Olyfolie 

Klein Tortilla wraps
Rooikool, fyn gekap
First Choice Mature Cheddar 
Vars Lemmetjie
Vars Koljander 

Metode: 
Plaas die varkskouer in ‘n oondbak of “Slow cooker”. Meng die droë bestanddele in ‘n bakkie en smeer oor die hele vleis. Mens die nat bestanddele saam en gooi rondom die vleis. Plaas in die oond vir 4 tot 5 ure.  Loer elke uur en half om seker te maak daar bly genoeg vog in die bak.

In die laaste uur behoort meeste van die sous weg te kook en te verdik. Hou dit so, want dit vorm later jou sous wat jy met die vleis deurmeng. As die vark klaar is, kan jy dit laat afkoel en uitmekaar begin trek. As dit gedoen is, meng dit met die sous in die pan. 

Vir die salsa sny jy als in blokkies en gooi in een bakkie en meng deur met ‘n bietjie olyfolie.

Nou gebruik jy  al jou ander elemente om die taco te bou.

Fênsie Franse Eierbroodjie

Fênsie Franse Eierbroodjie

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 4-6 mense

Bestanddele:  
1 Ciabatta Brood
6 Eiers, geklits
First Choice Botter en olyfolie
Sout en Witpeper
80 -125 ml First Choice Room
Vars Vye
First Choice Maaskaas of Roomkaas
1-2 Pakkies roketblare
2-3 pakkies spek
2 Avokado’s
½ blikkie Rooi botterbone
Het Vlock Casteel se “Creamed honey”
First Choice Heuning
Balsamic glasuursel 
Swartpeper en sout

Metode: 
Sny die Ciabatta in 1 cm dik snye. Klits die eiers, sout en peper saam en gooi dit in ‘n groterige vierkantige bak sodat jy die broodjies vinnig daarin kan doop. Braai die aparte snye brood gaar aan albei kante in die pan met helfte botter en helfte olyfolie. Die plaat se hitte moenie te hoog wees nie, anders brand die botter maklik. 

Vir opdiening:
Gebruik al die ander bestanddele en plaas op mekaar. Eerstens smeer jy elke sny brood met maaskaas, dan roketblare, avokado en spek. Herhaal as jy genoeg bestanddele het. Heel bo sit jy ‘n vy met geroomde heuning. 

Bedruip die res van die broodjie met gewone heuning en balsamiese glasuursel, maal swartpeper oor en sit die rooi botterbone langs die kant. 

Skaapboud met Aartappels, Groenbone en Wortels

Skaapboud met Aartappels, Groenbone en Wortels

Oond / Stoof Temperatuur: 180 grade
Aantal Porsies: 6-8 mense

Bestanddele: 
100 ml Mayonaise
100 ml Blatjang
50 ml Worcestersous
30 ml suurlemoensap
1 t growwe swartpeper
1 t sout
1 t vars fyngekapte roosmaryn.

As die boud groot is, kan jy die hoeveelhede vermeerder in verhouding. Meng goed saam en smeer die mengsel reg rondom die boud en plaas in oondskottel.

Kap 2 uie fyn
2 klein groenappels of 1 grootte in blokkies gesny
3 wortels in skywe gesny

Gooi alles rondom boud.

50 ml appelsap
100 ml sterk rooibostee
Gooi rondom die boud
 
Metode: 
Plaas deksel op oondskottel en sit die boud in die oond teen 200 grade vir die eerste half uur, draai oond dan af na 180 grade vir verdere 1 en half uur. 

Haal uit, draai boud om en plaas die Aartappel-kwarte in lengtes gesny al om die boud. Vul vog aan met rooibostee soos nodig. Soms maak boud self vog, moenie dat vog in pan te veel of te min raak nie. Aartappels moet half in vog lê. Bak nou verder vir nog 1uur teen 180 grade. Draai boud terug op sy oorspronklike kant en draai aartappels versigtig om.  Na 4 ure behoort die boud gaar te wees.  

