Charlene Lackay: "Een ding op ‘n slag”
Op 20 Junie word Wêreldproduktiwiteitsdag gevier en word daar dikwels oor die geheim van produktiwiteit, tydsbestuur en die soeke na die perfekte werk-lewe-balans gewonder. Maar vir ontbytSAKE-aanbieder, volhoubaarheidsbestuurder en ma, Charlene Lackay, lê die antwoord juis daarin om minder op balans en produktiwiteitswenke te fokus.
Toe ontbytSAKE by Charlene inloer en haar uitvra oor hoe sy dit regkry om haar aandag aan elkeen van haar verskillende rolle te wy, antwoord sy: "Ek balanseer nie. Ek prioritiseer."
As iemand wat daagliks verskeie verantwoordelikhede moet hanteer, het Charlene besef dat dit eenvoudig nie moontlik is om alles gelyktydig te doen nie. Daarom fokus sy doelbewus op daardie taak wat op daardie spesifieke oomblik die belangrikste is.
"ontbytSAKE-tyd is ontbytSAKE-tyd. Momentum-tyd is Momentum-tyd. Wanneer ek daar is, gee ek my volle aandag aan die taak voor my.”
Dieselfde beginsel geld vir haar gesinslewe. Wanneer die naweek aanbreek, skuif haar fokus na haar gesin en kinders. "Naweke is familietyd. Dan fokus ek op my kinders en wat hulle nodig het."
Volgens Charlene is dit ondoeltreffend om voortdurend aan verskillende dinge tegelyk te probeer dink. "Jy kan net een ding op 'n slag doen. Doen daardie een ding wat gedoen moet word. Laat daardie ding sy gang gaan en die tyd inneem wat dit nodig het."
Vir haar gaan produktiwiteit nie oor om meer dinge in minder tyd af te handel nie, maar eerder om volledig teenwoordig te wees in wat op daardie oomblik aandag verg.
Charlene meen moderne tegnologie het baie dinge vinniger en makliker gemaak, maar dit het ook nuwe verwagtinge geskep. "Vandag is alles vinniger en makliker. Omdat mense vandag e-posse op hul selfone ontvang, verwag hul dikwels dat jy onmiddellik moet reageer. Maar dit is nie waar nie. Jy hoef nie dadelik aandag daaraan te gee nie."
Wanneer dit kom by produktiwiteitswenke en sogenaamde geheime vir sukses, is Charlene opvallend eerlik. Sy glo nie daar is 'n universele formule wat vir almal werk nie.
"Ek glo nie aan produktiwiteitswenke nie. Jou dag loop soos hy wil loop, en wanneer iets onverwags gebeur, is 'n produktiwiteitswenk die laaste ding waaraan jy dink."
Miskien is dit juis haar eenvoudige benadering wat haar suksesvol maak: wees waar jy is, fokus op wat nou belangrik is, en gee dit jou volle aandag.
soortgelykeARTIKELS
Soortgelyke artikels wat jy dalk weet will lees