Ons sjef, Corli Prinsloo, wys ons hoe om maklike geregte te maak met ’n lekker kinkel van haar eie om die dis net daardie ekstra lekkerte te gee om jou gesin en gaste mee te bederf. Kry die resepte hier.
Ons sjef, Corli Prinsloo, wys ons hoe om maklike geregte te maak met ’n lekker kinkel van haar eie om die dis net daardie ekstra lekkerte te gee om jou gesin en gaste mee te bederf. Kry die resepte hier.
2 weke gelede
Bedien: 6 mense
Bestanddele:
300 g Penne-pasta
1 E olyfolie
2 E ongesoute botter
1 groot ui, fyngekap
300 g portabillini sampioene, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
3 hoenderborsies (sonder vel en bene) (ongeveer 450 g), in blokkies gesny
Sout en peper, na smaak
2 E koekmeel
360 ml hoenderaftreksel
360 ml dubbelroom (dik room)
'n Handvol vars pietersielie, gekap (plus nog vir garnering)
250 g gerasperde mozzarella-kaas (jy kan ook helfte cheddar en helfte mozzarella gebruik)
30-50 g uie-sprinkel (“Crispy Onion Sprinkles”)
Varsgekapte pietersielie of sprietuie vir garnering
METODE:
Voorverhit jou oond tot 190°C. Smeer 'n oondbak (ongeveer 23 x 33 cm of 'n soortgelyke grootte) en hou dit eenkant.
Kook die penne-pasta in 'n groot pot met kokende, gesoute water volgens die aanwysings op die verpakking tot dit “al dente” is.
Dreineer die pasta en hou dit eenkant.Verhit die olie en smelt die botter in 'n groot pan oor matige hitte.
Voeg die gekapte ui en gesnyde sampioene by.
Soteer tot die uie deurskynend en die sampioene sag is – ongeveer 5 tot 6 minute.
Voeg die fyngedrukte knoffel by en soteer vir 'n minuut tot dit geurig is.
Skep die uie en sampioene uit in ‘n bakkie, in dieselfde pan braai die blokkies hoender, geur met sout en peper, en braai die hoender goudbruin aan die buitekant en gaar in binnekant – ongeveer 5 minute.
Voeg die uie en sampioene terug in die pan. Strooi die meel oor die hoender. Roer goed sodat alles met die meel bedek is.
Gooi die hoenderaftreksel stadig by terwyl jy aanhoudend roer om te verhoed dat klonte vorm. Voeg dan die room en vars pietersielie by. Roer aanhoudend en laat die mengsel prut tot dit effens verdik – ongeveer 5 minute. Geur na smaak met sout en peper, indien nodig.
Skakel die hitte af. Voeg die gaar pasta by die pan en roer tot die pasta goed met die romerige sous bedek is. Voeg die helfte van die gerasperde mozzarella-kaas by en roer net tot dit gesmelt en by die sous ingemeng is.
Skep die romerige pastamengsel in die voorbereide oondbak en versprei dit egalig. Strooi die oorblywende mozzarella-kaas bo-oor.
Bak in die voorverhitte oond vir 15 tot 20 minute, of tot die kaas borrelend en goudbruin is.
Haal die pastagereg uit die oond en laat dit 'n paar minute afkoel. Garneer met nog vars pietersielie, indien verkies.
Notas en wenke:
Moenie die verbruiningsproses oorslaan nie.
Om die hoender en sampioene te verbruin voor dit gebak word, is nie net vir die oog nie. Dit bou geur op. Daardie goudbruin kleur ontstaan deur die Maillard-reaksie (’n bietjie wetenskaplike towerkrag in die kombuis), wat aan die hele gereg ’n dieper fondament gee.
Sampioene is belangrik.
Ek gebruik hier graag klein sampioentjies, maar gewone wit sampioene of kastaiingsampioene werk net so goed. Sampioene is meer as net geurversterkers. Hulle is verbasend ryk aan voedingstowwe: laag in vet, hoog in proteïen, en propvol vesel, vitamiene en minerale. Selfs die stingels is die moeite werd om te gebruik. Hulle kook heerlik sag en voeg volume by sonder enige vermorsing.
Die sous sal in die oond verdik.
Wanneer jy die sous op die stoof roer, behoort dit slegs effens verdik te wees. Moenie bekommerd wees as dit nog ’n bietjie loperig lyk nie. Die meel en die stysel van die pasta sal in die oond aanhou werk om daardie romerige tekstuur te skep wat mooi aan die bestanddele kleef.
Kies jou pasta.
Ek is mal oor penne, want die klein buisies hou die sous vas; maar rigatoni, fusilli of skulpies is ook uitstekende keuses. Kies kort pastavorms wat goed behoue bly in die oond.
Voeg ’n bietjie groen by.
Vars pietersielie sorg vir ’n vars aanslag, maar jy kan ook spinasie byroer voordat jy dit bak as jy ekstra groente in die gereg wil hê.
stel voor
Bly op hoogte van ons doen en late
© 2026