Indien jou boud en aartappels nog nie verbruin het nie, kort dit nog 'n uur in die oond. Hierdie is die “Slow Cook” metode. Beheer die tyd en vog na gelang van jou oond se hitte. Eintlik word hierdie lamsboud of skaapboud net op sy eie gaar en verbruin self tot perfeksie. Meestal het die boud nie nodig om onder oondrooster gesit te word nie, maar dit kan gedoen word wanneer nodig vir bros-verbruining. 

Verpulp die sous in die oondpan. 

Skil en blansjeer die groenbone en wortels en braai net in ‘n bietjie botter saam met die Dukkah om die geurigheid te kry.

Gerookte Varknekrol met Aspersies en Camembert Filo-Pakkie

Gerookte Varknekrol met Aspersies en Camembert Filo-Pakkie

Oond / Stoof Temperatuur: 180 grade
Aantal Porsies: 6-8 mense
Wenk: Jy kan aspersies vervang met enige ander groen groente
Bestanddele:  
1 Ontbeende Varknekrol
125 ml witwyn 
1 k rooibostee
2 E sojasous
1 groot groen appel,  gerasper
1 E gerasperde gemmer
80 ml gekapte pynappel 
1 E heuning
Swartpeper na smaak

Aspersies
Filodeeg
First Choice Camembert kaas
Botter

Metode: 
Plaas die varknekrol in ‘n oondpan. Voeg die rooibostee, wyn, sojasous, gerasperde appel en pynappel binne in die oondbak en maak toe met deksel. Bak teen 180 grade vir ongeveer een en ‘n half uur, afhangend van die grootte van jou varknekrol. Hou die vloeistof dop en indien dit te min is, voeg nog rooibostee of water by. Net voor die varknekrol uit die oond gehaal word, gooi die heuning oor en laat bietjie rooster vir kleur. Laat rus die vleis en sny dan in dik skywe vir opdiening. 

Neem die filo-velletjies en sny in vierkante. Verf gesmelte botter aan die buitekante van die filo-blaardeeg. Plaas ‘n stuk camembert-kaas wat in blokkies gesny is, in elk van die vierkante van die filodeeg. Vou die filodeeg en plaas in ‘n kolwyntjiepan. Bak in die oond vir ongeveer 5-8 min teen 180 grade. Hou dit dop, aangesien dit maklik kan brand. 

Vir die aspersies blansjeer net vir ‘n paar minute en gooi die water af. Braai dan vinnig in botter en swartpeper vir geur. 

Dien dan die elemente op soos verkies.

Sitrus-olyfolie en Roosmaryn-polentakoek met Pistasieneut-versiersel

Sitrus-olyfolie en Roosmaryn-polentakoek met Pistasieneut-versiersel

Oond / Stoof Temperatuur: 170 grade
Aantal Porsies: 8-10 mense
Wenk: Die geheim is in die 3 beslagte wat saam gemeng word, vou alles in met staallepel.
Bestanddele:  
5 eierwitte
150 g strooisuiker
5 eiergele
1 takkie roosmaryn fyn gekap
1 t vanielje-ekstrak
Skil van een suurlemoen
2,5 ml sout
150 ml Het Vlock Casteel olyfolie
65 g koekmeel
80 g polenta
50 g fyn klapper
2,5 ml bakpoeier
100 g vars wit druiwe

Metode: 
Berei 'n 20 cm springvorm pan met bakpapier en kleefsprei voor. Die sukses van hierdie koek lê in die voorbereiding van twee nat beslagte wat met die droë bestanddele gekombineer word. 

Klits die eierwitte met die helfte van die strooisuiker (75 g) tot stywe punte en sit eenkant.

Klits die eiergele saam met die gekapte roosmaryn, suiker, vanielje, suurlemoenskil en sout.

