ONVDJ banier
25 Jaar Ontbytsake

smulSake

Ons sjef, Corli Prinsloo, wys ons hoe om maklike geregte te maak met ’n lekker kinkel van haar eie om die dis net daardie ekstra lekkerte te gee om jou gesin en gaste mee te bederf. Kry die resepte hier.

Terug
Lamskenkels met Geroosterde Botterskorsie

4 weke gelede

Lamskenkels met Geroosterde Botterskorsie

Bestanddele

Genoeg vir 6-8 mense

4  E olyfolie
2 rooi uie, fyn gekap
3 selderystingels, fyn gekap
1 wortel, fyn gekap
2 E tamatie- of rissiepasta (brandrissies is opsioneel)
4 knoffelhuisies, fyn gekap
300 - 400 ml rooiwyn
500 ml lam- of beesaftreksel
1 bossie koljander, fyn gekap
2 steranys
6 - 8 lamskenkels op die been (ongeveer 200 g elk)
3 groot botterskorsies, bolvormige deel in 4 skywe/ helftes of kwarte gesny 
Geur met olyfolie, sout, peper, heuning en bietjie kaneel
50 g donker sjokolade
Bruin uiesop om die sous effe te verdik, indien nodig (opsioneel)
Kasjoeneute om voor te sit
Mikrokruie
Granaatpitte
sout
peper

METODE:
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Verhit die olyfolie in 'n groot kastrol oor matige hitte. Verlaag die hitte en voeg die rooi ui, seldery, wortel, brandrissie en knoffel by en soteer vir ongeveer 8 minute tot die ui sag is. 
Voeg die rooiwyn, lam- of beesaftreksel en koljander by, verhoog die hitte en bring tot kookpunt. Laat kook vir 2 minute om die wyn effens te reduseer en geur dan met sout en peper.
Voeg die steranys en dan die lamskenkels by die pan en verminder die hitte tot laag sodat die vloeistof saggies prut. 
Bedek die pan en plaas in die oond vir ongeveer 1 ½ tot 2 uur, draai die skenkels gereeld om sodat hulle eweredig kook, tot die vleis baie sag is. Die laaste 15- 20 minute kan jy die skenkels oop in die oond plaas sodat dit net ekstra kleur kry. 
Intussen, sprinkel die pampoenskyfies met 'n bietjie sout, peper, kaneel, heuning en olyfolie en braai in 'n voorverhitte oond vir 30 minute of tot goudbruin en sag. Hou warm tot benodig. 
Verwyder die skenkels uit die oondbak en hou eenkant warm. Gooi die steranys weg. Laat prut die sous, onbedek, vir ongeveer 5 minute tot dit reduseer tot stroperig. Roer die sjokolade by. Wanneer die sjokolade gesmelt het, verwyder die oondbak van die hitte en gebruik 'n stokmenger om die sous 'n bietjie te meng en ‘n gladder tekstuur te gee. 
Om voor te sit, plaas een skenkel op opdienbord. Gooi genoeg van die sous oor skenkel en sprinkel met die gekrummelde kasjoeneute oor die skenkel en gebraaide botterskorsie. Bedien met 'n geroosterde pampoenskyf aan die kant. 
Garneer met mikrokruie of pietersielie en granaatpitte. 
Sit voor en geniet.

onsGEMEENSKAP

Bly op hoogte van ons doen en late