By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Ekonomie, speel speel...

Deur Dawie Roodt

Ekonomie, speel speel...

Indien jy nie al teen die tyd in ʼn diep depressie verval het nie, dan het jy eenvoudig nie opgelet wat in die land aan die gebeur is nie, veral die laaste twee weke. Die wanbestuur van die ANC geleide regering het ons ingehaal en die verval van die SA ekonomie is die onvermydelike gevolg.
Maar, in stede daarvan om net nog ʼn artikel te skryf oor ons verval, en daardeur die gemoedere nog verder te versuur, wat van ʼn meer opgeruimde artikel wat die wonder van “die ekonomie” beter illustreer? 

Anders as wat baie mense dink gaan “die ekonomie” nie oor goed soos rentekoerse, wisselkoerse, inflasie en “die markte” nie, ekonomie handel net oor een ding en dit is mense. Grafieke en formules word deur ekonome gebruik om mense beter te verstaan; dit is mense wat saak maak en nie rande en sente nie.

Om die waarheid te se, ek wil sover gaan om te se dat alle besluite altyd ekonomiese besluite is; selfs die besluit oor jou huweliksmaat. Die familieplaas help dalk om die besluit makliker te maak maar is ʼn huwelik nie ook maar ʼn transaksie nie? Liefde in ruil vir liefde!

Met die besef dat ekonomie oor mense gaan kan ons dalk baie in ons samelewing verander wat tot voordeel van ons almal kan wees. 

Baie hiervan staan bekend as spelteorie (Game Theory) wat nogal bekend gemaak is deur die Nobelpryswenner, John Nash, wat bekend gemaak is in die fliek A Beautiful Mind. 

Hier is ʼn paar voorbeelde:
Ons weet ons het ʼn groot probleem met korrupte staatsamptenare. Maar wat daarvan indien ons dit wettig maak om byvoorbeeld ʼn spiedkop om te koop? Met ons huidige reëls is daar ʼn ongesonde maar wedersydse voordelig verhouding tussen persone wat verkeersbeamptes omkoop en verkeersbeamptes. Ek betaal, byvoorbeeld, R100 omkoopgeld in stede van ʼn R1000 boete terwyl die spiedkop R100 ryker is. Beide partye is beter af en beide partye sal die verhouding in stand wil hou. Die verloorder is natuurlik die gemeenskap.

Maar wat kan gedoen word om hierdie stabiele verhouding te ontspoor? Wel, ons kan die daad van omkoop wettig, maar die daad om omgekoop te word moet steeds onwettig bly. Deur die reëls so te verander word die eens stabiele verhouding tussen omkoper en omgekoopte verbreek. Die omkoper, kan nou die verkeersbeampte gaan verkla en sy omkoopgeld terugeis en self nie vervolg word nie, maar die omgekoopte kan wel vervolg word. En siedaar, geen meer omkopery.

Nog ʼn voorbeeld. Wat daarvan as ons binnehandel wettig. Tans is dit onwettig vir iemand wat binnekennis van ʼn maatskappy het om in die maatskappy se aandele te handel voordat die publiek ook oor die kennis beskik. Byvoorbeeld, indien ek as direkteur met binnekennis aandele in my genoteerde maatskappy koop net voor goeie nuus van die maatskappy vrygestel word, dan is ek skuldig aan binnehandel wat strafbaar is.

Maar wat van die geval waar ek van plan is om aandele te koop maar omdat ek nou binnekennis het van slegte nuus, besluit ek om nie meer aandele te koop nie. Dit kom op presies dieselfde neer maar in die tweede geval is ek nie aan ʼn misdaad skuldig nie! 

Dus, slegs sekere tipe binnehandel is strafbaar. Maar indien ons nie meer binnehandel as onwettig beskou nie dan sal alle tipe handel aanvaarbaar wees of jy binnekennis het al dan nie. Daar is ook ʼn verdere voordeel daaraan om binnehandel te wettig. Markte bestaan reeds om deurlopend die “korrekte” prys van produkte (aandele) te bepaal.

Deur binnehandel toe te laat word alle ekonomiese agente (in hierdie voorbeeld ʼn direkteur met binnekennis) toegelaat om aan die mark deel te neem en deur, byvoorbeeld, weens sy binnekennis aandele te verkoop dra hy by tot die effektiwiteit van die mark.

Nog ʼn meer resente en praktiese voorbeeld. Ek verstaan dat gedurende die onlangse onluste het die prys van brood tot soveel as R40 per brood gestyg. Mense wat wel brood gehad het, het die situasie “uitgebuit” deur brood aan honger mense teen buitensporige pryse te verkoop. Daarom was dit geen wonder dat die kompetisie owerhede sommer dadelik aangekondig het dat “buitensporige” prysverhogings onwettig is en dat die skuldiges gestraf sal word.

Hierdie benadering is natuurlik hopeloos verkeerd! Die beste manie om wel seker te maak dat produkte beskikbaar is, is om dit die moeite werd te maak vir verskaffers om te voorsien, en niks verskaf soveel aanmoediging soos ʼn aantreklike winsgrens nie! As jy meer brood vinnig wil hê, dan moet jy toelaat dat hoe pryse aanbod aanmoedig. Die alternatief is lae pryse en geen brood! Terloops, in die ou Sowjet Unie was brood en ander verbruikersgoedere gereeld die goedkoopste in die wêreld, dit was net nie beskikbaar nie, maar baie goedkoop....

Natuurlik vertel burokrate ons dat hulle ons net beskerm, maar beskerming kom nie net teen ʼn hoe prys nie, beskerming het gereeld ʼn ander doel as om mense te beskerm. Byvoorbeeld, wetgewing vereis baie streng reëls wanneer dit kom by die oopmaak van bankrekenings, aangaan van selfoonkontrakte en die maak van beleggings en vele meer. Jy het nodig om jou persoonlike besonderhede te verskaf en inligting soos van waar die geld vandaan kom – die sogenaamde Fica vereistes.

Die amptelike redes is om terrorisme, misdaad geld, mensehandel en ander nare goed te verhoed en te ontbloot. Maar wat die burokrate jou nie vertel nie is dat dit belastingontduikers ook vastrek. Ek is al baie dekades in die geldbedryf, ek het nog nooit op iemand afgekom wat geld vir terroriste organisasies wil stuur nie, maar baie wat minder belasting wil betaal... Wetgewing dwing ons almal om SARS se werk te doen en sogenaamde “beskerming” is grootliks net die verskoning, belastinginvordering is die doel!

Terloops, “ooreenkomste” wat so dik soos die Bybel is, met organisasies soos selfoonmaatskappye, banke en ander instellings wat van die staat afhanklik is vir lisensies, is myns insiens beswaarlik werklike ooreenkomste. Die rede waarom ek so se is dat mens beswaarlik van ʼn ooreenkoms kan praat indien dit ʼn eensydige affere is; die verbruiker se keuse is, stem in tot al die voorwaardes van die gelisensieerde instelling of jy kry nie die diens nie – beswaarlik ʼn “ooreenkoms”! Alles in die naam van beskerming.

Miskien is dit tyd om ons bestaande reëls en wetgewing te hersien. Dalk is dit tyd om reëls rondom mense te skryf en nie tot voordeel van burokrate en groot gelisensieerde monopolieë en oligopoliee nie. Maar die belangrikste; waak teen burokrate wat ons wil beskerm.

Copyright © Ontbytsake 2021 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site