Klits die olyfolie in 'n stadig en bestendige stroom by die eiergeelmengsel - dit moet lig en donsig wees. Vou die eierwitte en geel olyfolie saggies saam met die nat mengsel daarin.

Sif die meel, polenta, klapper en bakpoeier oor die nat beslag en vou saggies by die mengsel in.

Skep die mengsel in die voorbereide bakvorm en druk die wit druiwe saggies in die beslag (opsioneel).

Bak by 170 grade vir 30-35 minute, haal dit uit en laat afkoel.

Pistasieneut-versiersel:
Meng 250 g versiersuiker met 25 ml olyfolie en vir die res bietjie vir bietjie warm water to effens loperig. Giet saggies oor die koek en versier met 'n koppie gekapte pistasieneute. 

Biltong-pasta

Biltong-pasta

Aantal Porsies: 4-6  mense

Bestanddele:
500 g  Gekerfde Biltong 
Vars gerasperde Parmesaan of verouderde kaas
500 g Penne Pasta
Sout en Peper na smaak
1 Medium ui
1 Pakkie Bruin sampioene
1-2 knoffelhuisies
Botter en olyfolie
2 E biltongpoeier 
2 E botter 
1 blokkie beesaftreksel 
1 k kookwater
250 ml room 
1 botterskorsie in blokkies gesny en sag gekook
1 pakkie repiespek 
Groot pietersielieblare

Metode:
Kook die pasta tot sag en gaar. Spoel met water af en voeg botter, olyfolie en sout na smaak by. Hou eenkant tot opdiening.

Plaas die botterskorsie blokkies op ‘n bakplaat saam met die gekapte repiespek. Sprinkel met olyfolie en bak in die oond teen 200 grade Celcius vir sowat 20 min tot dit goed gerooster is. Verwyder uit die oond en hou eenkant tot opdiening. 

Braai uie, knoffel en sampioene in ‘n pan, skep uit en hou eenkant.  Gooi die room en beesaftreksel in dieselfde pan saam met die biltongpoeier, sout en peper en laat kook vir ‘n paar minute. Voeg nou die uie en sampioene terug en gooi ook die biltongstukke in die roomsous-mengsel.

Vir opdiening, skep pasta in bord en dan jou biltong- en roomsous  oor. Die botterskorsie, spek en pietersiele word gebruik vir garnering. 

Jy kan die dis in een skottel of bak opdien. 

Frikkadelle en Patats

Frikkadelle en Patats

Aantal Porsies: 4-6  mense
Wenk: Die Frikkadelle kan ook in burgers gebruik word. 
Bestanddele:  
500 g Beesmaalvleis
1 blokkie Weetbix 
¼ K beesaftreksel
1 eier 
1 E Worcestersous
1 groot ui gerasper
Sout en peper na smaak
1 E First Choice Smeerkaas
 Olyfolie vir braai
Patats
Botter 
Klein spinasieblare

Vir die kruie-slaaisous:
2 E rooi- of witasyn
1 knoffelhuisie
½ K olie
1 t Dijon-mosterd
1 t heuning
3 verskillende vars kruie (Kruisement, Koljander, Italiaanse pietersielie)
Sout en peper na smaak

Metode: 
Laat week die Weetbix in die beesaftreksel. Meng die eier, worcestersous, sout, peper en gerasperde ui in ‘n groot mengbak. Voeg die maalvleis en sagte weetbix by en meng goed. 

Neem ‘n maatkoppie en vorm die frikkadelle met jou hande. Braai die frikkadelle tot gaar in die pan. 

Sny die vars kruie en knoffiel in fyn stukkies en meng al die bestanddele in ‘n bak. 

Die patats kan jy skil, opkap en kook tot sag. Gooi ongeveer twee eetlepels botter en sout oor vir smaak. 

Met opdiening plaas die spinasieblare, patats onder en plaas die frikkadel bo-op. Bedruip met kruiesous.  
Copyright © Ontbytsake 2021 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site