By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Weervoorspelling

25 September 2021

Weervoorspelling

SATERDAG
'n Trog van lae druk wat oor die westelike binneland ontwikkel sal bydra tot 'n paar wolke oor die wes en suidelike binneland terwyl die res van die land mooiweer bly. Middagtemperature oor die noordoostelike helfte van die land behoort in die middel 30's te draai.

SONDAG
Die binnelandtrog skuif verder oos met donderweeragtige wolke wat nou oor die sentrale binneland ontwikkel. Verder beweeg 'n kouefront oor die Kaap in met koeler weer asook 'n paar reënbuie, maar dit sal nie baie wees nie. Dit bly egter warm en droog in die noorde, veral in die Limpopo waar temperature bo 36°C verwag word.

MAANDAG
Die Atlantiese Hoogdruk rug suid om die land. Aanvanklik met neerslag op die Suidkus waarna dit kuslangs tot die Ooskus skuif en later tot KZN uitbrei. Dit bly egter min en lig van aard. Die binnelandtrog het intussen verder oos geskuif met KZN wat a.g.v. 'n bergwind eers warm weer (meer as 36°C) ervaar voor dit later begin afkoel. 

DINSDAG
Die Atlantiese Hoogdruk kry voelers van hoër lugdruk suid omland met neerslag wat tot Mpumalanga uitbrei. Dit sal ligte reënbuitjies wees wat af en toe uitsak (meer af as toe dink ek). Verder het die binnelandtrog intussen verbreed met omtrent die hele land wat bewolk tot gedeeltelik bewolkte weer kan verwag.

WOENSDAG
Die binnelandtrog hervorm oor die sentrale binneland met 'n strook donderweer wat dwars oor die land ontwikkel. Groterige knewels behoort by die Drakensberge op te staan. Verder sal die hoogdruk in die suide reënbuie teen die Suidkus bring. Die westelike deel van die land asook Limpopo bly sonnig en warm.

DONDERDAG
Baie soos die vorige dag, behalwe dat neerslag in die suide uit die weste begin opklaar en dat donderweer in die binneland ligter van aard word. Die westelike deel van die land asook die Limpopo bly sonnig en warm.
Copyright © Ontbytsake 2021 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site