Eloise Cupido
Eloise Cupido is ‘n veeltalige en veelsydige aktrise, TV-aanbieder, sanger, skrywer en seremoniemeester. Sy is Frans, Duits, Engels en natuurlik haar moedertaal, Afrikaans, magtig. Sy is gebore en getoë in die klein plattelandse dorpie Montagu, in die Weskaap en is al van kleins af kunssinnig. Sy het haar BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf met Frans en Duits as ekstra tale.
As TV-aanbieder, is Eloise welbekend vir haar werk in ‘Athletics Alive’, ‘Invent Yourself’, ‘Belboks’ ( ‘n regstreekse Musiekvideo versoekprogram) en die Leefstylprogramme: ‘Pasella’, ‘Kwêla’ en ‘Artcha’.
As TV-aktrise was Eloise in die internasionaal bekroonde ensemble mediese dramareeks, ‘Jozi H’, in ‘Vetkoekpaleis’ en ‘Generations’ te sien. Sy het ook rolle in ‘Die Vierde Kabinet’, ‘Arsenaal’, ‘It Rained Last Night’ en ‘Home Affairs’ vertolk.
Internasionaal is Eloise bekend vir haar werk in twee Duitse films, KöNIG OTTO vir SAT 1 en A SUMMER IN NEW ENGLAND vir ZDF. Sy verskyn ook in die films soos DOOMSDAY (met Rhona Mitra en Bob Hoskins), BEAT THE DRUM, THE LONG RUN, HIJACK STORIES en SHARK ATTACK.
Eloise is deesdae ook bekend as ‘n brilljante komediant! Sy was te sien in ‘Spekskieters’, ‘Kompleks 2’ en ‘Proesstraat’ en meer onlangs, COLOUR TV.
Die groot eer het Eloise in 2011 te beurt geval om die Aankondigingseremonie vir die 2018 Winter Olimpiese Spele aan te bied, saam met Jonathan Edwards (voormalige Olimpiese en Wêreld Kampioenskap Goue medalje wenner in die Driesprong).
Sy het in 2014 haar debuut musiekalbum, ‘Girl van die Klein Karoo’, bekend gestel.
Eloise is in 2016 getroud met Chris, haar ‘Kiwi’, soos sy hom noem en het 'n drie-jarige seuntjie wat haar op haar tone hou.
By Ontbytsake is Eloise die 'professionele' een soos Dawie haar noem... sy hou die dinge bymekaar, maar is geensins op haar mond geval nie. Haar vrolike, opgewekte geaardheid sorg vir 'n vars bries waar ookal sy haar bevind.