“Wat sou Anika doen?” - Annette Botha gesels oor vriendskap, weer en nalatenskap.
ontbytSAKE-kykers het onlangs gereeld vir meteoroloog Annette Botha op die midweek-weervoorspellings gesien. Ons het by haar gaan inloer om haar beter te leer ken terwyl sy die pad voortsit wat haar goeie vriendin en voormalige kollega, Anika de Beer, met soveel passie gestap het.
Annette en Anika se storie het jare gelede op Universiteit begin, waar hulle ontmoet het terwyl Annette BSc Wiskunde studeer het en later Meteorologie as ekstra vak geneem het. Volgens Annette was Anika van die eerste dag af iemand wat almal laat welkom voel het. “Anika was iemand wat met almal vriende gemaak het. Sy was altyd vriendelik, altyd gereed vir ’n lekker geselsie en altyd bereid om te help as ons met werk of take vasgehaak het,” vertel sy.
Sy beskryf Anika as die uitblinker in die klas - iemand sonder wie baie van hulle waarskynlik nie hul Meteorologie-graad sou voltooi het nie. “Ek onthou hoe ek altyd gewonder het: ‘Hoe is sy altyd so gelukkig en vriendelik?’ Sy was regtig ’n sonskynmens.”
Ná universiteit het hul paaie weer professioneel gekruis toe Annette Kaap toe verhuis het en Anika by die Weerdiens begin werk het. Toe ’n nuwe meteoroloog later vir die span by eNuus en eNCA gesoek is, het Annette sonder huiwering geweet wie die perfekte persoon sou wees. “Ek het dadelik vir my baas gesê: ‘Anika de Beer is die perfekte mens!’”
Die twee het daarna byna vier jaar lank saam as meteoroloë en aanbieders in die mediawêreld gewerk - ’n tyd wat Annette vandag steeds as kosbaar beskryf. “Selfs daardie jare het ek steeds daagliks by haar geleer.”
Vir Annette beteken haar nuwe rol by ontbytSAKE baie meer as net nog ’n loopbaangeleentheid. Dit is ook ’n kans om voort te bou op iets waarin haar vriendin soveel passie gehad het. “Ek het nog altyd geweet Anika gaan die sterre bereik met haar passie en haar beroep. Toe ek hoor sy word deel van die ontbytSAKE-familie, het ek vir myself gesê: ‘Hulle kon nie iemand beter gekies het nie.”
Sy voeg by dat sy geëerd voel om deel te wees van die ontbytSAKE-verhaal en dat Anika steeds ’n groot inspirasie in haar lewe bly. “Soos altyd, wanneer ek onseker voel oor iets, vra ek myself: ‘Wat sou Anika doen?’”
Kykers gaan egter vinnig agterkom dat Annette ook haar eie unieke energie en sprankel saambring. Wanneer sy gevra word hoe sy positief bly, antwoord sy met haar kenmerkende humor: “Die lewe is te lekker om negatief te wees … en frons gee mens plooie!”
Vir haar gaan dit daaroor om altyd die mooi in die lewe raak te sien en elke dag met doelgerigtheid aan te pak. “In Anika se kort tyd op aarde het sy só ’n groot impak gemaak. Soveel meer as wat baie van ons dalk in ’n hele leeftyd regkry. Is dit nie maar wat ons almal vir ons kinders bid nie? Dat ons met die tyd wat ons het, werklik sal leef - met passie - en die Here se lig sal uitstraal.”
Annette glo ook sterk daarin om jong mense aan te moedig om hul passie te volg - selfs in uitdagende velde soos wetenskap en meteorologie. “Volg jou hart en volg jou passie. Die wêreld van wetenskap en akademie kan soms intimiderend wees, maar moenie bang wees om jou eie pad te stap nie.”
Vir haar is weerkunde veel meer as net temperature en voorspellings. Sy glo segmente soos weerSAKE speel ’n belangrike rol in mense se alledaagse lewens. “Weer raak elke mens se daaglikse lewe - van boere en besighede tot families wat net wil weet of hulle ’n sambreel moet vat of nie.” Sy meen platforms soos ontbytSAKE maak dit moontlik om wetenskap op ’n verstaanbare en menslike manier met kykers te deel. “As ons mense kan opvoed, help én laat glimlag op dieselfde tyd, dan doen ons iets reg.”
As Annette ontbytSAKE in net één woord moet beskryf?
“Stapelvoedsel.”
En hoe lyk haar ideale Saterdagontbyt?
“’n Sterk koffie en beskuit om die dag mee te begin. Daarna oorskiet-braaivleis gebraai met tamatie, ui en chutney, saam met ’n sagte eier en vars toast.”
soortgelykeARTIKELS
Soortgelyke artikels wat jy dalk weet will lees